Mynaktiwiteite deur oproerige gemeenskap ontwrig

Die Venetia-diamantmyn in Limpopo. (Foto: Anglo American/Facebook)

Die Venetia-diamantmyn in Limpopo se bedrywighede is al vir byna twee weke ontwrig weens stakende gemeenskapslede wat onder meer werk by dié myn vereis. Die myn vorm deel van die De Beers-groep.

Oproerige gemeenskapslede versper talle paaie in en om die dorpie Alldays en eis tolgelde van diegene wat probeer om by die myn uit te kom. Een van die myn se busse, wat werknemers vervoer, is ook verlede week deur lede van die gemeenskap aan die brand gesteek.

Lesedi Ntuli, woordvoerder van die betrokke myn, het aan Maroela Media bevestig dat die myn sy bedrywighede moes afskaal weens die voortslepende onrus.

Volgens Ntuli hou die gemeenskap se ontevredenheid verband met die provinsiale regering se versuim om hul grondpaaie te teer. Die betogers dring ook daarop aan dat meer werksgeleenthede by die myn aan plaaslike inwoners beskikbaar gestel moet word.

ʼn Inwoner het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media vertel dat die stakende gemeenskapslede aanvanklik eers al die nasionale paaie toegemaak het. Nadat boere in die gebied en werknemers van die myn alternatiewe roetes begin gebruik het, het hulle dié paaie ook versper.

“Hulle eis ʼn tol as jy wil deurgaan en as jy weier, bestook hulle jou kar met klippe en stukke staal,” sê hy.

“Talle mynwerkers, asook die myn se kontrakteurs, se voertuie het reeds skade opgedoen. Menselewens word in gevaar gestel.”

Volgens Ntuli het gemeenskapslede Woensdag een van die myn se kontrakteurbusse aan die brand gesteek. Niemand is egter in die voorval beseer nie. Die myn gaan skynbaar ook nie strafregtelike klagte teen die beweerde brandstigters indien nie.

“As ʼn myn wat in noue vennootskap met sy gemeenskap funksioneer, voer die Venetia-mynbestuur reeds samesprekings met die provinsiale regering, die plaaslike munisipaliteit en gemeenskapsleiers om hierdie kwessie op te los,” sê sy.

“Ons waardeer ons gemeenskappe, werknemers, vennote en belanghebbendes, en ons sal aanhou betrokke raak by kwessies wat deur die regte kanale na vore gebring word om ʼn vriendskaplike oplossing te vind sodat die veiligheid van ons gemeenskappe en ons bedrywighede by die myn verseker kan word.”

Betogings vlam die afgelope maand elke nou en dan op.

Dit is nog nie duidelik wanneer die myn weer ten volle sal funksioneer nie.

Protesoptogte oor watertekorte in Musina, wat slegs ʼn uur en ʼn half se ry van Alldays is, het ook verlede week gewelddadig geraak, nadat voertuie op plekke met klippe bestook is, talle paaie versper is en munisipale eiendom aan die brand gesteek is.

Die polisie het wel daarin geslaag om die betogings te ontlont en talle moeilikheidmakers is sedertdien in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jack ·

So gaan dit.Almal doen wat hulle wil.As jy nie jou sin kry nie breek en verwoes jy tot dat daar niks meer oor is nie.Voel julle ook dat die einde van SA baie naby is.Die uurglas loop leeg vir die ANC.

Marina ·

En dan blameer hulle ander mense omdat alles gebreek en verwoes is

Marius ·

Die plaaslike gemeenskap vra tolgeld op paaie wat nie aan hul behoort of deur hul instand gehou word nie. Is dit wettig en wat doen regering om hul in bedwang te bring ? Heeltemal niks. Hul maak dit net erger as die myn nie kan funksioneer nie gaan hy bankrot speel en dan sit almal sonder werk.

Christine ·

Natuurlik is dit nie wettig nie! Maar dit gaan die toekoms word – kartels en sindikate gaan die land regeer in die toekoms soos in dele van Suid-Amerika!

Burgermeester ·

Jy vra vir werk, maar in die proses beskadig jy die eiendom van die plek waar jy smeek vir werk. Die logika maak nie vir my sin nie.

B-Man ·

Jy staak nog selfs voordat jy in diens geneem word… watter werkgewer sal so iemand aanstel?

Burgermeester ·

Die antwoord op jou uitstekende vraag is … niemand met meer as twee breinselle.

Chivago ·

En indien hulle die werk kry, staak en brand hulle nogmaals vir verhogings, bonusse, vervoertoelae, kostoelae, mediese toelae ens, enigiets, solank hulle net nie hoef te WERK nie!

Christine ·

Dit gaan nie meer oor werk nie, dit gaan oor kriminele sindikate en om geld vinnig in die hande te kry.

Misky ·

Die myn respekteer die gemeenskap, maar die gemeenskap respekteer nie die myn en sy eiendom nie. Jammer, maar julle pluk nou julle eie lat.

casper ·

Maak toe die myn en vat julle geld oorsee — SA wil nie besighede he nie !!!!!

domheks ·

As hier nog polisie en ‘n regstelsel was sou dit nie so gegaan het nie!

Kokerboom ·

Die grootste gevaar vir RSA op die stadium is die ANC!!!Asook die verwoestende mentaliteit onder gemeenskappe gevestig! Wat gaan daaraan gedoen word?

Christine ·

Die ANC gaan oorgaan na volskaalse terrorisme en verwoesting wanneer hulle verslaan word by die stembus. Onthou, hulle was nog altyd net ‘n terrorisme organisasie en niks anders nie.

Wondermaarnet ·

Brand maar die vervoer uit en stap tot by jou werk. Geen simpatie met vandale nie.

Swerwer ·

Verwyder die wesens en sluit hul toe. DieANCis te sleg/slapgat om teen hul eie mense op te tree
die rede,hul sê hul aan om so op te tree. Kyk hoe vêr hul ons kan dryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.