ʼn Eden tussen die blikkies

Gladina Galant waar sy gewoonlik sit en haar tjetjie’ drink. Foto: Verskaf.

“As jy bekeer is, moet jy ʼn tuin het. Want die tuin was mos in die begin gewees.”

Gladina Galant sit in haar tuin in Blikkiesdorp. Blikkiesdorp, ook bekend as Tin Can Town was oorspronklik ʼn tydelike hervestigingsgebied vir die destydse straatbewoners wat in Simfonieweg vir byna twee jaar gewoon het. Sy is een van die eerste inwoners van Blikkiesdorp, toe daar slegs ʼn Blok A na F was. Vandag strek dié blokke tot R. Gladina is ook die inwoner wat besoek word vir gebed, genesing, huweliksberading en soms, vir die groente in haar tuin.

“Ek verstaan hoe dit voel om nie iets te het om te eet nie. Toe het die tuin vir my voorsien. Elke dag was daar iets vir my om te eet.

“Eendag kom so ʼn groepie. Van hulle wat so uit my tuin steel. Dié dag kom vra hulle vir brood. Hulle is mos skaam om te vra. Een sal vorentoe gaan terwyl die ander hom van agter aanmoedig. Ek sê ek het net brood, maar het net niks om op die brood te sit nie. Waarop hulle my wys ek het tamaties. Maar dit is dan groen sê ek. Jinne, daardie dag sit hulle hier en byt die tamaties so oop en sit dit op die brood. So eet hulle die brood met die groentamaties op. Ek sê dankie, Here.

“Ek kry soveel antwoorde wanneer ek hier sit en my tjetjie drink en kyk na die plante. Dit is net die Hand van die Here” sê sy terwyl die alledaagse geluide van Blikkiesdorp haar herinneringe van lank gelede herroep.

Gladina Galant is in 1963 in Pofadder in die Noord-Kaap gebore. Haar oupa was ʼn herder en dit is by hom en haar ouma by wie sy grootgeword het.

“Ek het op die oewer van die Oranjerivier grootgeword” sê sy met ʼn breë glimlag en voeg by “maar ek is ʼn burger van Pella.” Sy lag.

Pella was voorheen ʼn Rooms-Katolieke sendingstasie en selfs voor dit, bekend as Cammas Fonteyn onder die San. Vandag is Pella vir baie reisigers ʼn oase binne ʼn droogtegeteisterde Noord-Kaap. Dit is in Pella waar Gladina in die 1980’s ʼn kleuterskool, genaamd Kabouterland, gestig het, en wat tot vandag toe nog as ʼn kleuterskool bestuur word onder ʼn nuwe naam, Feetjieland. Dit is ook in Pella waar Gladina in 1988 haar laaste ry tande laat trek het.

“Ek was geleer gewees jy mag nie jou tande borsel nie. Dit is net as jy ʼn jongmeisie is wanneer jy wil spog.”

Haar grootmense, soos sy na hulle verwys, het hulle ook grootgemaak met, “Jy kry nie ʼn goeie witmens nie. En die eerste witmens wat ek ontmoet het, was toe goed!” Sy lag.

Vanaf Pella het sy na die Transvaal verhuis, om juis vir hierdie goeie witmense te gaan werk. Daar het haar werkgewers haar ook aangemoedig om te begin hardloop.

“Ons het elke dag 10 km gehardloop. My eerste marathon was ʼn 21k m in Potchefstroom. Ek het in tyd klaargemaak, maar ek was laaste.” Sy gooi haar kop agteroor en lag. Voordat sy verder vertel, gaan haal sy haar lidmaatskapkaart van die Suid-Afrikaanse Amateuratletiekunie (SAAAU). Sy het ook tot vandag toe nog haar hardloopuitrusting gehou.

“Ek het vier marathonne vir PPC Slurry voltooi en wou die Comrades hardloop, maar toe raak ek swanger.”

