Mynbou meer winsgewend, maar boubedryf sukkel

mynboubedryf-02

(Argieffoto: Wilhei/Pixabay)

Suid-Afrikaanse mynbouproduksie het teen die einde van verlede jaar sterk herstel nadat dit in die eerste drie kwartale van 2020 met 12,6% teruggesak het, lui begrotingsdokumente van die nasionale tesourie.

Die mynbousektor het gedurende die derde kwartaal van verlede jaar sterk herstel nadat plaaslike en internasionale inperkingsmaatreëls verslap is. Hoër kommoditeitspryse, veral vir goud en platinum, het met ʼn swakker rand saamgespan om plaaslike winsgewendheid die hoogte te laat inskiet.

Nietemin word verwag dat die Suid-Afrikaanse mynboubedryf, wanneer al die syfers vir 2020 in berekening gebring is, sy derde agtereenvolgende jaar van oorkoepelende inkrimping sal aanteken, met regulatoriese onsekerheid, gebrekkige belegging en elektrisiteitstekorte wat produksie én toekomstige belegging kniehalter.

Die vervaardigingsektor het met 14% teruggesak in die eerste drie kwartale van verlede jaar vergeleke met dieselfde tydperk in 2019. Ondanks tekens van herstel in die derde kwartaal van die jaar word prestasie in die sektor teruggehou deur gebrekkige aanvraag in die mark, met produksie wat in November vir die agtiende agtereenvolgende maand op ʼn jaargrondslag agteruitgegaan het.

Gereelde beurtkrag het uitset benadeel. Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch se vervaardigingsektor-sakevertroue-indeks het in die derde en vierde kwartale van 2020 weliswaar verbeter, maar dit bly onder die vlak van 50, wat onsekerheid oor die toekoms beteken.

In die vervoer- en telekommunikasiesektor het reële waardetoevoeging met 15,6% agteruitgeboer tydens die eerste drie kwartale van 2020, vergeleke met dieselfde tydperk in 2019.

Eskom se kragstasie in Lethabo in Sasolburg. (Foto: Mujahid Safodien / AFP)

Inperkingsmaatreëls weens Covid-19 op die vervoer van passasiers en vrag het aktiwiteit en prestasie in die vervoersektor teruggehou. In die nabye toekoms word verwag dat die toekenning van hoëvraag-dataspektrum die sektor sal versterk, met beurtkrag wat ʼn groot bedreiging vir vooruitgang inhou.

Die bousektor is hard geslaan deur die afsonderingstydperk, met reële waardetoevoeging wat met 20% afgeneem het in die eerste drie kwartale van 2020.

Vooruitsigte bly maar effe swak weens infrastruktuur-beleggingsyfers en gebrek aan vertroue by potensiële beleggers. ʼn Groot mate van groeipotensiaal is egter moontlik namate die regering se kapitaalbestedingsplan rigting kry, meen die nasionale tesourie.

Die finansiële en sakedienstesektor het met 3,4% teruggesak in die eerste drie kwartale van 2020 vergeleke met dieselfde tydperk in 2019. Die syfer is aansienlik minder erg danksy die ekonomiese herstel van die land nadat inperkingsmaatreëls verslap is.

Hoewel hierdie sektor een van die vasbyters in die Suid-Afrikaanse ekonomie is, kan verswakte ekonomiese toestande strenger maatreëls vir die verskaffing van krediet aan huishoudings en ondernemings noodsaak, wat die sektor kan demp, aldus die nasionale tesourie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.