Mynwerkers se lyke uit Orkney-myn gebring

Argieffoto

Reddingswerkers het Maandag die laaste liggaam van vier mynwerkers wat ondergronds vasgevang is by die Tau Lekoa-myn in Orkney, Noordwes, na die oppervlak gebring.

Die werkers het Saterdagmiddag tydens ʼn seismiese ongeluk gesterf toe hulle glo oortyd gewerk het. Die eerste liggaam is Saterdag uit die myn gebring, terwyl nog twee liggame Sondag na die oppervlak gebring is.

Die slagoffers was onderskeidelik van Kuruman in die Noord-Kaap, Sterkspruit in die Oos-Kaap en Lesotho.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het Maandag gesê hy is “woedend” oor berigte dat die myn opdragte van rotsingenieurs, wat ʼn paar dae voor die ongeluk ʼn inspeksie by die myn uitgevoer het, verontagsaam het. “Hierdie ongeluk, soos baie ander mynongelukke, kon verhoed geword het,” het Erick Gcilitshana, NUM se sekretaris vir gesondheid en veiligheid, gesê.

“Ons het inligting ontvang dat rotsingenieurs aanbevelings aan die myn voorgelê het oor hoe om veilig te myn. Ons versoek die departement van minerale hulpbronne om ʼn volledige ondersoek na hierdie voorval te doen. As die NUM sal ons verseker dat geen steen onaangeroer gelaat word nie.”

Gcilitshana het gesê mynmaatskappye moet verantwoordelik gehou word vir sulke voorvalle. “As vakbond het ons gedink ons begin ʼn afname sien in die getal noodlottige voorvalle [by myne]. Teen hierdie tyd verlede jaar is 52 sterfgevalle aangemeld, vergeleke met 41 gevalle reeds sedert Januarie vanjaar.”

Cosatu het Maandag gesê die Cosatu- en NUM-leierskorps het gekyk hoe reddingswerkers die reddingsprojek uitvoer. “Ons het waargeneem dat dit ʼn baie moeilike reddingsoperasie was en simpatiseer met die families wat deur hierdie tragedie geraak word,” het die vakbond gesê.

Cosatu het ook ʼn beroep op mynbase en die departement van minerale hulpbronne gedoen om die veiligheid van mynwerkers te prioritiseer om soortgelyke voorvalle te verhoed.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, sou Maandagmiddag die myn besoek het, terwyl Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, Sondag met die mynbestuur vergader het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

So wanneer is n o geluk bloot dit? N ongeluk? Of moet elke geleentheid vergryp word om politieke brownie punte te wen? Sien of hoor nie n minister by plaas moorde nie?

Oud-opmeter ·

In my tyd het dit ook gebeur dat voorstelle van geoloë verontagsaam word in gebiede waar die goudrif se posisie nie seker is a.g.v. verskuiwings. Belangrike prospekteergate word dan nie geboor ‘om kostes te bespaar’ en die hooftonnels ondergrond is dan op die verkeerde plek, gewoonlik té naby aan die goudrif en dit is ‘n groot gemors sodat daar verder terug ‘n draai in die tonnel gemaak moet word om op die regte plek te kom. Hierdie stuk tonnel is dus teen groot kostes gedoen maar niks werd maar die aandeelhouers weet nie hiervan. Daar is ook nou ‘n permanente onnodige draai in die tonnel waar die trokke en lokomotiewe gereeld ontspoor a.g.v. onnodige slytasie van spore en treinwiele.
Die bewering van die vakbonde kan dus moontlik wees.

snoefie ·

dat n tragedie soos die nou al ingespan word om op n politieke seepkis te klim is bekotsendswaardig. sies. alle simpatue en sterkte aan die wat agter bly. moet dit egter noem, dis opvallend dat nie een van die oorledenes n plaaslike inwoner is nie. kan num of cosatu dit verduidelik?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.