‘Beenmurg vir Kersfees’ 26-jarige se grootste wens

Daniella en haar ma (Foto: FAcebook)

Op 3 Maart vanjaar is Daniella van Zyl (26) met leukemie gediagnoseer. Sy onthou die eerste gedagte wat by haar opgekom het, was: “Ek is nie gereed om dood te gaan nie.”

Daniella het aan die begin van 2020 bloukolle op haar arms en bene begin opmerk. Sy het nie veel daarvan gedink nie, want sy erken dat sy soms lomp kan wees en haarself stamp sonder dat sy dit besef.

“Dit was eers toe ek klein bloukolle op my gesig en in my mond opgemerk het dat ek besef het dit is nie omdat ek teen goed vasloop nie, en dat iets anders fout was.”

Met die skokdiagnose het dokters gesê sy het slegs sowat ses tot agt maande om te lewe.

“Ons het ingestem dat sy baie rigied behandel word en sy het ʼn hoë dosis chemoterapie gekry. Ons wou alles doen wat ons kon om haar te help,” sê Van Zyl se ma, Debbie.

“Die eerste ding wat ek gedink het, is dat ek nie reg is om dood te gaan nie. En ek voel nog steeds so. Dit gee my net meer motivering om harder te probeer, en ek is nou op maand nommer nege met die Here se genade,” sê sy.

Daniella in die hospitaal saam met een van haar verpleegsters (Foto: FAcebook)

Daniella het reeds vier hoë dosisse chemoterapie, vyf beenmurgbiopsies, vier lumbale punksies en 17 bloedoortappings ondergaan, en nou is haar laaste hoop ʼn beenmurgoorplanting wat haar ʼn tweede kans op die lewe sal gee.

Debbie vertel dat Daniella in ʼn stadium gereed was vir ʼn beenmurgoorplanting, wat haar lewe kan red. Sy is oorgeplaas na ʼn ander hospitaal en hulle was gereed om die dokumente te teken toe hulle hoor dat hul mediese fonds nie die oorplantingskoste gaan dek nie.

Die mediese fonds dek slegs die oorplanting as die gepaste beenmurg van ʼn 100%-biologiese broer of suster af kom, maar omdat Daniella die enigste kind is, is dit nie vir haar ʼn opsie nie.

“Die oorplanting kos ʼn geskatte R1,5 miljoen as niks skeefloop nie, en as daar komplikasies is, kos dit sowat R2,5 miljoen,” sê Debbie.

Daniella en haar hond voor sy gediagnoseer is (Foto: Facebook)

Daarom het hulle besluit om ʼn rekening op die sakefinansieringplatform Back a Buddy oop te maak, om te poog om die geld vir Daniella se oorplanting in te samel. Die teiken vir hul insameling is R1,5 miljoen en die Van Zyls het tans net meer as R500 000 in die rekening.

Debbie sê daar is niks wat sy nie sal doen om haar dogter te probeer help nie.

“Enige ma sal vir jou sê jy kan nie geld op ʼn kind se lewe plaas nie. Ek was nog nooit op sosiale media nie, maar nou is ek daar, want ek smeek om hulp vir my kind.”

Daniella sê sy is nog altyd ʼn baie positiewe mens, maar dat haar situasie haar toets omdat dit vir haar soos ʼn ewigheid voel.

“Ons is nou op daardie laaste been en ons het net die geld nodig om ons aan die ander kant te kry. Dit is net ons geloof wat ons hierdeur dra.”

Daniella sê haar hoop is dat mense hul harte sal oopmaak sodat sy ʼn oorplanting as ʼn soort Kersgeskenk kan kry.

Om by te dra vir Daniella se mediese koste vir die beenmurgoorplanting, besoek haar Back a Buddy-veldtog hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maggies ·

Wat ‘n pragtige meisie. Ek hoop van harte dat daardie bedrag en méér so spoedig bymekaar gemaak word. Mag ons Hemels Vader Sy hand oor hierdie gesinnetjie hou en voorsien aan ál hul behoeftes. AMEN

Boerkind ·

Sal die Here nie tog asseblief hier ook genade betoon nie? Ek kan nie dink dat die mediese beroep so harteloos en geldgedrewe geword het nie… SKANDE!!! Terwyl die dokters/spesialiste/hospitaal weet dat die mediese fonds nie gaan betaal nie (ook ‘n SKANDE!) is daar nie een onder hulle wat die proses baie goedkoper kan aanbied nie? Nie EEN nie??

Deon ·

Dis regtig jammer om te se, maar, money makes the world go round….. Luister bietjie as hulle hul jaarlikse veslae bv op die radio uitlees. En al wat hulle daarmee vir my bewys is dat dit doodeenvoudig net nog n besigheid is, soos bv n goudmyn

Stefan ·

Komaan welaf mense, tel jul seëninge en dra mildelik by asseblief, dink net aan die tevrede gevoel as julle ‘n mens help red het.

Suretha ·

Maak bloed groep n verskil? Wat het ek nodig om n donor te word?

Dawid ·

Baie sterkte jou mooie kind. Gaan lê asb ‘n klagte by die Council for Medical Schemes, wat jou med fonds doen is ver verby onaanvaarbaar!

Veronika ·

Ai genade tog, dis so ‘n pragtige kind!! Dit maak my so vies, mens betaal vir jare en jare medies en dis nie goedkoop nie, en dan wanneer jy dit regtig nodig het, is dit die antwoord wat jy kry!!!! Dan praat ek nie eens van al die bybetalings nie. Ek voel hoekom betaal ek vir myself amper R3000.00 p/m vir medies en dan is daar eenvoudig vir als nog bybetalings ook en ek het dit in 20jaar (ja 20) nooit gebruik nie, en nou is ek op die stadium waar ek dit nodig het en die bybetalings is enorm!!??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.