‘n Oorsig oor die lewe van Nelson Mandela

Foto: Nelson Mandela Stigting/SAPA

Video’s is in die berig publiseer. Blaai gerus verder af om die res van die berig te lees. Rolihlahla Mandela is op 18 Julie 1918 in die Transkei gebore. Sy ma was Nonqaphi Nosekeni en sy pa Nkosi Mphakanyiswa Gadla Mandela. Sy pa was die hoof-raadgewer van die waarnemende koning van die Thembu-volk Jongintaba Dalindyebo, en is in 1927 oorlede.

Mandela het by ʼn laerskool in Qunu in die Oos-Kaap skoolgegaan is later deur ’n onderwyseres “Nelson” genoem. Nadat hy aan die Healdtown-skool gematrikuleer het, begin hy met ’n BA-kursus by die Fort Hare-universiteit. Hy voltooi egter nie sy studies aan dié universiteit nie, aangesien hy geskors is nadat hy aan ʼn studentebetoging deelgeneem het. Later voltooi hy wel sy graad deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). In 1941 verhuis hy na Johannesburg waar hy as ʼn mynveiligheidswag werk en LLB aan die Universiteit van die Witwatersrand studeer. Hy sluit in 1944 by die ANC aan, waar hy betrokke is by die totstandkoming van die party se jeugliga.

Mandela was deel van die weerstand teen die Nasionale Party se apartheidsbeleid en in 1952 word hy as nasionale hoof van die Defiance Campaign aangewys. Hy reis deur die land om teenstand teen die apartheidsbeleid van die NP-regering te organiseer. Dit lei daartoe dat hy in hegtenis geneem word en gevonnis word tot nege maande harde arbeid, wat opgeskort is vir twee jaar. In 1955 word hy weer in hegtenis geneem op aanklag van hoogverraad, maar hy word egter in Maart 1961 vrygespreek.

‘n Beeldhouwerk van Nelson Mandela wat op 4 Augustus 2012 in Howick in KwaZulu-Natal onthul is. Foto: SAPA stringer

Op 21 Maart 1960 word 69 mense doodgeskiet tydens ʼn optog na die Sharpeville-polisiekantoor in protes teen die pasboekstelsel. Die voorval word gevolg deur die afkondiging van ʼn noodtoestand en die verbanning van die ANC en die PAC. Die ANC se gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), word kort hierna gestig met die doel om die land gewelddadig oor te neem. Mandela word weer in 1962 in hegtenis geneem nadat hy oorsee gereis het om steun te werf vir dié gewapende stryd. Hy word tot vyf jaar tronkstraf en harde arbeid gevonnis.

In 1963 slaan die polisie toe op die kleinhoewe Liliesleaf, die ANC en MK se “geheime wegkruipplek” in Rivonia, Johannesburg. Hulle vind inkriminerende dokumente wat lei tot die inhegtenisneming van verskeie ANC- en MK-leiers. Mandela, wat besig was om sy tronkstraf uit te dien, word in Oktober 1963 saam met nege ander mense in die bekende Rivonia-verhoor daarvan aangekla dat hulle die regering omver wou werp. In Junie 1964 word Mandela tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy word van 1964 tot 1982 op Robbeneiland aangehou waarna hy na die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad oorgeplaas word. Hy word in 1988 vir tuberkulose behandel en na die Victor Verster-gevangenis (nou die Drakenstein-gevangenis) in die Paarl oorgeplaas. Tydens sy aanhouding slaag hy daarin om ʼn vergadering tussen die ANC en die NP-regering aan bewind te reël.

Op 2 Februarie 1990 word die ANC ontban, en nege dae later, op 11 Februarie, word Mandela vrygelaat. Hy het glo tydens sy jare in die tronk minstens drie aanbiedings om vrylating van die hand gewys.

Na sy vrylating is Mandela betrokke by gesprekke tussen die ANC en die regering, en in 1991 word hy as leier van die ANC verkies. In 1993 ontvang Nelson Mandela en voormalige president FW de Klerk gesamentlik die Nobelprys vir Vrede. Mandela, ook bekend as “Madiba” (sy stamnaam), word op 27 April 1994, tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, as die land se eerste swart president verkies. Hy is die oudste verkose president wat Suid-Afrika al gehad het.

ʼn Uittreksel uit Mandela se inhuldigingstoespraak:

Een van Mandela se twee grootste oomblikke as versoener was seker toe hy in 1995 in Orania in die Noord-Kaap ʼn koppie tee saam met Hendrik Verwoerd se weduwee, Betsie, gedrink het. Hy het ook in 1995 die Springbokke tydens die Rugby Wêreldbeker geluk gewens deur met ʼn nr. 15-trui en ʼn Springbok-pet by die wedstryd op te daag.

Op sy 80ste verjaardag in 1998 trou Mandela met Graça Machel. Hy tree in 1999 uit, na een termyn as president. Hierna hou hy hom besig met die Nelson Mandela-kinderfonds wat hy reeds in 1995 op die been gebring het. Hy tree ook op as spreker by verskeie internasionale geleenthede, maar begin stadig maar seker uit die openbare oog verdwyn. Mandela verskyn hierna slegs enkele kere in die publiek, waaronder tydens sy bywoning van ʼn konsert wat in Londen gehou is ter ere van sy 90ste verjaardag.

In 2009 trek hy vir die vierde keer in sy lewe sy kruisie tydens die algemene verkiesing en hierna woon hy die inhuldiging van die verkose president Jacob Zuma by.

Mandela trek sy kruisie tydens die algemene verkiesing in April 2009. Foto: Werner Beukes/SAPA

Hy maak in Julie 2010 sy laaste openbare verskyning toe hy en sy vrou die afsluitingsplegtigheid van die Wêreldbeker-sokkertoernooi bywoon.

Mandela is sedert Januarie 2011 verskeie kere in die hospitaal opgeneem, meestal weens longkwale vanweë die tuberkulose wat hy tydens sy 27 jaar in die tronk opgedoen het. In 2011 lei sy hospitalisering tot groot paniek toe daar vir bykans 32 uur geen amptelike nuus oor sy toestand bekend gemaak word nie. Daar word later bekend gemaak dat hy vir ʼn akute lugweginfeksie behandel is. Die presidensie het hierna openbare skakeling oor Mandela se gesondheid oorgeneem. Tussen 2011 en 2013 word Mandela verskeie kere vir korter en langer tydperke in die hospitaal opgeneem en vir ʼn verskeidenheid kwale en siektes behandel. Dit was vir Suid-Afrikaners duidelik dat die geliefde oud-president se gesondheid besig was om agteruit te gaan.

In sy outobiografie, Long walk to Freedom, sluit Mandela af met die volgende woorde:

“Ek het daardie lang pad na vryheid geloop. Ek het probeer om nie te struikel nie; ek het foute langs die pad gemaak. Maar ek het die geheim ontdek dat jy, nadat jy ʼn groot heuwel uitgeklim het, uitvind daar is nog talle heuwels om te klim. Ek het ‘n oomblik geneem om te rus, om ʼn kykie te steel op die glorieryke vista wat my omring, om terug te kyk na die afstand wat ek afgelê het. Maar ek kan net vir ʼn oomblik rus, want saam met vryheid kom verantwoordelikhede, en ek durf nie talm nie, want my lang pad het nog nie geëindig nie.”

Mandela is op 5 Desember omstreeks 20:50 by sy huis in Houghton, Johannesburg, in die ouderdom van 95 oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae