ʼn Era word begrawe ná nóg ʼn stoeilegende sterf

Willie Grové (Foto: Facebook)

Wanneer die laaste kluite Dinsdag in die graf van Willie Grové (79) in Bloemfontein val, word ʼn era van bekende name soos dié van Jan Wilkens, Tarzan Jacobs, Percy Hall, Frikkie Alberts en Kalahari ook afgesluit. Want sonder Willie Grové sou die Bulsaal in Bloemfontein maar ’n stillerige plek wees. Eintlik heel gepas is die Bulsaal vir vergetelheid bestem en het dit al ʼn ruk ʼn Engelse naam.

Niemand sal stry dat Jan Wilkens, die reus onder Suid-Afrika se rofstoeiers, se uittrede ook ’n harde slag vir dié sportsoort in die land was nie. Wilkens het danksy die harde werk van promotors soos Grové selfs een van dié sportsoort se wêreldtitels losgestoei. Maar Jan stap nou aan na 80 en sou lank nie meer die aanslag van buitelandse stoeiers wat veel swaarder as sy eie 280 pond was, kon verduur nie.

Grové sou egter altyd in die skadu staan van die legendariese promotor Bull Hefer.

Maar agter die skerms was daar die entoesiasme en selfs geld uit eie sak van Grové wat die wiele tot in die Vrystaat so lank aan die rol gehou het.

Byeenkomste wat baie toeskouers sou lok is gewoonlik vir die skou-arena geskeduleer, maar meermale het die weer ingegryp, en is verrigtinge na die Bulsaal verskuif, waar die toeskouers mekaar goed vertrap het om ’n plekkie in die oorvol saal te kry.

Hoe lank terug dié goue area was wat op die ongelooflike era van Manie Maritz gevolg het, tref my toe ek ná die nuus van Grové se dood ’n onderhoud wat ek vir Volksblad met hom gevoer het, in herinnering roep. Dit moes al ongeveer 45 jaar gelede gewees het, en toe was die sportsoort eintlik reeds in sy swanesang.

Ek ontmoet die vriendelike slagter – ’n groot man wat op sy dag Suid-Afrika se amateur-swaargewigstoeikampioen was, en ook baie lank op stut rugby gespeel het. Hy het besef die sport taan, maar was nog vol moed dat dit eendag sal regruk, en hy sou regstaan. Maar diabetes, en die laaste tien jaar Parkinson se siekte, het mooi drome laat vervaag.

“Ons jong manne moet net nie by hierdie nuwe rofstoeiery wat in die VSA so gewild geword het, betrokke raak nie. Hulle kan lelik seerkry,” maan hy oor die groot vertoon wat so gereeld Suid-Afrikaners voor die kassie vasgevang het.

So af en toe het rofstoei selfs so gewild geword dat die SAUK soms van die gevegte uitgesaai het. Een so ’n geveg, onthou ek, was toe die bekende Vrystaat (wat in die destydse Transvaal gewoon het) vir oulaas met sy masker op gestoei het. Hy sou “ontmasker” word, en die volk het geluister. Die man agter die masker het geblyk Frikkie Alberts te wees, die man met die vernietigende volstruisskop.

Die Natalse stut Percy Hall het onder die skuilnaam Mr. X en Willem Hall deelgeneem, sodat hy nie dalk sy status as amateur-rugbyspeler in gevaar sou stel nie. Ná sy uittrede was dit kopkrap om te bereken aan hoeveel gevegte hy onder verskillende name deelgeneem het – ʼn yslike 255. Hy is in 2004 oorlede. Jan Wilkens het volgens ʼn onderhoud wat hy met die Potchefstroom Herald gevoer het, meer as 3 000 gevegte gehad – en dit tegnies deeltyds.

As jong man het ek nie sommer van die Bulsaal weggebly as daar bekendes stoei nie. Aanvanklik was ek te jonk om ʼn rybewys tye hê, en my arme ma moes gereeld saamgaan. Sy het haar aan die toeskouers vergaap, veel meer as aan die stoeiers. By een geleentheid is my baie skeptiese ouma saam. Nie lank nie, hoor ons ouma driftig laai waai met: “Nou is daai Duitser kwaad.” Ons was al ʼn ruk tuis toe wil ouma nog vir die geringste “provokasie” die vuiste uitpak.

Maar, en dit moet ek toegee, sonder die toeskouers was die helfte van die verrigtinge saai. Met die baba in die een arm genestel en ʼn sigaret in die ander, sou menige jong ma histeries skree: “D****r hom, b*****m hom!”

Pa het net oor die “vertoonstoei” geglimlag en tuis gebly. Tog was hy skynbaar heeltemal anders ingestel oor die stoei van die Manie Maritz-era. By geleentheid, vertel hy, het Manie op Mosselbaai gestoei. By sy aankoms by die saal hoor hy hoe ’n toeskouer vir sy maat sê die stoeiery is sommer ’n klug. Met die aanbreek van die geveg sien Manie die skeptikus sit in een van die voorste rye. ’n Fout.

