Mynbedrywighede opgeskort ná vakbonde bots

Argieffoto

Argieffoto

Sibanye Gold het bevestig vier werknemers is beseer toe hulle Dinsdagoggend by sy Cooke-aanleg in Westonaria, wes van Johannesburg, deur onbekende persone aangeval is.

Sibanye het gesê twee van die vier werknemers is ernstig beseer en hulle ontvang behandeling by plaaslike hospitale. Dit het gebeur tydens ʼn onwettige staking wat Maandag begin het oor ʼn dispuut oor vakbondlidmaatskapverifiëring.

Die maatskappy het die Cooke- ondergrondse en oppervlakbates in Mei 2014 by Gold One Limited oorgekoop weens die beduidende hoeveelheid uraan en goud minerale hulpbronne en reserwes by die Cooke-aanleg.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het die leeueaandeel van lidmaatskap in die goudbedryf en stry om ʼn meerderheidvakbondstatus te bekom by die Cooke-aanleg met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), wat ongeveer 40% van Sibanye se personeellede verteenwoordig.

Sibanye het gesê die lidmaatskapverifiëringsproses, wat die vakbonde goedgekeur en deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer word, het twee weke gelede begin en dit duur steeds voort.

Ondanks bestuur se gesprekke met vakbonde en nadat die prosedure herhaaldelik verduidelik is, het ʼn groep werknemers egter Maandag tydens die nagskof met ʼn onwettige staking begin.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, het gesê dit is betreurenswaardig dat Amcu hierdie stappe gedoen het, terwyl alle werknemers ten volle op hoogte was van die verifiëringsproses.

“Ons is besorg oor intimidasie en geweld en doen ʼn beroep op alle vakbondlede om die regte van ander personeellede, wat graag wil werk, te respekteer,” het Froneman bygevoeg. “Ons is in gesprek met Amcu om hul besware aan te spreek. Die aanranding is onaanvaarbaar en ons ondersoek die voorval. Ons sal sterk optree teen die oortreders. Ons doen ʼn beroep op vakbonde dat hulle sal seker maak dat hulle lede selfbeheersing uitoefen.”

NUM het gesê hy is woedend en hartseer nadat twee van sy takleiers by Sibanye aangeval en kritiek beseer is. Mpho Phakedi, sekretaris van NUM in die PWV-streek, het gesê die vakbond se takleiers by die Cooke-aanleg het inligting ontvang dat Amcu-lede ʼn massavergadering in die Cooke 2-hostel beplan en dat hulle beplan om NUM-lede aan te val. “Die bestuur is hieroor ingelig, maar hulle het dit doelbewus geïgnoreer,” het Phakedi in ʼn verklaring gesê.

“Ons kan bevestig dat NUM-lede aangeval is en Sibanye Gold het niks gedoen om veiligheidsbeamptes te stuur om hulle te beskerm nie. Ons lede is gisteraand in hostelle aangeval en vanoggend toe hulle op pad was werk toe.”

Phakedi het gesê hulle eis antwoorde van die maatskappy en koppe moet rol.

“Ons wil weet hoe dit gebeur het dat ʼn groep mense ander kan aanval en hulle kan verhoed om werk toe te gaan. Ons het verneem dat ʼn paar lede van Amcu van Cooke 4 en ʼn skare werklose mense gehuur is om ons lede aan te val indien hulle werk toe sou gaan,” het Phakedi gesê.

Manzini Zungu, woordvoerder van Amcu, was nie beskikbaar vir kommentaar ná herhaalde pogings nie.

Alle aktiwiteit by Sibanye se Cooke-aanleg is ná die voorval opgeskort.

James Wellstead, woordvoerder vir Sibanye, het gesê hulle laat nie enige werkers ondergrond toe nie. “Die myn se bedrywighede kan nie voortgaan wanneer ons nie die veiligheid van ons werkers kan waarborg nie. Niemand is gisteraand ondergrond nie, en geen skofte het vanoggend begin nie,” het Wellstead bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.