Mynbouhandves verwelkom

Argieffoto

Die kabinet se besluit om die Wysigingswet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne te onttrek en die voorgestelde hersiene mynbouhandves vandeesweek te aanvaar, was ʼn reusestap in die rigting om regulatoriese sekerheid vir die mynbousektor te skep.

Só sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit. Du Plessis meen die inhoud van die mynbouhandves sal nie by almal byval vind nie en Solidariteit is self ongemaklik met sekere klousules, maar die finale weergawe is ʼn groot verbetering op die oorspronklike Zwane-weergawe.

“Alle mynbourolspelers het sedert Maart vanjaar ná Gwede Mantashe se aanstelling as minister vir minerale hulpbronne ruim geleentheid gehad om insette te lewer in die handves, en die gee-en-neem-beginsel het tydens die onderhandelinge gegeld.”

Solidariteit het aangedui hulle is veral dankbaar dat wit vroue weer ingesluit is in die definisie van “voorheen benadeelde Suid-Afrikaners” en dat die werknemeraandeelhouer-skema nierassig van aard is.

“Dit is juis laasgenoemde aspek wat Sasol se Khanyisa-skema, wat op ras gegrond is, soos ʼn seer duim laat uitstaan in ʼn tyd waarin nierassigheid juis bevorder moet word,” het Du Plessis benadruk.

Volgens Du Plessis is die voorsiening vir 5% se vrydraende aandele vir werknemers en ʼn soortgelyke toewysing aan myngemeenskappe ʼn klousule waarteen die mineraleraad en talle analiste gaan skop.

Daar moet egter daarop gewys word dat ʼn ooreenkoms tydens die handves se
taakspan-onderhandelinge bereik is wat voorsiening maak vir vrydraende aandele van 3% vir werkers en 3% vir gemeenskappe, wat ʼn totaal van 6% se vrydraende aandele beteken het.

“Twee weke nadat die ooreenkoms bereik en die gesprek afgehandel is, het die mineraleraad ongelukkig sy posisie na 1% se vrydraende aandele per begunstigde verander, wat op 2% in totaal neergekom het. Met dié skuif het die mineraleraad wel die beginsel van vrydraende aandele aanvaar, maar dié raad het te kwader trou die persentasie verlaag. In reaksie het die regering en vakbonde dit na 5% elk verhoog, wat op 10% in totaal neerkom. Die bykomende 4% wat nou by die vorige totaal van 6% gevoeg is, strek tot voordeel van werkers en gemeenskappe, maar moet toegeskryf word aan die mineraleraad se kortsigtigheid,” het Du Plessis gesê.

“Solidariteit is teleurgesteld dat die klousule wat voorsiening maak vir werkerverteenwoordiging op maatskappyrade ter elfder ure verwyder is, maar so was die onderhandelinge ʼn gee-en-neem-proses. Vakbonde sal wel sorg dat werkers se stem in die praktyk gehoor word,” het Du Plessis beklemtoon.

“Die finale handves het balanseerwerk geverg om verskeie belange te akkommodeer en die belangrikste is nou dat alle rolspelers dié aspekte in die handves waaroor daar ʼn positiewe gevoel is, omarm en uitbou, en dié aspekte waaroor ʼn negatiewe gevoel bestaan, bestuur en poog om dit te laat werk in belang van die mynbougemeenskap en Suid-Afrika in die geheel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willem ·

So hulle het die dooie takke afgesaag, kompos gegee en die snoeisker ingelê? Maar die boom moes eintlik uitgekap en vervang word, as ek nou reg verstaan.

AJ ·

Soos gewoonlik ” too little too late’!

Sedert die ANC Alliansie aan bewind gekom het het hulle meer as ‘n miljoen werkgeleenthede vernietig!!!

Nou dat die land oor die ekonomiese afgrond tuimel probeer hulle desperaat om die myne weer aan die gang te kry!

Ek is bevrees … dit is nou te laat!

smurf ·

eerste reel in sie handves moes gewees het ” geen stakings van enige aard nie. as “our people” ongelukkig met hulle werkinstandighede is, kan hulle bedank en daardie “golden oppertunity elders gaan soek. tweede: vring die 55+ witmans terug hulle kan nog werk en weet nog hoe.

Jerry ·

Dit is n riem onder die hart dat Solidariteit deel was van die mynboumanifes onderhandelinge wat in n wen-wen situasie geeindig het. Dit wys dat onderhandeling met die staat tog kan werk en dat ons moet onderhandel vir ons eie beswil of ons nou wil of nie! Ons is n wenspan en beskik oor puik onderhandelingsvermoe en bedingingskrag, ons besef dit net nie altyd nie! Die doemprofete kan dus nou vir n wyle uitspan en ontspan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.