Mynbouhandves ‘bevorder nie mededingendheid’

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne. Foto: Verskaf

Die jongste weergawe van die mynbouhandves is ʼn wesenlike verbetering op ʼn vorige weergawe, maar daar moet nog baie meer gedoen word om ʼn handves te skep wat mededingendheid, belegging, groei en transformasie bevorder, het die Mineraleraad van Suid-Afrika (MRSA) Sondag gesê.

Die raad het in ʼn verklaring gesê hy het op die handves se publikasie deur die departement van minerale hulpbronne (DMR) ag geslaan en belanghebbendes het 30 dae gehad om op die konsep te reageer.

Die MRSA ondersteun ʼn 30%-teiken van swart eienaarskap op nuwe mynregte, met aandele toegeken vir gemeenskappe, georganiseerde arbeid en swart entrepreneurs.

Die raad ondersteun egter nie sekere elemente van die nuwe weergawe van die mynbouhandves nie. Volgens die raad is die belangrikste hiervan dat sommige elemente van die handves nie mededingendheid bevorder nie. Sonder mededingendheid sal beleggings in nuwe eksplorasie en mynbou beperk word en die huidige mynbousektor sal steeds tot nadeel van alle burgers daal.

Dít is direk in teenstelling met pres. Cyril Ramaphosa se doelwit om $100 miljard in buitelandse beleggings in Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar te trek.

Die MRSA meen die handves bevat ook elemente wat ongrondwetlik en teenstrydig is met die Suid-Afrikaanse maatskappyreg. Die MRSA ondersteun nie die “vrydraende belang” van 5% wat aan werknemers en gemeenskappe toegewys is nie. Gegewe Suid-Afrika se volwasse mynbousektor, sal ʼn algeheel vrydraende belang van 10% op nuwe mynregte nuwe beleggings aansienlik ondermyn deur beleggingshindernisse te verhoog en te veroorsaak dat potensieel nuwe projekte nie meer lewensvatbaar is nie, sê die Mineraleraad.

“Die oplegging van ʼn vrydraende belang is ʼn openbare beleidskeuse wat opgeweeg moet word teen die allernoodsaaklike behoefte om belegging vir groei en werkskepping te trek. Die Mineraleraad glo daar is ander maatreëls om voordele aan gemeenskappe en werknemers te verseker wat nie die lewensvatbaarheid van mynbou in die toekoms sal ondermyn nie en sal dus voortgaan om met die DMR oor moontlike maatreëls te beraadslaag,” lui die verklaring.

Die MRSA is ook gekant teen die 1%-verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) wat aan gemeenskappe en werknemers betaal moet word. Dit is volgens hom nie aanvaar as aanbeveling deur die taakspan wat die handves bespreek het nie, dus kom dit as ʼn verrassing.

Die raad is ook verbaas oor die vereiste dat bestaande mynregtehouers binne vyf jaar hul SEB-eienaarskap tot 30% moet verhoog. Die raad ondersteun nie hierdie aanbeveling nie, aangesien dit bestaande regtehouers benadeel wat hul regte op grond van die 2004- en 2010-handves verseker het.

Die MRSA sê hy ondersteun die transformasie van alle elemente van die eksplorasie-en-mynbou-waardeketting, maar dat die toepassing van ʼn 30%- swart eiendomsdoelwit op nuwe prospekteerregte op groen terrein tot ʼn voortsetting van beperkte verkenning sal lei.

Die raad het ʼn beroep op die DMR en ander belanghebbendes gedoen om begrip te toon vir die beduidende behoefte om die mededingendheid van die bedryf te verbeter ten einde te verseker dat belegging, groei en die transformasie van die mynbousektor verseker word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

BEEWERKER ·

nou ja ek werk met die BEE op n myn ek sien hier kom nonsens oor 5 jaar gaan dit so erg word dat ek se julle alle myne gaan sluit…want dis hulle doelwit…

Newe kolonialisme ·

Die plan is dat die myne toemaak oor korttermyn and dat die Chinese en Guptas dit dan oorkoop, so kan die Chinese myne teen ‘n appel en n ei koop, briljante strategie. Dis wat die guptas met koornfontein myn gedoen het en hoe n paar platinamyne reeds in Chinese hande gekom het, maar die proses gaan nou versnel want gedult by ons nuwe koloniale moonthede raak min. Dit is algemene praktyk in Afrikalande soos Congo en Zambia.

Snowball ·

Liewe mnr die President, skryf “$100 miljard in buitelandse belegging” op jou maag, dan vee jy dit maar weer af met jou duurste hempie…. dalk kook die paddas in dié ou pot al, maar die paddas daar buite is SLIM…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.