ʼn Derde van Gautengse polisie mag nie wapens gebruik

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Daar heers groot kommer oor die operasionele bedrywighede van polisielede in Gauteng omdat net meer as die helfte van hulle bevoeg is om ʼn vuurwapen te gebruik. Dit beteken dat talle opgeleide polisielede in die kantoor sit eerder as om misdaad aktief te bekamp.

Die polisie het verlede week tydens ʼn voorlegging in die Gautengse wetgewer bekendgemaak dat sowat 61% van die polisielede in operasionele posisies in die provinsie bevoeg is om ʼn vuurwapen te gebruik. Hierdie statistieke is volgens die 2019-’20-boekjaar bekendgestel.

Die VF Plus sê hy gaan lt.genl. Elias Mawela, die Gautengse polisiekommissaris, versoek om ’n behoorlike ondersoek in te stel om vas te stel waarom soveel polisielede onbevoeg is om ’n vuurwapen te hanteer.

“Dit is onrusbarend omdat polisielede ten volle toegerus moet wees om wet en orde in die provinsie te kan handhaaf,” sê Kobus Hoffman, lid van die provinsiale wetgewer vir die VF Plus. “Tans is daar een polisielid vir elke 383 landsburgers beskikbaar, waar die internasionale syfer een vir elke 250 is. Deur nie ’n vuurwapen na behore te kan hanteer nie, stel ’n polisielid nie net sy eie lewe in gevaar nie, maar ook dié van die gemeenskap.”

Volgens die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) word polisielede verplig om elke vyf jaar ʼn vuurwapen-bevoegdheidsertifikaat in te dien. Indien die lid nalaat om ’n sertifikaat in te dien, word hy of sy verplig om kantoorwerk te doen. In sekere gevalle word ’n direktief deur die stasiebevelvoerder uitgereik wat die betrokke lid vrywaar. Dit verminder dus die getal polisielede wat beskikbaar is om misdaad te bekamp.

“Die Gautengse polisiediens kan nie toelaat dat polisielede wat onbevoeg is om ’n vuurwapen te gebruik, kantoorwerk doen terwyl daar ʼn groot behoefte aan beter polisiëring is om die publiek teen misdaad te beskerm nie.”

Volgens dr. Leon du Plessis, afgetrede polisiebrigadier, akademikus en misdaadkenner, kan daar verskeie redes wees waarom so baie polisiebeamptes nie die assessering vir hul bevoegdheidsertifikaat suksesvol voltooi nie.

Hy sê in sekere gevalle vermy lede opsetlik die opleidingsessies deur allerhande verskonings uit te dink om dit nie te voltooi nie. Hy sê daar word dan ook nie konsekwent dissiplinêr teen hulle opgetree nie. Hy sê ʼn algemene verskoning wat gebruik word, is die indiening van ’n siekbrief om só die opleiding mis te loop. Dit is dus ʼn gemaklike uitweg omdat lede wat nie oor die sertifikaat beskik nie, bloot nie operasioneel aangewend word nie en in die kantoor geplaas word.

Du Plessis sê soms ontstaan daar ’n tekort aan ammunisie of ander logistieke probleme, soos skietbane wat nie beskikbaar is nie of ver afgeleë is.

Volgens Du Plessis is polisielede wat nie oor die nodige vuurwapen-bevoegdheidsertifikaat beskik nie, ’n gevaar vir hulself, hul kollegas en die gewone publiek.

“Wapens is toerusting wat gereelde hantering vereis sodat die gebruiker vertroud bly met die meganisme, veiligheidsaspekte en afvuur daarvan. Indien ʼn persoon dit nie doen nie, is hy of sy geneig om huiwerig en onseker te wees om die vuurwapen in bepaalde situasies te gebruik. Hulle voel nie vertroud met die toerusting wat vir hulle meer gerusstelling hoort te bied nie,” sê Du Plessis.

Du Plessis sê polisiebeamptes in vandag se tyd kan nie misdaad in die land beveg of bekamp sonder ’n vuurwapen nie.

