Mynbouhandves-onderhandelinge ‘herstel Zwane se skade’

Argieffoto

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, het Dinsdag vir die tweede keer in drie weke belanghebbendes byeengebring vir gesprekke rakende die mynbouhandves.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê dit was ook die geleentheid waartydens die mynbouhandves-taakspan die prinsipale op die hoogte gebring het rakende die vordering van die handves-onderhandelinge wat onder leiding van Mosa Mabuza, handveskenner, plaasvind.

Handvesonderhandelaars is gebind aan ʼn vertroulikheidsooreenkoms rakende die  besonderhede van die onderhandelinge.

“Goeie vordering word wel gemaak rakende sleutelkwessies en die onderhandelinge, wat soms robuus raak, vind steeds in ʼn gees van wedersydse respek plaas,” het Du Plessis wel bekend gemaak.

Du Plessis het gesê hoewel die omstrede weergawe van Handves 3, wat onder leiding van die voormalige mynbouminister, Mosebenzi Zwane, opgestel is, as grondslag van die onderhandelinge dien, behoort die volgende weergawe radikaal te verskil van die Zwane-weergawe.

“Die Zwane-weergawe bevat talle onuitvoerbare en onrealistiese klousules en is ook vol foute en teenstrydighede wat nou uiteindelik ná 24 maande reggestel kan word,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis voer aan hoewel daar nog heelwat onderhandeling binne die taakspan en die prinsipale se forum moet plaasvind, het die samesprekings van die afgelope drie weke die belanghebbende partye tot opbouende dialoog gelei. ʼn Groot deel van die skade uit die Zwane-era is herstel danksy ʼn gevoel van samehorigheid wat weer onder die partye posvat.

“Die myn-en-konstruksiewerkersvakbond Amcu (Association of Mineworkers and Construction Union) se deelname is ook ʼn positiewe keerpunt, en dit maak georganiseerde arbeid se posisie in die onderhandelinge sterker. Dit verseker ook dat mynwerkers oor ʼn breër spektrum verteenwoordig is,” het Du Plessis gesê.

Hy meen daar heers wel kommer of die departement van minerale bronne oor genoegsame kapasiteit en senior kundigheid beskik om die monitering en volvoering van die nuwe mynbouhandves te bestuur.

“Benewens die twyfelagtige aanstellings wat Zwane in die departement en by statutêre instellings verbonde aan die departement gemaak het, ontbreek daar ook bykomende kundigheid op senior vlak. Terwyl die res van die staatsdiens met oorbodige personeel sit, sal minister [Gwede] Mantashe sy departement se kapasiteitsuitdagings moet aanpak. Een moontlikheid om die probleem doeltreffend aan te pak, is om die departemente van onderskeidelik minerale hulpbronne en energie weer saam te voeg om die poel van kundigheid te verenig,” het Du Plessis bygevoeg.

Die onderhandelinge duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.