ʼn Miljard vir Afrikaanse opleiding

Argieffoto.

Argieffoto.

Die Solidariteit Beweging gaan oor die volgende vyf jaar sowat R1 miljard in Afrikaanse opleiding belê. Die Beweging se onderwysplan strek van kleuterskoolvlak tot op tersiêre vlak met ʼn privaat Afrikaanse universiteit.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê dit is belangrik vir ʼn minderheidsgroep in vandag se omstandighede in Suid-Afrika om die meederheidskennis te hê. “As ons dieselfde ekonomiese sukses van ʼn land soos Singapoer wil ervaar, moet ons elke mens help om sy of haar volle vermoë te bereik. Dit was dié land se suksesresep wat elke inwoner voorsien het van goeie gehalte onderwys en opleiding,” het Buys gesê.

Die beplande belegging maak voorsiening vir voedingsprojekte vir 4 000 kleuters by 60 kleuterskole landswyd; 25 000 skooltassies vir graad 1’s; ondersteuning aan Afrikaanse skole; die uitbou van die tegniese kollege Sol-Tech; die verlening van steun aan honderde onderwysers wat deur Aros opgelei gaan word; en die ontwikkeling van Akademia op sy pad na ʼn wêreldklas- Afrikaanse privaat universiteit. ʼn Studiefonds, wat teen 2020 R160 miljoen sterk sal wees, maak ook deel uit van die onderwysplan.

Die onderwysplan gaan eerskomende Saterdag by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad bekend gemaak word. Die Toekomsberaad volg die Beweging se Krisisberaad, wat op 5 Mei aangebied is, op. ʼn Plan van R3,5 miljard vir ʼn toekoms waarin die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees, gaan bekend gemaak word. Meer as 1 000 insette vir so ’n toekomsplan is na afloop van die Krisisberaad ontvang en 20 taakspanne het vir 3 maande aan die planne gewerk.

“Ons is baie bekommerd oor die rigting waarin Afrikaans op universiteite gedwing word. Ons sal aan die een kant alles in ons vermoë doen om Afrikaans by openbare universiteite te beskerm. Ons kan egter nie wag nie; die tendens is duidelik en daarom moet ons aan die ander kant Akademia baie vinniger uitbou tot ’n Afrikaanse privaat gemeenskapsuniversiteit van wêreldgehalte,” het Buys gesê.

Volgens die Solidariteit Beweging se onderwysplan gaan Akademia in 2020 sowat 2 000 studente hê. Die grootste fakulteit gaan ʼn fakulteit van ekonomiese en bestuurswetenskappe wees wat ’n graad in BCom Regte sal insluit. Daar word beplan om 24 Akademia-sentrums dwarsoor Suid-Afrika te vestig. ʼn Graadprogram in verpleegkunde wat in samewerking met vennoothospitale aangebied sal word, word ook in die vooruitsig gestel met ʼn verdere agt sentrums wat dit bedien. Akademia gaan ook ʼn splinternuwe kampus kry.

Sol-Tech is tans een van die grootste tegniese kolleges in Suid-Afrika. Daar word beplan om nuwe fasiliteite vir Sol-Tech te skep sodat sy huidige getal van 1 100 studente wat tans in verskeie fases van opleiding by die instelling is, tot ongeveer 2 000 kan aangroei.

Aros lei onderwysers op ʼn Christelike grondslag op en dié instelling beplan om teen 2020 2 000 Aros- afgestudeerde studente by skole in diens te hê. Aros beplan ook om sy graad-aanbod tot op nagraadse vlak uit te brei.

Die Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds het reeds R73 miljoen uitbetaal om 4 500 studente finansieel te help om te studeer. Volgens die nuwe onderwysplan gaan die Studiefonds teen 2020 sowat R160 miljoen sterk wees.

Die Solidariteit Helpende Hand beplan ook om ʼn loopbaansentrum ten bedrae van R1,5 miljoen tot stand te bring.

Afrikaanse universiteite en beroepsgerigte onderwys is egter nie moontlik sonder goeie Afrikaanse skole nie. Op skoolvlak kan daar net met groot waardering melding gemaak word van die goeie werk wat Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU) doen.

Volgens die onderwysplan gaan die Solidariteit Helpende Hand sy voedingsprogram op kleurskoolvlak uitbrei en 25 000 skooltassies gaan in die volgende jaar aan behoeftige graad 1’s by Afrikaanse skole versprei word.

