ʼn Kat in die eiendomshoenderhok

Pam Golding (Argieffoto: Facebook)

Die eiendomsagentskapbedryf is in rep en roer oor ʼn bevinding van die hooggeregshof in Bloemfontein dat ʼn agentskap in die stad nie wettig bedryf is nie omdat nuwe waarborgfondssertifikate nie uitgereik is toe dit verander is van ʼn beslote korporasie na ʼn maatskappy nie.

Tria Real Estate (Edms) Bpk, wat handel dryf as Pam Golding Bloemfontein, se aansoek om die bevinding op appèl te neem, is ook geweier omdat daar geen vooruitsig was dat ʼn ander hof ʼn ander bevinding sou maak nie. Pam Golding Bloemfontein het in Mei 2017 ʼn intern-agentskapsooreenkoms met ʼn vrou gesluit ingevolge die Wet op Eiendomsagentskapsake met ʼn geldige waarborgfondssertifikaat.

ʼn Kontrak tot inperking van handelsvryheid was deel daarvan, wat beteken het die vrou kon nie in dieselfde omgewing in die eiendomsagentskapbedryf werk vir ses maande nadat die ooreenkoms opgeskort is nie. Die agentskap kon die tydperk verkort of verander.

Die inperking van handelsvryheid het in werking getree toe die vrou in Oktober verlede jaar bedank het om by ʼn ander agentskap te gaan werk. Pam Golding Bloemfontein het die hooggeregshof genader om haar te keer om belangrike en vertroulike inligting oor sy sake, eiendomslyste, pryse en waardasies te gebruik of bekend te maak, en in die eiendomsmark in sekere voorstede te werk. Haar nuwe werkgewer was die tweede respondent.

Die vrou se regspan het aangevoer dat, aangesien Pam Golding Bloemfontein ʼn maatskappy met beperkte aanspreeklikheid is, wat handel dryf as ʼn eiendomsagentskap, dit ʼn waarborgfondssertifikaat in die naam van die maatskappy moes hê. Die maatskappy het egter nie hierdie sertifikaat gehad nadat dit in 2013 verander is van ʼn beslote korporasie na ʼn maatskappy nie. Hulle het ook aangevoer dat al die direkteure ook nie sertifikate het nie, wat die intern-ooreenkoms ongeldig en onafdwingbaar maak.

Die regter het bevind dat die wet duidelik is daaroor dat al die direkteure sertifikate moet hê en dat die argument dat die sertifikaat nie heruitgereik moes word nie, omdat die beslote korporasie en die maatskappy “dieselfde” is, nie meriete het nie. Aangesien die sertifikaat nie aan die maatskappy uitgereik is nie, mag die maatskappy nie as eiendomsagentskap gepraktiseer het nie en daarom is die ooreenkoms wat met die vrou gesluit is, ook ongeldig. Die aansoek is van die hand gewys met koste.

Pam Golding Bloemfontein het daarna aansoek gedoen om te appelleer, maar die aansoek was onsuksesvol. Die agentskap het toe die appèlhof direk genader, maar hierdie aansoek, op 3 Junie, was ook onsuksesvol. Dit beteken die vrou kan nou sonder enige voorbehoud by ʼn ander eiendomsagentskap werk.

Ulrich Sirgel, besturende direkteur van Pam Golding Bloemfontein, het by navraag gesê hy, al die direkteure en die agentskap het almal geldige waarborgfondssertifikate. “Die Pam Golding Bloemfontein-franchise is behoorlik geregistreer en gesertifiseer by die Raad vir Eiendomsagentskapsake en kan wettig sake doen as ’n eiendomsagent,” het Sirgel gesê.

Volgens Pam Golding Franchise beplan hy nie om op te tree teen Pam Golding Bloemfontein nie, al is dit bedryf sonder die nodige sertifisering sedert 2013, gegewe die omstandighede van die saak en die agentskap se goeie aansien by die raad.

“Die agentskap kan nou besluit of dit die konstitusionele hof wil nader en ons is bewus daarvan dat hy dit oorweeg. Dit sal dus voortydig wees vir ons om kommentaar te lewer oor ʼn saak wat onderhewig kan wees aan verdere regsprosesse,” het ’n woordvoerder gesê.

Maroela Media wou by die Raad op Eiendomsagentskapsake weet of die raad stappe oorweeg teen Pam Golding Bloemfontein en of die agentskap onwettig bedryf is en sy kliënte dus nie beskerm was in die tydperk wat ter sprake is nie, maar die raad het nog nie antwoorde verskaf nie.

In sy uitspraak het die regter ook bygevoeg dat dit onaanvaarbaar is dat amptenare van die raad Pam Golding Bloemfontein verseker het dat daar niks verkeerd was met sy optrede nie, terwyl dit duidelik ʼn oortreding van die wet was. Maroela Media wag ook nog op die raad om hieroor kommentaar te lewer en te verduidelik hoe hy gaan verseker dat hierdie verkeerde raad nie weer uitgedeel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

‘n Agentskap is nooit te oud om uit sy foute te leer nie!

J van Rustenburg ·

Of die maatskappy het ‘n geldigge sertifikaat of nie In die geval het hulle nie gehad nie Dis vermetel om n agent wat ongelukkig by hulle is te dwing om te bly terwyl hulle self die wet oortree Ek hoop ander agente neem kennis van hulle praktyk en vermy hulle

Chris ·

Ek kan nie verstaan dat die besturende direkteur se hulle is wettig geregistreer maar die hof bepaal dat hulle onwettig handel dryf omdat hulle nie geregistreer is nie. Verder kan ek ook nie verstaan hoe kan enige mens met n regdenkende verstand so n handelbeperking kan teken nie. As jy nie meer by n plek wil werk nie, word jy verbied om vir n tydperk te werk. Dit maak nie sin nie en wat ek ook nie kan verstaan nie is dat n werkgewer so n beperking op n werker wil afdwing nie. As die persoon nie meer by jou wil werk nie hom probeer dwing om daar te bly. Dit is n totale onding hierdie veral onder eiendomsagentskappe.

George in Bloem ·

Hierdie “restraints of trade” word op ‘n baie oneerlike manier afgedwing op werknemers. Ek was lank werkloos en het toe by ‘n groot maatskappy werk gekry. Net voordat ek vas aangestel word ‘n week voor ek 3 maande daar werk,word ek ingeroep en ek moet my aanstellingsbrief teken,maar saam met hom ‘n klomp ander dokumente wat die moets en moenies bevat asook ‘n lywige “restraint”. So hoe nou?Teken en jy’t werk. Weier en jy’s weer op straat?

WIEBO ·

Ek werk sedert 2012 in die eiendomsbedryf en het al oor die 100 agente leer ken in die tyd, en laat ek julle vertel, daar bestaan geen eerlike agente nie. Glo my, dis die waarheid!!

Deon Meyer ·

Marous – Dit is presies ook my mening dat al die transaksie kommissies terugbetaal behoort te word want slegs Agentskappe met geldige FFC sertifikate mag kommissies verhaal.Dalk is daar ‘n prokureursfirma in Bloemfontein wat namens die “verkopers” die kommissies kan terugeis by wyse van ‘n groepsgeding.

JJS ·

So, sy sal haar internskap ook moet oordoen? Dit was dan nou aldus haarself by ‘n ongeregistreerde maatskapy gedoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.