Want dit was binne Manie se trefafstand. Nadat hy sy opponent drie keer op die man se skoot gegooi het, het dié agtertoe gaan plek inneem.

’n Era van stampe en stote, reusestoeiers wat val dat die kryt hik, baie sweet en soms bloed ook. Uitsaaitoerusting en kameras te na-aan die aksie wat in stukkies herwaarts vlieg.

Nou is dit nog net die nostalgie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

HK ·

Dis so mooi storie en laat my dink aan die wonderlike tye as kind. Dink ek was so 10 jaar oud, toe my ouers ons kindertjies geneem het na die Skilpadsaal by die Pretoria skougronde om te gaan kyk hoe Oom Jan Wilkens rofstoei. Ons met groot oe gekyk na hierdie groot, sterk Ooms, party met maskers en als! Baie groot, sterk manne het gestoei daai aand. Daar was spookasem en toffieappels te koop. Almal het hard geskree vir die manne wat hulle ondersteun. Party toeskouers het baie kwaad geword. Wonderlike, wonderlike tye. Voor al hierdie rerige moord en dood in SA. Wens ek kon net een keer vir my kids so ervaring gee. Maar vandag is alles anders. Vandag is moord en dood regtig, dis n realiteit. Skilpadsaal, ek wonder of jy nog staan? Dit was goeie tye.

Giel ·

Ja dalk is ek bietjie ouer! Waar is die naam van Willie Liebenberg Manie se dikwels opponent, die kaalvoet stoeier, en so rukkie voor dit, Die Gemaskerde Wonder. Ai ja inderdaad lank lank gelede, baie saam met my pa in Durbanse stadssaal gaan kyk en wat n lawaai as die ouens mekaar peper met voorarm houe en volstruisskoppe of laataand voor die ou radiotjie gesit wat eers 5 minute vat on “warm” te word.! lekkerrr

Ander Apollo ·

Jan Wilkens staan nou nog bekend in die Laeveld as “Hoza-Hoza” – ‘n man wat ‘n vol 220lt olie drom alleen kon optel en op sy kon bakkielaai – en is ‘n legende. Aangename vermaak gewees in my jeugjare maar ‘n era wat verby is.
RIP Willie Grovè.

Oom Kalahari ·

Willie, dankie vir goeie jare en die goeie legendes wat opgelewer was. Jul was inderdaad die beste wat daar ooit was en so sterf die legendes en die geskiedenis. RIV ou Grote en alle medelye en sterkte aan jou gesin, familie en vriende.

Cherokee ·

Ek het die voorreg gehad om op dieselfde tyd en op dieselfde plek saam met Willie Ludick en Jan Wilkens te werk. Albei soos ook tereg in die artikel opgemerk, deeltydse sportmanne. En albei werklik beskeie mense. Ek het iemand berispe oor ligsinnige woorde en Willie Ludick wat teenwoordig was en diep gelowige wat hy was, het my genooi vir koffie, self die koffie gemaak en geskink. Daar het ons vriende gemaak. Willie het huis toe gegaan vanuit Schweizer-Reineke op die jong ouderdom van 62 en Jan is steeds op hierdie aarde fiks en gesond in die middel sewentigs. Soos reeds gesê, watter voorreg om albei onder my kennisse te tel.

rollie ·

‘n Groot klug die professionele rofstoei. Ek respekteer egter die WWE manne. Goeie atlete met uitstekende vaardighede.

Oom Kalahari ·

@ rollie, in die 60’s en 70’s was hierdie manne almal van formaat met groot name in die sport van rofstoei en geensins ‘n klug wat dit vandag is nie. Hul is legendes wat altyd die ouer garde van tyd sal bybly.

rollie ·

Ek het ook as laaitie vasgenael gesit voor die radio as Wilkens, Apollo en daai manne stoei. Was maar nog altyd ‘n klug. Die WWE is ook ‘n klug maar daai ouens is super atlete en entertainers. Daarmee sê ek nie Wilkens was nie ‘n sterk man nie maar die sport wat hy beoefen het, was en is steeds ‘n klug (in teenstelling met amateur-stoei)

Adriaan ·

Nes die toeskouers soms meer interessant was as die stoeiers, is die kommentaar op Maroela ook partymaal meer interessant as die berigte. Dis egter nie kritiek teenoor die kommentators of verslaggewers nie. Soos die (spontane) stoei toeskouers tuis gevoel het tussen ander stoei entoesiaste, voel Maroela se lesers gemaklik hier.

Christel ·

Ai hoe seer is my hart nou, sal Oom Willie nooit vergeet nie `n groot man met `n klein hart. Was menige male “ring lady” vir gevegte, het saam hom JHB toe al gery. Elke Vrydagaand was daar `n byeenkoms in die Bulsaal, dit was vet pret gewees en die adrenalien het deur almal se are gevloei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.