Mynwerker aanspreeklik vir vyf se dood

Argieffoto

Argieffoto

’n Mynwerker van die Phakisa-myn buite Odendaalsrus in die Vrystaat is vroeër vandeesmaand skuldig bevind op vyf aanklagte van strafbare manslag.

Dit volg nadat vyf noodreddingswerkers, waarvan vier lede van die vakbond Solidariteit was, in 2010 gedurende ʼn noodlottige ontploffing tydens ʼn brand by die myn omgekom het.

Solidariteit het die departement van minerale hulpbronne tydens die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk bygestaan, en het die afgestorwenes se naasbestaandes met eise vir beserings aan diens bygestaan.

Volgens advokaat Hanlie van Vuuren, verbonde aan Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en veiligheid, het die veroordeelde mynwerker in die hof erken dat hy onwettig springstof ondergronds weggesteek en onreëlmatige skietwerk uitgevoer het. Hy het voorts erken dat laasgenoemde die brand veroorsaak het.

“Die springstof wat weggesteek is, het tydens die brand ontplof terwyl die noodreddingspan die brand ondersoek het. Om sake te vererger, het die mynwerker nie die nodige sorg aan die dag gelê deur die noodspan te waarsku teen die gevare van die versteekte springstof nie,” het Van Vuuren verduidelik.

Die streekshof in Kroonstad het die mynwerker ʼn boete van R40 000 of agt jaar tronkstraf opgelê, waarvan R20 000 of vier jaar gevangenisstraf opgeskort is vir ’n tydperk van vyf jaar, op voorwaarde dat die mynwerker in dié vyf jaar nie weer aan ʼn soortgelyke oortreding skuldig bevind word nie.

Van Vuuren het ʼn beroep op alle werkgewers en werknemers gedoen om ten alle tye veiligheidsmaatreëls en -voorskrifte in die werkplek na te kom. “Noodlottige ongelukke soos dié is so onnodig en kan verhoed word. Die handhawing van gesondheid en veiligheid in die werkplek is daarom ononderhandelbaar en daar moet streng teen oortreders opgetree word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Pompies ·

Dit is lankal tyd dat werknemers wat nie die beroeps wette nakom, kort gevat moet word.

Kellies ·

R20000-00 boete vir 5 se dood. Pateties verby. Die regstelsel behoort kom te skaam!!!

Uncle Buck ·

Sal seker ook nie se wie die mynwerker was nie en ja ek stem saam met Kellies, dit was blatante growwe nalatigheid van die mynwerker se kant af. Wonder net of die mynwerker vergoeding gaan betaal aan naasbestaandes vir hulle verlies aan inkomste. Vra maar net

Johan Prinsloo ·

Dit was my broer hul wat oorlede is in die ontploffing en die man se naam is Jan (Johan) Coetzee wat skuldig is, of altans die een van talle

Danny Jacobs ·

Ek’s was die Vice Capt van daai proto team en op verlof. My Capt wou gehad het ek moes saam gaan maar ek het by die reëls gebly en nie saam gegaan nie. Anders was my drie kids vandag ook sonder n pa.
Bly daai myner is skuldig gevind, net jammer die straf is te lig. Daai was moord. Hy ken die wette en het dit nie onderhou nie. Vandag mis ek my span maats.
Sterkte aan elkeen se vrou en kinders.
Aan al die proto teams, bly by die FIRE GOLDEN RULES.
Mines Rescue Services, hou aan met die hoë standaard van opleiding.
Ek mis dit en dankie vir die 13 jaar wat ek deel van die Wêreldse BESTE Redding spanne kon wees.
Proto groete
Danny Jacobs

Aj Prinsloo ·

Dit was my broer Johan Prinsloo & hul span wat oorlede is in daai ontploffing, wonder hoekom word die skuldige se naam nie genome nie, mar sy naam is Jan Coetzee

justin ·

Ek is ook deel van een van die families wat hulle seun, man, pa en broer moes begrawe.
R20 000 vir 5 gisinne wat sonder hulle geliefde die lewe moet aan durf elke dag.
R20 000 vir 2 dogtertjies 1 en 4 wat nie kan verstaan hoekom pappa nie huis toe kom nie. dan praat ek net van die gesin wat ek ken.

Die lewe gaan aan maar daar is vrouens en kinders wat nooit weer die selfde sal wees nie en die man loop weg met n R20 000 boete. En dit vir iets wat nie n ongeluk was nie, Plofstof was daar gelos met opset en mense het hulle lewens verloor.
R20 000 dink weer!

Ek dink ook ons moet almal mooi dink hoekom hulle daar was, nie vir plesier nie. Hulle was daar om lewens te red. en ek se LEWENS en dan kom een man se nalatigheid en hy neem 5.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.