“Polisiewerk is uiters gevaarlik. Die kriminele het goeie wapens en is goed opgelei omdat baie van hulle oudmilitêre lede is. ʼn Vuurwapen in die hand van ʼn misdadiger is gevaarlik omdat hulle geen wet oor die gebruik daarvan volg nie en hulle geen etiese of morele standaarde het wat hulle sal verhoed om voor die voet te moor en roof nie.

“’n Polisielid moet ook kan staatmaak op sy of haar kollega om hulle in gevaarlike situasies te beskerm. Die publiek verdien ook om beskerm en gedien te word deur ’n polisiebeampte wat oor ʼn bevoegdheidsertifikaat beskik. ʼn Onseker polisiebeampte kan nie misdaad doeltreffend bekamp nie, en daarom kyk hulle weg wanneer misdaad gepleeg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kokerboom ·

“Baie goeie nuus vir boewe, baie slegte nuus vir publiek!!!”

Daleen ·

Nee wat Kokerboom dis nie nuwe nuus vir enige iemand nie. Hoekom dink jy is die boewe so selfversekerd in hulle optrede want hulle weet LANKAL die polisie is onbevoegd jammer om te se selfs om administratiewe take te doen. Wanneer laas het jy ‘n beedigde verklaring gaan afle. Skryf hom self en polisie teken en sit net stempel op – beteken NIKS.

Tjom ·

Moet dit nie eerder lees 61% is bevoeg nie, wapen of te not?

Dup ·

Dit is hoe die regering se transformasie proses werk.Verlaag alle standaarde tot op hulle vlak.Dan is almal gelyk in SA.

Heinrich ·

Gee hulle ‘n grasie-tydperk van ‘n maand tot nadat die sertifikaat verval het en plaas hulle dan op onbetaalde verlof. Baie van die werk wat in kantore gedoen word kan elektronies deur die publiek ingedien word, kort net ‘n intelligente stelsel.

Persheks Adri ·

Dan wil hoed ons eerlike burgers ontwapen pffft dit sal die dag wees! Pateties verby en ek sê weer hulle het nie vermoë om ons te beskerm nie. Wat ‘n skande vir die wat wel nog met trots werk die klein bietjie wat oor is

Elize ·

Ag nee wat, wat beteken ‘n polisieman sonder sy wapen?? Ontslaan hulle en stel bevoegdes aan. Die strate os so vuil. |Stel hulle aan om skoon te maak.

Jakes ·

Dit is nie n verrassing nie, hoeveel polisiemanne het kriminele rekords en hoeveel van hulle word dalk self deur die polisie gesoek vir misdade?

Ansie ·

Ek kan nie verstaan waarom hulle as polisielede aangestel word as hulle nie bevoeg is om wapens te hanteer nie. Dit behoort tog ‘n baiese vereiste te wees.

Genis ·

Vol punte vir KFC eet? Wat n skande! Dis amper soos verraad?

Zoey ·

Onthou net, deesdae word mense uit die private sektor aangestel onder die Polisiewet. Daai lid het geen opleiding voltooi nie, Dit word eers later gedoen. En dan is daar die gevalle, myself inkluis, wat jy gediagnoseer is met ‘n “geestelike afwyking” wat se vuurwapens teruggeneem word. Dis ongelukkig die realiteit dat daar nie na die psigiese welstand van polisielede gekyk was of word nie. Polisie selfmoorde en gesinsmoorde is altyd in die nuus. Maar al sit ek agter ‘n tafel, beteken ek nog steeds baie vir my kollegas daar buite op my eie manier.

Vernon ·

Waar het jy gesien weier om die opleidingsessies by te woon. Magties man,waar in jou lewe het jy dit gesien? Dan wed ek jou van die 61% is minder as die helfde ook nie bevoeg om n wapen te hanteer of kan nie lees of skryf nie. Sondag moes ek my eie verklaring skryf,lid was te arrogant om haar eie werk te doen! Ek is geevol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.