Mynbedrywighede hervat ná Northam-geweld

Die gewelddadige betoging Maandag (6 Junie 2016) in Northam, Limpopo. Foto: SAPD

Die gewelddadige betoging Maandag (6 Junie 2016) in Northam, Limpopo. Foto: SAPD

Die bestuur van Northam Platinum het Woensdag gesê bedrywighede by sy Zondereinde-myn is Dinsdagaand hervat.

Die maatskappy het gesê werkers het vir nagskof aangemeld nadat Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, die myn Dinsdag besoek het as deel van voortdurende ingryping om vrede en stabiliteit in die gebied die herstel. Die myn het ook gesê dat die bedrywighede hervat is nadat die polisie twee verdagtes in hegtenis geneem het in verband met die moord op twee Zondereinde-werknemers verlede week.

“Northam het die SAPD gelukgewens met die vinnige sukses van hul ondersoek en ons onderneem om enige verdere bystand aan hulle te bied indien nodig,” het die myn in ʼn verklaring gesê. Paul Dunne, Northam se uitvoerende hoof, het gesê hy is dankbaar vir Zwane se ingryping om die vrede te herstel.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het dit ook verwelkom dat werkers Dinsdagaand vir diens aangemeld het en het gesê die unie is bly dat die werkers steeds betaal sal word vir die agt dae wat die myn gesluit was.

Bedrywighede by die myn is op 5 Junie gestaak nadat Mthetheleli Somaxhama (45), ʼn NUM-lid, in Northam sowat 20 km van die myn doodgeskiet is. Sy dood het aanleiding gegee tot verdere geweld waartydens Thembinkosi Mhlabeni (52) met ʼn assegaai doodgesteek is. Twee motors is ook aan die brand gesteek tydens ʼn betoging op die R510 tussen Northam en Thabazimbi.

Daar word vermoed dat die geweld veroorsaak is deur stryd vir lede tussen NUM en Amcu. NUM is tans die meerderheid vakbond met 80% van die werkmag terwyl Amcu 6,7% van die werkers by die myn verteenwoordig.

Lees alle vorige berigte oor die geweld by Northam op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ig ·

En einde van die maand staak hulle weer omdat hulle nie volle salaris kry nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.