Mynbestuur gekap oor vasgekeerde werkers

Die Beatrix-myn naby Welkom in die Vrystaat. Foto: Timothy Bernard/ANA

Teen Vrydagoggend is al 952 mynwerkers wat by Sibanye-Stillwater se Beatrix-goudmyn in die Vrystaat vasgekeer was veilig na die oppervlak gebring. Die voorval het egter verdere druk op ʼn bedryf geplaas wat reeds daarvan beskuldig word dat hy wins najaag ten koste van werkers se veiligheid – ʼn beskuldiging wat ten sterkste ontken word.

Maroela Media het vroeër berig die werkers by die myn was sedert Donderdagoggend ondergronds vasgekeer weens ʼn kragonderbreking wat veroorsaak is deur ʼn hewige storm wat ʼn kragtoring beskadig het op die lyn wat elektrisiteit verskaf aan myne in die Welkom-gebied.

Dit het daartoe gelei dat die hysbak in die myn nie gewerk het en kragopwekkers ook nie aan die gang kon kom nie. Die myn moes dus noodgedwonge kragopwekkers by die naburige Harmony Gold-myn leen totdat Eskom die kragtoevoer kon herstel.

Die 952 werkers wat gered is, het deel gevorm van ʼn span van 1 400 werkers wat Woensdag nagskof by die myn gewerk het. Geen sterftes is aangemeld nie.

Sibanye-Stillwater het intussen gesê die mynwerkers wat gered is, sal deeglike mediese ondersoeke en berading ondergaan en die myn sal sy bedrywighede volgende week hervat. Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het egter beswaar hierteen gemaak en daarop aangedring dat die myn gesluit bly totdat die werkers se veiligheid gewaarborg kan word.

Numsa het gesê die voorval is “die jongste bewys” dat die mynbedryf geensins daarna streef om veiligheidstoestande ondergronds te verbeter nie. “Hulle jaag wins na eerder as om op die welstand en veiligheid van werkers te fokus. Beatrix-myn moet gesluit bly hangende ʼn volledige ondersoek,” het die vakbond in ʼn verklaring gesê.

Die parlement se portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne is woedend dat die myn nie ʼn voldoende gebeurlikheidsplan gereed gehad het in geval van ʼn kragonderbreking nie.

“Hoewel ons kan verstaan dat die storm die verloop van die natuur is, glo die komitee dat ʼn omgee-bestuur, wat die lewe van sy werkers hoog op prys stel, die moontlikheid van ʼn kragonderbreking moes voorsien het,” het die komitee in ʼn verklaring gesê.

“Dit is uiters onaanvaarbaar dat ʼn ondergrondse myn waar die bedrywighede onder die lig van ʼn gloeilamp moet plaasvind sy versuim om werkers na die oppervlak te bring aan ʼn kragonderbreking kan toeskryf. Dit is aanduidend van die bestuur se houding ten opsigte van veiligheid.”

Die komitee het ʼn beroep op die departement van minerale hulpbronne gedoen om “drastiese stappe teen sulke onverskilligheid te doen”.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het ook sy stem by die kritici gevoeg deur te sê ʼn infrastruktuur-oudit moet by alle Suid-Afrikaanse myne gedoen word om ondergrondse ongelukke te voorkom.

Mynwerkers wat gered is word in busse weggery by die myn om medies ondersoek te word. Foto: Timothy Bernard/ANA

Livhuwani Mmamburu, die NUM se nasionale woordvoerder, het Vrydagoggend buite die myn gesê die vakbond is baie bekommerd oor die toenemende veiligheidsvoorvalle by die land se myne. “Dit is vir ons ʼn baie kommerwekkende situasie. As vakbond vra ons dat daar ʼn infrastruktuur-oudit by alle Suid-Afrikaanse myne gedoen word om te bepaal of hulle voorbereid is om kragonderbrekingsvoorvalle te hanteer,” het Mmamburu gesê.

“Daar is geen rede hoekom ʼn myn soos Beatrix nie nooduitgange kan hê as die hysbakke nie werk nie. Die feit dat die kragopwekkers ook nie ingetree het nie, is kommerwekkend. Dit is hoekom ons vra vir ʼn infrastruktuur-oudit sodat ons kan sien hoekom hierdie voorvalle gebeur.”

