ʼn Kwart van behoeftige kleuters gaan slaap honger

stop-honger-hannes-en-riana-01

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, en Riana Nel, ambassadeur vir die #StopHonger-projek,sê ‘n R10-donasie kan ‘n kleuter se magie vol hou. Foto: Helpende Hand.

Sowat 85% van behoeftige Afrikaanse kleuters daag ná ʼn naweek honger by hulle kleuterskole op terwyl 35% van die kleuters elke weeksoggend honger by die skool opdaag.

Dit is die bevindinge van ʼn navorsingsverslag wat Solidariteit Helpende Hand by 52 kleuterskole oor hongersnood onder Afrikaanse kleuters gedoen het. Hierdie kleuterskole is deel van Helpende Hand se voedingsprogramme wat reeds vir 4 800 kleuters sorg.

Helpende Hand het die verslag met kommerwekkende syfers oor die hongersnood by kleuters in behoeftige gemeenskappe Dinsdag in Centurion bekendgemaak.

Die kleuterskole is onder meer gevra om aan te dui hoeveel van hulle kinders eet nie saans nie. Hierdie syfer word ondersteun deur die aantal ouers wat nie skoolgelde kan betaal nie, asook die aantal kleuters vir wie daar in sommige gevalle ʼn kospakkie huis toe gestuur word.

“ʼn Gemiddeld van 24% van die kleuters by dié kleuterskole kry vermoedelik nie saans kos nie en ly dus honger.

“Dit terwyl meer as 40% van hierdie kleuterskole nie kan bekostig om meer as een maaltyd vir die kleuters op ʼn dag te bied nie,” het Ernst Vorster, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, gesê.

stop-honger-verslag

Helpende Hand het die verslag met kommerwekkende syfers oor die hongersnood by kleuters in behoeftige gemeenskappe Dinsdag in Centurion bekendgemaak. Foto: Reint Dykema.

“Ons het nie verniet ʼn stem nie, ons is nie verniet hier geplaas nie. Kwesbare kleuters moet beskerm word. As ʼn ma is dit vir my belangrik om te weet dat die gemeenskap kennis neem van die swaarkry van kinders in behoeftige gemeenskappe,” het Riana Nel, sangeres en ambassadeur van Helpende Hand se #StopHonger-projek, gesê.

Nel het bygevoeg dat ʼn bedrag van so min as R10 kan help om ʼn kleuter se magie vol te hou. “Onthou, ʼn kind kan nie besluit in watter omstandighede hulle gebore word nie.”

Margolé Riekert, die projekorganiseerder van Helpende Hand se Kosblikkie-voedingsprogram, het gesê die program het reeds aansoeke van 93 kleuterskole ontvang wat vir sowat 12 000 kleuters sorg.

“Dit is skrikwekkend om te dink ons versorg tans sowat 6 000 kleuters, en wil graag poog om 8 000 te help terwyl daar eintlik reeds aansoeke is om 12 000 kleuters te help voed. Dit is vreeslik om te dink elkeen van hierdie syfers verteenwoordig ʼn gesiggie wat honger ly.

“As daar vanaand ʼn kind honger gaan slaap, is dit ʼn aanklag teen ons as gemeenskap en volwassenes,” het Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, hierop gesê.

stop-honger-marie-visagie

“Dit is waar dat daar kinders is wat saans nie eet nie! Daar is kinders wat drie…vier..bakkies pap agter mekaar eet! Ons moet soms hulle stop…” sê Marie Visagie (regs), skoolhoof van Pinocchio kleuterskool. Saam met haar is Riana Nel, sangeres en ambassadeur van Helpende Hand se #StopHonger-veldtog. Foto: Reint Dykema.

Só kan lesers help:

Jy kan betrokke raak, ʼn bord kos vir kleuters borg, en Helpende Hand só help om 1,5 miljoen etes vir 8 000 kleuters landwyd te voorsien.

SMS die woord STOP na 38969 en skenk ʼn bord kos vir ʼn honger kleuter. Die SMS kos R10.

Besoek ook Stophonger.co.za waar jy meer oor dié projek van Helpende Hand kan uitvind. Onder aan die webwerf is daar meer besonderhede oor die verskillende opsies van hoe jy hierdie projek kan ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mrs H ·

En n Demokratiese regering….. Het besluit die kinders is te wit en daarom kry hulle GEEN hulp van regering soos veronderstel nie. Net soos Sasol se “non-white” aandele…. In die tussentyd staan die wit tannies steeds en uitdeel by African kindertjies wat 25 jaar bevoordeeld is. Tog so ironies.

Ella ·

Dis n ernstige aanklag teen ouers wat kinders, wat hulle nie kan bekostig, in die wereld bring en dan hoop dat ander hulle sal help om hulle te versorg. Behalwe dat hulle honger gaan slaap kry baie kinders ook geen liefde, deernis en respek.
Oral word bydraes gevra, renosters, olifante, voels, mense. As jy elke R10 bymekaar tel gee ons baie geld weg en nou word ons ook armer.
Dis n bose kringloop.

Hartseer ·

Ek huil my leeg, my hart klop stadig, ek kry so jammer. Ek gee graag my bydrae.

Hartseer ·

Dit maak my so hartseer. Dan dink ek aan hoe my kinders kos mors. :( Ek skenk ook graag n R10

Daleen Prinsloo ·

R10 geskenk. Ons moet mekaar help. Ek het self twee kleuters en kan nie eers daaraan dink as hulle sal moet honger wees nie. Dis terrifying.

E.K. die eerste ·

Dankie vir so ‘n MAKLIKE manier om te help. Mens kom nie eers agter as jy paar sulke sms’e stuur nie. almal kan nie altyd baie bydra nie, maar regtig ‘n sms van R10 gaan niemand arm maak nie. Dink as elke Maroela leser sal sms! Al is dit net een keer!

Pieterd ·

Hoe verskriklik hartseer!
Mens kan egter nie help om te wonder nie, as die ouers kleuterskoolfooie kan bekostig, hoekom nie kos nie?
Ek kan nie uit die berig agterkom of dit slegs armoede is, of gee die ouers nie om nie? Die arme kinders.
So dankbaar daar is mense en organisasies wat omgee.

Johanna ·

Dis n hartseer storie. kinders wat honger ly. ouers wat moet werk en betaal die kleuterskool fooi en ek neem aan die fooi sluit n etetjie in? of nie.? of is dit kleuterskole wat gratis na die kinders omsien? Indien wel kan ek verstaan dat daar donasies vir n ete gevra word. Ek was self n eienaar van n kleuterskool en die fooi wat die ouers my betaal het, het n oggend ete, middag ete en n versnappering ingesluit. Moenie my verkeerd verstaan nie ek skenk graag maar as ouers n kleuterskool betaal vir daaglikse toesig en sorg dan moet dit n ete insluit. Miskien lees ek hierdie inligting verkeerd.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Johanna

Ek probeer graag bietjie meer duidelikheid verskaf: Hierdie kleuterskole is in arm gemeenskappe waar die kleuters dikwels hulle enigste maaltyd by die kleuterskool ontvang. Baie van die ouers kan ook nie skoolgelde bekostig nie en dit bevestig Helpende Hand se navorsing hieroor.
Die kleuterskole kan nie bekostig om meer as een maaltyd te verskaf nie maar wil graag meer doen om al die kleuters van gebalanseerde gesonde maaltye en versnaperinge te voorsien.
Jy kan ook Helpende Hand se webwerf http://www.stophonger.co.za vir meer inligting besoek.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.