Gladina het in die jaar 2000 na die Kaap verhuis. Sy het, onder meer, kombuiswerk, seisoen- en boswerk gedoen, kinders opgepas, en was selfs ʼn werknemer van Metro Cleaning Services in Kaapstad. Met die wye verskeidenheid van werke agter haar naam, is daar vandag net een beroep wat sy volg.

“Ek loop werk voltyds nou vir die Here. Julle moet mos weet by nou, julle moet net vertrou. En bely. Belydenis is julle behoudenis. Moenie net met jou lippe bely nie, jy moet in die egtheid uit bely. Hou jou gees skoon.”

Dit is die raad wat Gladina vir egpare sal gee wanneer hulle aan haar deur kom klop, en soos sy dit stel: “Hulle vuil wasgoed by my kom was.”

Selfs die bendes van P-blok kom soek haar op.

“My dierbare, ek loop wherever I want to, whenever I want to. Die Kaap wil vir jou leer om vir mense bang te wees. Ek ken nie van bang wees vir mense nie. I don’t care who you are, I know who I am.”

Daar was ʼn ander outjie, sê Gladina. Hy kom na my en sê: “Suster moet vir my bid, dan sal ek protected wees.”

“Hy vertel hy het ʼn visioen gehad. Ek sê, ‘Gaan lees Job 33:15, dan gaan jy verstaan, die gawe wat jy het, is baie diep. So, ek vertrou die Here dat jy op jou staanplek gaan kom. Dit mag dalk nie vandag wees nie, maar eendag.’ Maar voordat dit kon gebeur, is hy toe doodgeskiet en het hy sy lewe verloor aan gangesterism. Sy regte naam was Chad, sy noemnaam was Chosen.”

Sy stap deur haar tuin in Blikkiesdorp. Dit is kappertjies, rosies, malvas, gesiggies, ʼn Duitse gousblom, breëbone, aartappels, ʼn Josefskleed, spinasie, blaarslaai en kruisement. Dit is by die aarbeie waar sy gaan stilstaan. Langs haar staan die elfjarige Cameron Smith en die dertienjarige Jayden Oktober.

“Hulle is deel van die kindertjies wat my strawberries kom steel het, en daar anderkant gegooi het,” sê Gladina.

Dinsdae leer sy kinders in Eindhoven, by ʼn kleuterskool Little Beginnings, Afrikaans lees. Dit neem haar ʼn halfuur om daarnatoe te stap. Sy is een van agt mense wat, as deel van die Zoë-leesprojek, kinders help suiwer Afrikaans lees.

“Ons moes hulle lief gemaak het vir lees. Maar die kinders wou nie luister nie. Daai tyd moes my aarbeie uitgeplant word en ek dog toe laat hulle my kom help. Sodat ons kan sien in wat stel die kinders regtig belang. En so vind ek ook toe uit wie my plantjies so kom steel het. Ek gee toe vir die kinders elkeen ʼn plantjie sodat hulle dit kan laat groei. En toe kom niemand meer nie. Nie die meisies nie en ook nie die seuns nie.”

Gladina wil steeds die kinders op ʼn uitstappie neem en hoop om kopers vir haar meer as 300 aarbei-steggies te kry. Sy wil hulle graag nog Simonstad toe neem.

Die geluide van Blikkiesdorp raak meer luidrugtig soos inwoners ná ʼn lang werkdag terugkeer. Gladina sing die liedjie wat hulle voor die hooggeregshof staan en sing het voordat hulle van hul grond in 2008 afgesit is.

“Ons was gister hier, ons is nou weer hier, en die spreekwoord sê aanhouer wen.” Sy lag.

Op 56-jarige ouderdom wil Gladina haar Basiese Onderwys en Opleiding vir Volwassenes (BOOV) -sertifikaat voltooi. Sy het nog net drie vakke oor om klaar te maak. Sy wil weer volgende jaar aan die Zoë-leesprojek deelneem om kinders Afrikaans te leer lees.

