Mynsterftes 2017: Rede tot kommer

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag sy meegevoel oorgedra aan die families van die mynwerkers wat die afgelope naweek betrokke was in die tragiese mynongeluk by Kusasalethu.

Volgens Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van die afdeling Beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, is 2017 ʼn moeilike jaar in die mynbedryf met talle insidente wat plaasgevind het. “Dit is juis om dié rede dat ons die fokus op en toewyding aan gesondheid en veiligheid in myne nie genoeg kan beklemtoon nie,” het Mardon gesê.

Hy voeg by die mynsterftes vir 2017 staan tans op ongeveer 53, wat lyk na ʼn verbetering van ongeveer 11% teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar. “Wanneer die onlangse mynsterftes egter in berekening gebring word, lyk dit of die aantal sterftes van 2016 oorskry gaan word.

“Alhoewel die aantal mynongelukke afgeneem het, het die intensiteit van die voorvalle vererger, wat moontlik tot meer sterftes gelei het. Dit wil voorkom of die mynboubedryf besig is om sy fokus en toewyding ten opsigte van gesondheid en veiligheid te verloor,” het Mardon gesê.

Volgens hom kan die toename in mynsterftes toegeskryf word aan die eise wat die onderdrukte ekonomie aan die volhoubaarheid van die bedryf en aan mynwerkers stel. “Die toename in afleggings by myne hou verband met die afname in die fokus en konsentrasie van werkgewers. Werkgewers poog om afleggings te voorkom deur produksie te verhoog, en in die poging om dít te bereik, bly die implementering van die nodige veiligheidsmaatreëls agterweë, byvoorbeeld die versuim om ʼn risiko behoorlik te evalueer of om by voorgeskrewe prosedures te hou.”

Solidariteit doen ʼn beroep op werkgewers om hernieude pogings aan te wend om verdere mynsterftes te verhoed. “Dit is belangrik dat alle rolspelers in mynbou, op alle vlakke, ten volle verantwoordelikheid moet neem vir hulleself en vir mekaar, in ʼn volwasse gees van samewerking en interafhanklikheid,” het Mardon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sêmaarnet ·

Baie jammer vir al die families wat deur mynrampe by ‘n oop graf moes staan. Daarby is ek is nie ongevoelig nie maar wat van al die plaasmoorde waarvan die statistiek verseker baie meer kommerwekkend moet wees.

Tiger ·

Ek stem saam met Semaarnet.Die regering maak ‘n groot ophef oor veiligheid in myne maar swyg oor die bekamping van plaas aanvalle.Dis weer dubbel standaarde.Die myne spandeer biljoene aan veiligheid maar ‘n ondergrondse werkplek is nie ‘n kantoor nie.Wat doen die regering om padveiligheid te verbeter?Die meer as 14,000 sterftes op ons paaie elke jaar is maar okei.Die sterftesyfer in al die myne saam is BAIE minder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.