Mynsterftes in 2016 ‘teleurstellend’

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 73 sterftes is in 2016 in die mynbedryf aangemeld in vergelyking met 77 tydens die vorige jaar, het die departement van minerale hulpbronne Donderdag bekend gemaak.

Minister Mosebenzi Zwane het die statistiek oor gesondheid en veiligheid by Harmony Gold se Doornkop-myn, wes van Johannesburg bekend gemaak. “Dit is jammer, omdat ons glo dat die myne op die voorpunt moet wees wat betref die ontwikkeling van behoorlike stelsels en kundigheid om gesondheid en veiligheid te bevorder.”

Volgens hom is vier sterftes reeds sedert die begin van hierdie jaar aangemeld, waarvan die jongste voorval Woensdag plaasgevind het.

Altesaam 30 persone is dood in die goudsektor, 27 in die platinumsektor en vier persone in die steenkoolbedryf. Twaalf persone is dood by ander myne, insluitend diamant-, chroom-, koper-, en ysterertsmyne.

Dié syfer neem egter nie die drie mynwerkers in berekening wie se liggame steeds ondergrond vasgekeer is ná ʼn ineenstorting by Lily-myn buite Barberton in Mpumalanga op 5 Februarie 2016 nie. ʼn Ondersoek duur steeds voort in die geval, het Zwane verduidelik.

Die vakbond Solidariteit het intussen gesê geen noemenswaardige verbetering het ingetree in die getal mynsterftes nie.

Paul Mardon, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris van beroepsgesondheid en -veiligheid en volhoubare ontwikkeling, het gesê wat gesondheid en veiligheid in die myne betref, was 2016 ʼn teleurstellende jaar. “Alhoewel daar ʼn 15%-afname in beserings in 2016 (vanaf 3 138 gevalle in 2015 na 2 662 in 2016) was, bly die getal sterftes en beserings steeds onaanvaarbaar hoog. Dit gaan nie hier net oor die getalle nie; dit gaan hier oor menselewens, mense met geliefdes en afhanklikes,” het Mardon aangetoon.

Alhoewel statistieke vir 2016 ten aansien van beroepsiektes tans nie beskikbaar is nie, is syfers oor gesondheid in myne aldus Mardon ook kommerwekkend. “Gevalle van geraasdoofheid het vanaf 1 424 in 2014 na 1 493 in 2015 toegeneem en gevalle van tuberkulose het vanaf 3 460 in 2014 na 3 773 in 2015 toegeneem.”

Mardon het voorts aangedui dat grondstortings, transport en masjinerie en algemene ongelukke, wat gly-en-val-voorvalle, valvoorvalle vanaf hoogtes en brande met gepaardgaande blootstelling aan stof, gas en dampe insluit, die grootste bydraers tot die sterftes en beserings is. “Syfers ten aansien van sterftes gedurende onwettige mynboubedrywighede is nie beskikbaar nie, maar bied verdere rede tot groot kommer oor die veiligheid van mynwerkers.”

Volgens hom was 2016 ʼn uitdagende een vir mynbou weens die eise wat die ekonomie aan die volhoubaarheid van die bedryf en aan mynwerkers gestel het. “Die toename in afleggings by myne het ook tot ʼn afname in die fokus en konsentrasievlakke van werkers gelei.”

Mardon het bygevoeg daar was egter ook ander aspekte soos spanning tussen die mynhuise en die departement van minerale bronne oor artikel 54-werkstakings en wedywering tussen vakbonde wat verder bygedra het tot ʼn afname in die fokus en konsentrasie op veiligheid en gesondheid by die werkplek.

“Wedersydse vertroue en respek en goeie samewerking is onontbeerlik vir gesondheid en veiligheid by die werkplek en bogenoemde aspekte dra by tot die verbrokkeling daarvan,” het Mardon verduidelik.

“Dit wil voorkom of die mynboubedryf besig is om sy fokus en toewyding ten aansien van gesondheid en veiligheid te verloor. Solidariteit doen ʼn ernstige beroep op alle rolspelers in die bedryf om terug te keer na die basiese beginsels van gesondheid en veiligheid; om vanjaar alle ander oorwegings ondergeskik te maak aan gesondheid en veiligheid; en om hul fokus op en toewyding aan gesonde en veilige myne te verskerp,” het Mardon gesê.

Hy meen dit is moontlik om veilig en gesond by myne te kan werk, maar dan moet alle belangegroepe in ʼn volwasse gees van interafhanklikheid volle verantwoordelikheid aanvaar vir hulself en vir mekaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

vermeende ·

Gee die mune gas, SA goud produksie is nou 3.8% van GDP.
Moet tog net nooi sie sterftes toeskryf aan unies se onhaalbare eise nie want myne het ook net soveel geld, spandeer meer op lone en jy boet in op ander sektore soos veiligheid.
Duisende sal hulle werk verk verloor as unies nie deur die staat ingeperk word nie.

Jennifer ·

Vergelyk ons myne met China.daar word ongelukke stil gehou.

Topster ·

90% van myn ongelukke as dit ondersoek word is dit die werker wat nie prosedures gevolg het nie en gaan som die houding van werkers op dan sal mens gou sien wat is aan die gebeur.Dit gaan ook dit maak nie saak waar ek werk nie ek soek net n salaris op die einde van die maand.Ek het elke dag met dit te doen ek werk ook in die mynbedryf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.