Myne versoek om fokus op “Zero Harm” te verskerp

Argieffoto

Solidariteit het vandag sy kommer uitgespreek oor mynbouverwante sterftes en beserings wat gedurende 2019 aangemeld is, en myne aangespoor om hul poging, om die gesondheid en veiligheid van werkers te verseker, op te skerp.

Dit volg nadat die minister van minerale hulpbronne en energie, vandag die statistieke oor beroepsgesondheid en -veiligheid vir 2019 bekend gemaak het.

“Die mynbedryf strewe na zero skade daarom, alhoewel ons die verbetering in die getal sterftes en beserings verwelkom, moet ons nie vergeet dat ons steeds praat van 51 mense wat hulle lewens die afgelope jaar by myne verloor het nie,” het Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van strategie en volhoubaarheid by Solidariteit, gesê. “Hierdie afwaartse neiging in sterftes en beserings word verwelkom, maar ons doen ’n beroep op alle myne, mynbestuur en alle werkers om hierdie verbeterings te gebruik as motivering om hulle krag, fokus en toewyding tenoor ‘Zero Harm’ te hernu.”

Aan die einde van 2018 was daar 79 sterftes, terwyl 2019 afgesluit het met ’n laagtepunt van 51 sterftes – ’n verbetering van 37%. Dit is ook ’n verbetering van 36% teenoor die vorige laagste rekordjaar, 2016, waar dié betrokke jaar met 72 sterftes afgesluit is. Nog ’n bemoedigende aspek is dat daar gedurende 2019 geen mynrampe plaasgevind het nie.

“Daar was ook ’n 2%-afname in die getal beserings, van 2 447 in 2018 tot 2 406 in 2019. Ons is dankbaar vir die afname, maar steeds bekommerd dat dit slegs 2% is. Die aantal beserings word gewoonlik beskou as ’n indikasie van die gesondheid van veiligheidsbestuurstelsels en moet dus veel hoër wees; self hoër as die persentasie afname in sterftes. Dit kan beteken dat die afname in sterftes toegeskryf kan word aan suiwer geluk,” het Mardon verduidelik.

Die verslag toon dat die grootste oorsake van mynsterftes steeds grondvalle (rotsstortings) en vervoer in mynbou is, terwyl geen sterfgevalle deur brand of hitte veroorsaak is nie. Platinum is die kommoditeit met die meeste beserings wat met 10% gestyg het van 1 049 gevalle in 2018 tot 1 151 in 2019. Daar het ʼn verbetering van 19% ingetree in beserings in goudmyne van die 905 in 2018 tot die 732 in 2019, maar beserings in steenkoolmyne het met 33% van 169 (2018) tot 224 (2019) gestyg.

Mardon het toegegee dat mynverwante siektes rede bied om te vier, aangesien die statistieke ʼn verbetering van 23% getoon het. Die aanmelding van mynverwante siektes het ook die afgelope paar jaar verbetering getoon. Gevalle van gehoorverlies weens geraas het met 22% afgeneem; silikose-gevalle het met 29% afgeneem en longteringsgevalle het met 24% afgeneem. Beroepsiektes, en nie veiligheidsvoorvalle nie, was die oorsaak van 86% van alle mynverwante sterfgevalle.

Solidariteit wil die mynbedryf aanprys en ook krediet gee vir die goeie samewerking wat tussen die drieparty-belanghebbendes bestaan wanneer gesondheid en veiligheid in die myne ter sprake is.

“Ons doen weereens ʼn beroep op alle belanghebbendes in die mynbedryf – werkgewers, die staat en alle vakbonde met inbegrip van onderlinge medewerking tussen vakbonde – om hierdie samewerking te verbeter en om nie ontmoedig te raak in die nastrewing van zero skade in die mynbedryf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jonathan ·

Jammer ek klink nie te optimisties nie. Ek is seker daar was minder man ure gewerk agv krimpende mynsektor en beurtkrag. Dus behoort ongeluksyfers ‘n verbetering te toon.

Ben Wolmarans ·

Dit is net omdat daar nou minder mense op die myne werk

AndrewL ·

Volgens tv nuus was daar ‘n indrukwekkende verbetering in mynsterftes. Volgens hierdie artikel lyk dit meer of daar met statistieke gespedl was. 33% Toename in beseings by steenkoolmyne klink erg!

Gemaskerde Sopbeen ·

51 mense verloor hulle lewens in ‘n JAAR in die mynbedryf? 53 mense per dag word VERMOOR in Suid Afrika………….

Ben Wolmarans ·

Vra ek ook. Gee net aandag waar hulle steme kan werf.

John ·

Zero-sterftes is die perfekte wèreld waar menslike foute en streke nie meer voorkom nie. Sodra Afrika die ronde bal weer plat gemaak het of vierkantig met vyf hoeke sal alle probleme verdwyn… tensy mense dit op die kante waag… maar niemand sal nie… Glo my.

Rather ZERO PROFIT ·

Die kostes om ons myne te bedryf is ABSURD HOOG . . . omdat absurd streng veiligheids maatreëls vereis word. Dít skrik mynbou beleggers af.
Standaard internasionale mynbou veiligheids maatreëls, aanvaar dat daar “redelike” veiligheids maatreëls in plek moet wees.
Maar in Suid Afrika is die absurd hoë veiligheids maatreëls so duur & streng, dat beleggers eerder myne in ander lande oopmaak, waar slegs internasionaal aanvaarbare veiligheid praktyke, velang word.

Niemand wil sterftes hê nie, maar die TIPE bedryf, maak dit onafwendbaar & ‘n gegewe.
Vraag is; wil ons beleggings hê . . . of soveel “red tape” dat die internasionale beleggers eerder na ‘n “vriendeliker & meer toegeefliker, beleggings land” toe gaan met sy Dollars??

J J Schoeman ·

As die regering maar net so beheb was met padveiligheid, soos hulle die myne treiter om ‘n veilige omgewing te skep……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.