Die Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, wat reeds dienste aan 400 skole bied, gaan nog verder uitgebrei word. Deel van die 2020-plan is die ontwikkeling van ʼn Afrikaanse kurrikulum van wêreldgehalte. Daar word ook beplan om groot bedrae geld in opvoedkundige tegnologie te belê. Kleiner gemeenskapskole in plattelandse gebiede wat deur nuwe tegnologiese hulpmiddels ondersteun word, word ook in die vooruitsig gestel.

AfriForum sal ook die verantwoordelikheid aanvaar om op te staan vir die onderwysregte van die Afrikaanse gemeenskap en om die belangrikheid van Afrikaans as moedertaal te bevorder. Projekte soos die Dink-of-Sink-kompetisie vir onvoorbereide debat, sal ook aangepak word.

Die FAK sal die Afrikaanse Ekspo gebruik om die kreatiewe hantering van Afrikaans te bevorder en sal daarop fokus om gebalanseerde inhoud te ontwikkel wat in geskiedenislesse gebruik kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

neelsie ·

Baie dankie aan die Afrikaner-forums.
Dit is mos hoe probleme opgelos word!
Ons sal ons kinders n beter opvoeding gee as wat die regering ooit kan.
Sterkte aan Solidariteit en Afriforum.

Piet Pompies ·

Voorbeeld van ‘n volhoudbare Sosiale bellegging wat ons mense toerus met die regte kennis. Wat dit nog meer wonderlik maak is dat daar nie vergelykings gemaak word met huidige instansies, die beste opleiding word verskaf, punt. Moet nie wag, sluit aan by Solidariteit!

Francois le Cochon ·

Weereens ‘n bewys van die “amazing race” se vermoe om vooruit te gaan, en nie in die son te sit en alles te “demand” nie!!

Gerhard Bezuidenhout ·

Ek is so trots om n Afrikaner te wees en die hoop brand hoog dat my volk n voorsprong deur eie Afrikaanse kapitale beleggings vir ons nageslag se opleiding kan bewerkstellig.

humor ·

Ons soek ons eie Afrikaner – bank met n Afrikaanse naam waar ons in vriendelike Afrikaanse taal bedien kan word!!!!!!!!!!

Disselboom ·

Dit klink na besigheid hierdie!

Dit val net vreemd op dat BCom-tipe opleiding die grootste fakulteit moet wees: dis ‘n goeie idee om Afrikaners (of eerder Afrikaanses in die breër konteks) geleentheid te gee om goed opgelei te word in die handelsrigtings, en dit word gehoop dat die produksiesektore soos ingenieurswese en landbou vinnig aandag gaan kry en dat dit die grootste opleiding gaan word.

Op skoolvlak is dit goed en wel van Fedsas en SAOU – hoop die planne vorder in die skoolonderwys ook om van Umalusi se juk ontslae te raak en dat dit Afrikaner-onderwys sal wees wat nie maar net een soort sosialisme met ‘n eie sosialisme vervang nie. Dit wil in die woordgebruik van selfstandigheid lyk of die tekens daar is dat die staat se wetgewing wat onderwys gyselaar hou, se juk afgeskud gaan word.

Ant ·

Goeie nuus, maar nou wonder ek so onwillekeurig, waar kom al hierdie geld vandaan? Aan wie verkoop ons volkie nou weer ons siel uit? ek hoop my skeptisisme is misplaasd. Maar die onlangse saam slapery met die FW stigting en ander flikflooiery oorsee laat mens wonder….

Ant ·

Koos, ek is nie seker wat “verpraagd” sou beteken nie, maar sal graag jou antwoord wou hoor. Groete ou piepot

Piet ·

Selfde wat met hospitale gebeur het. Breek dit af tot medies privatiseer word. Ruperts se wenresep

Ruby ·

Dankie dankie dankie vir Akademia! Ons kan ons eie Proffessors vir Akademia hê. Dit is deur ons kundigheid dat hulle ‘n goeie geleerdheid het maar hulle eie opvoeding slaan hulle seer.

Glo nie ons moet verder geld mors op die huidige universiteite om Afrikaans te behou, los hulle dat hulle dit afbreek soos hulle met alles om hulle doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.