Mynbedryf gee ekonomie ’n welkome hupstoot

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Foto: Hangela/Pixabay.com

Die ekonomie het in die tweede kwartaal van vanjaar met 3,1% gegroei nadat dit in die eerste kwartaal met 3,2% gekrimp het, wat vrese vir ʼn resessie laat opvlam het.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Dinsdagoggend die jongste syfers vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir die kwartaal tot einde Junie uitgereik en dit was positiewer as wat die meeste ekonome verwag het.

Die mynboubedryf het hoofsaaklik die groei in die tweede kwartaal aangedryf. Mynwese het met 14,4% gestyg en dit is dié bedryf se sterkste vertoning sedert 2016.

Dit is gevolg deur die finansiële sektor wat 4,1% tot die BBP toegevoeg het en die handelsektor wat met 3,9% gedurende die kwartaal gestyg het.

Landbou het egter met 4,2% gedaal. Statistieke SA het dit aan laer produksie-uitsette van gewasse en produkte toegeskryf. Dit was die sektor se tweede agtereenvolgende kwartaal wat dit ingekrimp het.

Volgens Michael Manamela, hoofdirekteur van nasionale rekeninge by SSA, het gesê die land se ekonomiese groeisyfer vir die eerste helfte van die jaar staan tans op 0,4%.

Die jongste nuus oor die BBP, ʼn ligstraal vir die plaaslike ekonomie, beteken ook Suid-Afrika het ʼn tegniese resessie vermy, wat sou plaasvind indien die BBP vir twee agtereenvolgende kwartale inkrimp.

Rand versterk op die rug van beter BBP-syfers

Volgens Bianca Botes van Peregrine Treasury Solutions het die rand in ʼn stadium 0,58% sterker verhandel teen ʼn vlak van R15,15 teen die dollar.

“Die verbeterde BBP-groei sal help om negatiewe sentiment teenoor Suid-Afrika te oorkom en kan ook help om die verwagte groeiverwagtinge vir die res van die jaar ʼn effense hupstoot te gee,” het Botes gesê.

Planne vir ʼn ekonomiese ommeswaai

Kritici blameer Suid-Afrika se voortslepende ekonomiese ellende deels op ʼn dekade van wanbestuur onder die leiding van oudpres. Jacob Zuma. Die ekonomie se inkrimping in die eerste kwartaal word weer toegeskryf aan die erge beurtkrag wat die land in dié tyd ervaar het.

Die tesourie het egter verlede maand ʼn ekonomiese bloudruk vir openbare kommentaar uitgereik wat ekonomiese groei sal bevorder. Die plan moet nie net die jaarlikse ekonomiese groeisyfer met drie persentasiepunte laat verhoog nie, maar sal na verwagting help om ʼn miljoen werksgeleenthede te skep.

Die tesourie verwag vanjaar ʼn BBP-groei van 1,5% in vergeleke met 0,8% verlede jaar en 1,4% in 2017.

Prof. Raymond Parsons meen egter die Suid-Afrikaanse ekonomie sal meer beleidsekerheid nodig hê om munt uit die positiewe BBP-syfers te slaan.

“Die beter as verwagte BBP-syfers is goeie nuus vir die ekonomie, maar dit kom van ʼn lae basis en sluit die uiters ontwrigtende uitwerking van Eskom se beurtkrag in die tweede kwartaal in.

“Daar is geen grond vir ʼn gevoel van selfvoldaanheid oor die hoe groei in 2019 daaruit sien nie. BBP sal vanjaar waarskynlik nie veel meer as 0,6% oorskry nie en dit is veels te laag om die land se maatskaplik-ekonomiese uitdagings die hoof te bied,” het Parsons gesê.

Hy glo dit beklemtoon die noodsaaklikheid van dringende beleidshervorming wat vir ekonomiese groei nodig is en so gou as moontlik ingestel moet word.

“Om die jongste ekonomiese verbetering volhoubaar te maak en die ekonomie op ʼn pad van hoër groei te plaas, sal meer beleidsekerheid benodig om veral beleggersvertroue en werkskepping te verhoog.”

Parsons het gesê die tesourie se groeistrategie het die potensiaal om beleidsekerheid te verhoog, maar dan moet dit met ʼn plan ondersteun word.

“Dit is nou noodsaaklik om die nodige leierskap te bied en voldoende konsensus te bewerkstellig oor wat dringend gedoen moet word om die Suid-Afrikaanse ekonomie te versterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Ja shure???? Oms moet STATISTIEK SA glo dat hulle die WAARHEID, op grond van BEKWAAMHEID en BEVOEGDHEID weergee? SAL UITERS naief wees om te dink N RSA INSTELLING kan nog doen wat hulle MOES doen!

Pottie ·

Nou toe nou en daar help die myne ons om n resessie vry te spring die anc weet moodys wag vir november nou ewe skielik blink ons myne uit asb

Grahvern ·

Nie vir lank nie. Myne in noordwes retrench mense. Smancor het hulle oonde afgesit en stuur mense huis toe. Lonmin retrench. Myne in Brits gaan ook mense retrench. So 3de kwartaal gaan glad nie so goed lyk nie.

Pottie ·

Dankie broer is maar net die anc wat dink ons almal is dom dit is hulle groot probleem hulle weet als en ons niks

Anoniem ·

Dit lyk miskien na goeie nuus……maar as mens in ag neem hoe die mynbedryf die afgelope 5/6 jaar ekonomies agter uit ge gaan het, dan is hierdie bloot ‘n effense herstel, maar nog baie ver weg van volkome her stel van myne.

chrisjan ·

Ja daars groot “sports” nog oppad vir al die platinamyne.Wag en kyk maar.Amcu is nog ‘n faktor wat dinge deurmekaar kan krap.

Renier ·

Statistiek Suid-Afrika, jy sluk die blou pil, word wakker in jou knus bed en glo watookal jy wil.

Hennie ·

Dit moet erg wees om so te lieg soos dié spul! Dis soos om ‘n lappie te hekkel met modderwater! Die waarheid is dat die landbou – die bietjie wat oor is – die ekonomie aan die gang hou.

Nico K ·

Die swak rand help natuurlik die mynbedryf. Ek sien ook dat die platinum prys weer begin styg het. Die laaste paar jaar het dit baie gedaal. Min mense besef dat ‘n swak rand ook sy voordele het. In ‘n land soos Japan waar hulle meer uitvoer as invoer is dit vir hulle ‘n probleem as die yen te sterk word. Ongelukkig voer ons meer in as uit. En dus al hoe meer geld wat uit die land uitgaan.

liegstorie ·

ons werk op myn en hier gaan dit sleg as hulel kan se wie het gegroei lieg hulle soos tande trekkers ek weet van baie myne wat tans al hulle oonde af gesit het en hier by ons is almal af…en ons word retrench so hoe de hel groei dit???
hulle lieg vir julle

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.