Mmamburu het verwys na ʼn voorval in 2007 by Harmony Gold se Kusadalethu-myn in Carletonville toe 3 500 mynwerkers ondergronds vasgekeer en gered is deur ʼn nooduitgang. Hy het gesê die hele mynbedryf moet leer uit daardie voorval en die nodige voorsorg tref.

Hy het Sibanye-Stillwater gekritiseer omdat hulle glo nie die vasgekeerde mynwerkers se naasbestaandes van hulle lot en die reddingspoging ingelig het nie en het gesê die vakbond moes ingryp om die situasie te hanteer.

Van die mynwerkers se familielede het Vrydagoggend gesê die myn het “geen empatie” nie en het ook nie moeite gedoen om hulle in te lig oor die welstand van hulle geliefdes en die situasie ondergronds nie.

“Ons is baie bekommerd oor die gebrek aan kommunikasie van Sibanye. Daar is geen rede hoekom die maatskappy sulke inligting van die familie moes weerhou nie. Ons kan getuig dat Sibanye nie ons lede se naasbestaandes ingelig het nie. Ons moes baie oproepe van bekommerde familielede hanteer wat by ons wou weet wat aangaan,” het Mmamburu gesê.

Intussen sal Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, na verwagting Vrydagmiddag die Beatrix-myn besoek waar daar aan hom ʼn verslag oor die voorval gegee sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eben ·

Baie intresant dat Eskom nie geblameer word nie. Dit is baie gerieflik om die skuld oo die myn te pak.

Annelize ·

Presies wat ek gese het by vorige berig maar is deur mede-lesers uitgehaal! Daar moet gebeurlikheidsplanne vir enige iets wees. Hoekom het die kragopwekkers nie gewerk nie? Dit is mense lewens wat op die spel geplaas word, baie dankbaar almal is veilig… Asb leer uit hierdie foute!

Koos1 ·

Annelize, ek sien jou punt en ek is ook bly daar was geen lewens verlies nie.
MAAR as mynwerkers staak vir R12500.00 per maand en aandring op hoë salaris verhogings en voordele, moet daai geld van iewers af kom, en gewoonlik is onderhoud die eerste ding wat daar onder lei, want sien, die myne mag nie personeel afdank nie. Verder het alle myne aandeelhouers wat baie geld in die myne belê het met die doel om wins te maak. As hulle nie winste kry nie, word die geld onttrek en dan vou die myn.
Ja, die kragopwekkers moes gewerk het, maar ek dink daar moet ook na ESKOM en hulle onderhoud gekyk word. Die myn alleen is nie hiervoor te blameer nie.

Corrienne ·

Ek hou Eskom en die myn beide ook deels verantwoordelijk Ooit het ek Eskom hoofkantoor besoek in Midrand, al wat die tegniese “hoogopgeleide” persone belang in stel is in hulle luukse motors en vrouens, rerig ek het myself vererg. Wat die myne betref die beste mynbou inspekteurs kon nie langer met “hulle” saamwerk nie, die inspekteurs was verneder en wasnie in staat die nuwe SA kultuur by aan te pas. Die mense werk nou op ander plekke of is in die buiteland.

Johann Marx ·

As mynwerkers nie onmiddelik na ‘n skof na die oppervlak gebring word nie, word die MYN BESTUUR verantwoordelik gehou. As 143 gestremde pasiënte na ongelisensiëerde NGO’s oorgeplaas word en sterf…….dan word niemand verantwoordelik gehou nie, en almal wys vingers na mekaar, en mompel “ek’t nie geweet nie”?? Die dubbel standaarde wat in hierdie donker Afrika landjie posgevat het, gaan sy ondergang beteken…

Attie ·

oky maak die myn toe,stuur cosatu om daar te gaan dans sodat nog n paar duisend mense hul werk verloor.

Chris Ws ·

As dit my myn was en die vakbonde gaan so tekere sluit ek hom!Laat die vakbonde dan die werkers vorentoe onderhou.

PJC ·

Blameer transformasie vir die kragopwekkers wat nie werk nie. By die meeste groot instansies kan goed wat nie werk nie toegeskryf word aan onbevoegheid as gevolg van transformasie wat ten alle koste deurgevoer moes word om getalle reg te kry.

Johan Bester ·

Ag man dit is lekker in sa.
Byt vas dit gaan nog lekkerder word wanneer rammie oorvat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.