Wilson Metsing, die taksekretaris, het gesê Ranthimo Nkosi is Woensdagoggend dood. “Ons kan bevestig dat Nkosi, ʼn Jonrik-kontrakteur by die Cooke 2-aanleg, wat aangeval en erg aangerand is deur beweerde lede van Amcu, dood is nadat hy ernstige kopbeserings opgedoen het,” het Metsing in ʼn verklaring gesê.
“Die NUM veroordeel ten sterkste die moord op een van sy lede deur hierdie boewe wat hulle as werkers voordoen. Dit is kriminele optrede.”
Die vakbond het die polisie versoek om dringend ondersoek in te stel en die skuldiges wat Nkosi doodgemaak het, vas te trek. “Ons doen ook ʼn beroep op Sibanye Gold om volle verantwoordelikheid vir ons lid se dood te neem aangesien hulle nie die sekuriteit kon voorsien om hom te beskerm nie. Die Sibanye Gold-bestuur by die Cooke-aanlegte was ingelig en gewaarsku oor die plan om ons lede aan te val, maar hulle het niks gedoen nie. Hulle het selfs versuim om die SAPD te ontbied om ons lede te beskerm.”
Twee NUM-taklede is aangeval en ernstig beseer toe hulle Dinsdagoggend op pad was werk toe. Dit het gebeur tydens ʼn onwettige staking wat Maandag begin het oor ʼn dispuut oor vakbondlidmaatskapverifiëring.
Sibanye Gold het gesê die lidmaatskapverifiëringsproses, wat die vakbonde goedgekeur en deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer word, het twee weke gelede begin en dit duur steeds voort. Ondanks bestuur se gesprekke met vakbonde en nadat die prosedure herhaaldelik verduidelik is, het ʼn groep werknemers egter Maandag tydens die nagskof met ʼn onwettige staking begin.
Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye Gold, het gesê dit is betreurenswaardig dat Amcu hierdie stappe gedoen het, terwyl alle werknemers ten volle op hoogte was van die verifiëringsproses.
“Ons is besorg oor intimidasie en geweld en doen ʼn beroep op alle vakbondlede om die regte van ander personeellede, wat graag wil werk, te respekteer,” het Froneman bygevoeg. “Die aanranding is onaanvaarbaar en ons ondersoek die voorval. Ons sal sterk optree teen die oortreders. Ons doen ʼn beroep op vakbonde dat hulle sal seker maak dat hulle lede selfbeheersing uitoefen.”
Die staking is Dinsdag afgestel en alle bedrywighede by die myn is Woensdagoggend hervat.
soveel aasvoels in die mynbedryf. Here wees due mynwerkers genadig.
Wanneer robotte binnekort mynwerk gaan oorvat, mag die geweldadigers hulle werk verloor en die goeies behou word.