Ten spyte van die hoë misdaadsyfer, die daaglikse armoede en die lewensomstandighede van die inwoners, sê Gladina sy wil nie op ʼn ander plek bly nie. Sy wil aanhou vir mense in Blikkiesdorp bid, raad gee en genees.

“Ek is bly vir die Meester vir dit, my dierbare. Regtigwaar” sê sy, en lag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Alida X ·

Gladina jy is voorwaar ‘n voorbeeld vir baie.
Met die min wat jy het is jy tevrede en kan nog deel ook.

P ·

Gladina jy is n voorbeeld vir ons. Ek het ook weer n groot les by jou geleer. Wees tevrede met wat jy het en waardeer wat jy het. Nie sit en top oor wat jy nie het nie. Jou glimlag vertel als. Wat n inspirasie vir almal

Lizzy ·

Ek het Gladina se storie geniet. Lag met ń traan. Haar positiewe uitkyk op d lewe is ń inspirasie. Hou so aan.

Maria ·

Wwooow! dit n baie mooi berig vandag. Jy is wonderlik mag die Here jou baie seen met jou werk en projek. Mag dit almal raak.

Agter die skerms ·

Groot inspirasie Gladina – jy moet nou baie verkope kry en weet dat God Sy hand helemal oor jou het. Ek is sommer nou lus vir jou arbeie en sommer net lus om saam jou te kom werk in daai tuin. Pragtige blom daai duitse gousblom. Pragtig. God seen jou dat jy nog baie ander mense kan voer.

Jackie ·

Maroela Media, baie dankie vir hierdie wonderlike inspirerende verhaal.
Gladina Galant, jy is ‘n wonderlike vrou.
Dankie dat jy soveel vir jou medemens doen en omgee. Jy is vir my ‘n voorbeeld van:-

Hebreërs 13:16.
“Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.”

P ·

Gladina, jou glimlag vertel als. Ons kan almal n les by jou leer. Wees tevrede met wat jy het, wees mededeelsaam jy het voorwaar n hart vol naaste liefde.

Jackie ·

Maroela Media, baie dankie vir hierdie wonderlike inspirerende verhaal.
Gladina Galant, baie dankie dat jy soveel doen en omgee vir jou medemens.
Jy leef soos Hebreërs 13:16 vir ons leer:-
“Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is offers wat vir God aanneemlik is”

Liena ·

Sjoe jy is voorwaar ‘n inspirasie vir menigte Suid Afrikaners.

GL ·

Sulke mense is baie nodig in die wereld . Dit is weereens bewyse dat geld en besittings nie belangrik is nie.

Elizabeth ·

Ag hoe lekker was die “getuienis” van God se Grootheid in die eenvoudige, nederige mensie. Baie dankie vir jou deel en sprankel Gladina. Tot Jesus kom…

Sandra Turck ·

Liewe Gladina,
Ons het lank ‘n pad saamgeloop in Aggeneys, en toe in Slurry, waar ons so baie ure in die tuin gewerk het. Jou ongelooflike positiewe lewensbenadering, ondersteuning en glo in die lewe was ‘n inspirasie en ek onthou jou steeds amper elke dag. Ek was so verras om jou op Maroelamedia teë te kom en weer te sien, ek het jou oproepe gemis nadat Ouma en Oupa weg is. Mag die Heer jou seën en in alles wat jy doen, jy maak ‘n wonderlike verskil in hierdie lewe, en die wêreld ‘n beter plek. Groete vir Firmon en Mara. Mevrou Sandra.

Anne ·

Baie dankie dat jy volhard in die geloof. God is goed. Jy kyk so anders na alles. Ons almal kan leer om ons seëninge te tel.

Anita ·

Wat n besondere vrou is hierdie. As almal maar so kan help met die opheffing van kinders watter pragtige liefdevolle land kan ons wees. Die vrou moet ondersteuning kry miskien kan iemand help om ‘n bus beskikbaar te stel om kinders uit te neem? Sy gee soveel ook vir ons taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.