ʼn Nuwe tuiste vir voortgesette opleiding in Afrikaans

s-leer

S-leer is die Solidariteit Beweging se nuwe sentrum vir voortgesette leer wat Vrydag amptelik in Centurion geopen is. Foto: Facebook.

S-leer, Solidariteit se nuwe sentrum vir voortgesette leer, het Vrydag amptelik geopen en sommer dadelik afgeskop met ʼn seminaar. Belangstellendes kon ʼn voorsmakie kry van die soort aanbiedinge wat hulle in die toekoms by die sentrum kan bywoon.

Solidariteit is tans besig om verskeie beroepsgildes vir onder meer medies, regte en onderwys op die been te kry. Hierdie gildes gaan as beroepswaghond dien, maar ook geleenthede, beurse en internskappe aan Afrikaanse studente in daardie beroepe bied. S-leer gaan die opleiding vir voorgesette professionele ontwikkeling (VPO)-punte en ook opleiding vir voortgesette leer aanbied vir personeel wat reeds in die beroepe staan.

Volgens Leana Leonard, besturende direkteur van S-leer, is hulle opgewonde oor die nuwe sentrum wat opleiding in Afrikaans gaan aanbied. “Bo en behalwe seminare en kort kursusse, wil ons in die nabye toekoms ook aandag skenk aan ʼn e-leer-aanbod, wat hierdie opleiding selfs nog verder sal vergemaklik, veral wanneer mens nie die luukse het om die kantoor vir ʼn aantal ure te verlaat nie,” het Leonard gesê.

S-leer sal daarop fokus om gerespekteerde kenners of spesialiste in hul gebied te nader om as sprekers by hierdie seminare op te tree, om so ook waarde toe te voeg vir elke professionele persoon wat hierdie opleidingsgeleenthede bywoon.

Twee sprekers het tydens die eerste seminaar opgetree. Tertia Putter, ʼn direkteur en stigter van die maatskappy Wellness Africa, het ʼn sessie oor welstand aangebied, terwyl Dr. Mario Denton, ʼn bedryfsielkundige en internasionale dosent met twee meestersgrade agter sy naam, met die mense oor leierskap en “lyerskap” gesels het.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, wil mense ʼn goeie werk hê en dus moet lewenslange leer en ontwikkeling ʼn leefwyse word. Dit is waar S-leer inkom vir voortgesette leer in professionele ontwikkeling. “S-leer gaan help om mense op hul loopbaanpad te belei en om op die voorpunt van hul loopbane te kom en daar te bly. So kan hulle dan in die toekoms ander help en lei,” het Buys gesê.

Besoek S-leer gerus vir nog inligting of om uit te vind wanneer die volgende seminaar sal plaasvind of sluit aan by hulle Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Johann ·

Met al hierdie week se goeie nuus uit die Solidariteit-stal en onderskryf deur al hul kundigheid, kan mens met vrymoedigheid sê Afrikaans is in goeie hande, ons sien uit daarna om die toekomspad saam met julle te stap. Dit is uitdagings wat mens blymoedig aanpak.

Koos ·

En kort voorlank is daar n staking deur honderde bekommerde ouers en leerders oor een of ander haarsteil. En n staking oor Afrikaans. Gaan bou die plekke in Orania.

jaco ·

Waar gaan al hierdie wit Afrikaanse mense wat so deur al Afriforum se verskillende instansies leer en studeer, eendag werk kry? Het hulle heeltemal van regstellende aksie vergeet? Onthou selfs die DA steun ook regstellende aksie. Regstellende aksie se einddoel is om wit mense amper heeltemal uit die arbeidsmark te haal. Asseblief mense, DINK en BEPLAN baie goed voor julle julself in reusachtige studieskuld dompel wat later sonder werk nooit terugbetaal kan word nie

Kobus ·

Moedertaal onderrig ou pêl, jy dink outomaties, dit kom natuurlik, jy presteer, die uitdrukking wat jy gee is soveel meer, jou konsentrasie, en dan het jy die vrymoedigheid en die kennis om dit in die taal waarin jy werk te gaan toepas. Die wereld is jou speelveld.

Dark.O ·

Soos ek die berig verstaan, is die fokus op voortgesette profesionele leer. Dit is dus vir mense wat reeds gekwalifiseerd is. Mense van die professies (medies & regte) en semi-professies (maatskaplike werk, sielkunde, verpleging) kan dan die kursusse bywoon om voortgesette-professionele-leer-punte te verdien, soos deur die onderskeie professionele beroepsrade voorgeskryf. Die aanbieders moet aansoek vir die VPO-punte by die professionele rade doen. Op die ou end maak net die punte wat verdien is saak en nie die taal van aanbieding nie.

