ʼn Kwart minder renosters in 2021 gestroop

Renosterkalfies lê en slaap onder ‘n boom (9 Januarie 2021) (Foto: Michele Spatari / AFP)

Altesaam 451 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop. Die meerderheid hiervan (327) is in staatsbeheerde reservate gestroop, waarvan 209 in die Krugerwildtuin plaasgevind het. Dit is wel ʼn afname teenoor die 247 renosters wat in 2020 in die wildtuin gestroop is en ʼn afname van 24% teenoor die getal stropings in 2019.

Daar was egter ʼn toename in stropingsvoorvalle op private eiendom, waar 124 renosters verlede jaar gestroop is.

Dié syfers is Dinsdag deur die departement van omgewingsake, bosbou en visserye bekendgemaak.

“Die geleidelike afname in renosterstroping in die Krugerwildtuin kan toegeskryf word aan die toename in teenstropingsaktiwiteite in die wildtuin. SANParke en die polisie werk ook nou saam om verdagtes vas te trek en aan te kla,” het Albi Modise, departementele woordvoerder, Dinsdag gesê.

“ʼn Onbedoelde gevolg hiervan is egter dat kriminele nou ander plekke teiken, wat kon bydra tot ʼn toename in stropingsvoorvalle in privaatreservate in Limpopo en Mpumalanga.”

Meer verdagtes (189) is ook verlede jaar in hegtenis geneem in vergelyking met 2020 (156). Altesaam 38 skuldigbevindings is in 37 sake gemaak, met die gevolg dat 61 renosterstropers en handelaars gevonnis is.

“Verbeterde samewerking tussen Suid-Afrika en ander lande in 2021 het ook daarvoor gesorg dat verskeie verdagtes vasgetrek en vermoedelik gestroopte horings teruggevind is. Een so ʼn voorbeeld is toe 138 kg renosterhoring en 3 ton leeubene op die Da Nang-hawe in Viëtnam opgespoor is, danksy samewerking tussen Viëtnamese en Suid-Afrikaanse owerhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Daar is alreeds baie min renosters dit is hoekom daar minder gestroop word.

Stofpoepertjie ·

Die geleidelike afname in stropings, kan net toegeskryf word aan die eksponensiële afname in renoster getalle oor die laaste 15 jaar.

Pietertjie ·

Weereens is die Staat aan die verkeerde kant van statistiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.