Anti regering ·

Beste ding nog met die staatskole op ‘n afdraande pad gaan daar ‘n groot tekort aan kundigheid in Suid-Afrika wees staan saam bou saam ondersteun Afriforum/solidariteit en hou op met die Afrikaner mentaliteit om mekaar aan te val en te verraai neem nou maar die spelfout van koos hierbo ……so what……iets positief het gebeur.

JC ·

Hi Wern, goeie opmerking, ek stem beslis saam, hulle walg my ook!!
MOOI SO AFRIFORUM. JUL GOEIE EN BRILJANTE WERK KEN MAAR NET NIE IETS SOOS BRIEKE NIE!
HOU SO AAN!!

Dark.O ·

Ek kan ook nie die negatiewe kommentaar verstaan nie. Hier gaan dit oor voortgesette opleiding, met ander ander woorde dit is vir persone wat reeds in ń beroep gekwalifiseer het. Niemand word gedwing om van die diens gebruik te maak nie. VPO-punte kos professionele persone duisende rande per jaar en hulle sal waarskynlik so diens waardeer. Die feit dat die aanbiedinge in Afrikaans is, het geen effek op die VPO-punt.

Ester ·

Wonderlik! Só trots op Solidariteit se inisiatiewe, op alle terreine!

percy stannard ·

Baie bly oor die bydraes van Solidaroteit en Afriforum In die stryd vir die reg van Afrikaanssprekende om in hul eie taal onderrig te mag kry Een vraag Sal die kursusse en grade wat Akademia aanbied internasionaal ook aanvaar word indien ons regering sou weier om dit te erken?

Johann ·

So nou en dan sien ek iemand vra oor en oor dieselfde vraag, baie vroom, net om dood, dood seker te maak, of om mense daarop attent te maak van internasionale aanvaarding. Ek is ook nie so seker dat dit op die regering se weg is om dit te erken nie. Ewenwel as ek reg het is al hul grade geakredditeer. Ek het nou nie gaan soek nie, maar dit is wel op Solidariteit se webwerf beskikbaar, al sou jy die moeite doen om daar te gaan kyk.

jaco ·

Duidelik verstaan nie een van julle hoe regstellende aksie werk nie. Selfs al het jy werk en selfs al het jy ekstra studie onderneem om daardie werk nog beter te doen, kan jy geignoreer word vir bevordering NET omdat jy wit is. Jy kan ook ge-retrench word NET omdat jy wit is.

Francois ·

Ai Jaco, ons almal weet van regstellende aksie en hoe dit werk. Dut het al in die tagtigs begin toe ek nog vir Sasol gewerk het.
Na 1994 het dit net toegeneem. Indien jy een van die persone is wat daaronder ly, kry vir jou werk in due buiteland waar soveel Saners tans werksaam is en waar hulle kennis, kwalifikasies en werksywer waardeer word.
Ekself werk al vanaf 1993 in die buiteland maar bly nog steeds in SA. Dis moeilik en plaas baie druk op jou familielewe en verhoudings maar indien mens dit met die regte gesindheid aanpak is dit heeltemal werkbaar.
So, dit is glad nie nodig om altyd net na die negatiewe aspek van ‘n saak te kyk nie.

gertjie ·

Hoe meer Afrikaans hoe beter. Maak nie saak in watter vorm nie. Afrikaans word al hoe sterker al probeer die regering en universiteite dit vermoor. Ek hoop dit is n doring in die vlees vir almal wat anti-Afrikaans is.

dea ·

Ek stem saam Gertjie. Ek hoop die doring in die vlees maak n sweer.Dit moet die anti-Afrikaanse moordenaars laat besef ons staan net sterker en ons taal groei met rasse skrede .Onuitwisbaar.

JC ·

Aitsa, dea en gertjie, sulke bekke moet jem kry hehe!
VIVA AFRIKAANS!!

Sarie ·

Die ou mense het altyd gesê geleerdheid kan niemand van jou weggeneem nie. Kennis deur moedertaal in geneem is beter as deur enige ander taal. As jy konsepte in jou moedertaal verstaan kan jy selfs beter in n tweede taal presteer. Daar is rassediskriminasie in die werkplek in SA maar enige kennis verwerf gee jou ‘n beter kans om vir jouself werk te skep of selfs as dit moet in ‘n ander land te gaan werk. Kom ons ondersteun hierdie inisiatief vir ons mense dis prysenswaardig.

gideon ·

Wil net vir Jaco vra of al die wittes nou maar moet gaan lê en vrek want alles is teen jou. Soos ek dit sien is hierdie nie net vir wit mense nie maar enige iemand wat afrikaans praat. Afrikaans is die grootste taal naas die Nguni tale in Suid Afrika. Self bejammering het nog niemand gehelp nie. Kry vir jou ń plekkie by ń robot met ń karton plakaat om jou nek, dalk kry iemand anders jou ook jammer.

Ian ·

Dis puik, en bied aan Afrikaans nog ‘n waardevolle forum vir gebruik op ‘n hoë vlak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.