ʼn Raaisel omhul seun se dood

Jason Kruis. Foto: Via Facebook

ʼn Tienerseun is Dinsdagoggend in ʼn Johannesburgse hospitaal dood nadat hy met ernstige beserings langs ʼn pad aangetref is.

Volgens Alfred, algemene bestuurder van Roadside Boyz wat padbystand bied, was hy kort na middernag eerste op die toneel naby die Malibongwe-afrit op die N1-snelweg in Randburg.

“Ek het verbygery en twee tienerseuns in die veld sien staan wat hul arms swaai. Hulle het verbouereerd gelyk. Ek het stilgehou om ondersoek in te stel,” het Alfred, wat verkies om nie sy van te noem nie, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê die seuns het by hul vriend gestaan wat langs ʼn betonversperring met ʼn erge hoofbesering gelê het.

“Die seuns het verduidelik hulle was op pad na hul huis in Florida in Roodepoort toe ʼn swart Ford Ranger-bakkie, met ʼn onbekende aantal mense in, glo stilgehou en hulle op die bakkie gedwing het om hulle, oënskynlik, ʼn saamrygeleentheid aan te bied. Die bestuurder het daarna teen ʼn vaart weggery en aanhou ry tot op die snelweg.”

Die bestuurder van die bakkie het na bewering gejaag en by die Malibongwe-afrit beheer oor die voertuig verloor. Die bakkie het deur ʼn sloot geploeg waartydens die oorledene glo uit die bakkie geslinger is of uitgespring het. Hy het geval en sy kop het die betonversperring getref. Die ander twee vriende kon glo daarin slaag om ongedeerd uit die bakkie te spring, alvorens die bakkie van die toneel weggejaag het.

Alfred het dadelik ʼn ambulans van ER24 ontbied. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het bevestig ʼn 16-jarige seun is omstreeks 01:00 in ʼn kritieke toestand langs die pad aangetref.

“Sy vriende het naby hom gestaan. Hy is op die toneel behandel voordat hy na ʼn hospitaal gehaas is vir mediese behandeling. Daar was geen teken van die bakkie op die toneel nie.”

Volgens Alfred het een van die seuns sy ouers ontbied wat hulle kom oplaai het. Alfred het Dinsdag die beseerde seun se ma geskakel en is meegedeel dat hy omstreeks 04:00 aan sy beserings beswyk het.

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag vir terugvoer oor wat presies gebeur het en watter sake ondersoek word. Die oorledene is intussen as Jason Kruis in die plaaslike media geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Johann ·

Dis BAD… maar baie vreemd? Manne… asb, julle vriend is dood. Hoop julle praat die waarheid?

voorlaaier ·

Stem saam….Praat die waarheid kerels…..Die storie klink nie lekker nie….

Rudy ·

Baie tragies, hoop hulle spoor die bakkie op…..dalk kameras in die omgewing nagaan?

Kamera ·

Die N1 is deurtrek van kameras soos ons etol rekeninge bewys. Dit behoort baie maklik te wees om op te volg as die etolsisteem samwerk, en as hulle nie saamwerk nie sal ek dadelik ophou betaal.

Johan ·

Ek wil maar net vra ,wat maak jou kind daai tyd van die aand opstraat?

Peet ·

Toe ek daai ouderdom was, was ek en my pella baie daai tyd buite rond gewees, sonder dat ons ouers weet, ouers kan ook nie 24/7 hul kinders dophou nie, daar’s baie maniere om verby hul te kom.

JP ·

Dit kon soveel erger gewees het met al drie seuns wat gesterf het. Ek hoop maar die seuns praat die waarheid. Sterkte aan die seun se ouers. God se genade oor julle.

Jack ·

Ons hoop die vriende kom met die ware storie vorendag. Daar is te veel rondom die gebeure wat nie klop nie

Hans ·

Dit is n baie goeie vraag. Ek is een vir leef jou lewe en moeni bang wees nie. Daar is wel perke in als. 3 jong seuns daai tyd van die aand uit, kon een van die se ouers hul nie opgetel waar hul ookal was nie, dit is nou te sê as die ouers bewus was dat hul op straat is. Ons sal nie weet wat regtig die omstandighede was daardie aand nie. Praat net die waarheid en als sal uitwerk. Leuns bring net meer moeilikheid.

Adele ·

Ek stem saam…..hulle is minderjarig. Wat siek hulle daai tyd van di aand op straat. En di ouers by wie die ander twee gekuier het moes beter toesig gehou het. Jason se ouers moet di storie laat ondersoek….

treurgrond ·

Familie en vriende van Jason Kruis – my hart gaan uit na julle toe.
Laat die waarheid uitkom asseblief.

Ada ·

Dalk was dit ‘n fratsongeluk en die kinders is te bang om te praat?
Hoop die waarheid kom uit en handel dan daarvolgens.
Sterkte aan almal betrokke.

Marie Senekal ·

Mag die 16 jarige jongman se familie en vriende eendag berusting vind. Ek weet dit is moeilik ons familie het al drie jongmans tragies verloor. RANGER BAKKIE BESTUURDER GEE JOUSELF OOR EN HELP DIE GESIN OM BERUSTING TE KRY. Jy skuld hulle dit ten minste

Marie Senekal ·

Mag die 16 jarige jongman se familie en vriende eendag berusting vind. RANGER BAKKIE BESTUURDER GEE JOUSELF OOR EN HELP DIE GESIN OM BERUSTING TE KRY. Jy skuld hulle dit.

Thersia ·

Ek dink die “onbekende man in die bakkie” is ‘n pel van hulle. Iets het verkeerd gegaan en nou probeer hulle die pel beskerm…

JP ·

Stem saam met kommentaar hierbo, die store klink nie lekker. MAAR ONGEAG wat gebeur het, feit bly staan dat ‘n jong lewe hopeloos te vroeg weggeneem is. Die hartseer van die wat agterbly is ondenkbaar. Hoop die waarheid kom uit en dat alle betrokke partye sal vind.

Marinda ·

Sterkte aan sy familie. Dis ñ baie moeilike tyd vir hulle.
Daar is baie kameras op daai pad.

Sputnik ·

Ek stem met jou saam, Thersia. ‘n Wakker speurder kan, as hy sy sout werd is, binne 15 minute by die waarheid uitkom.

Hot ·

Ek nou nir snaaks nie is dit werklike wat gebeur het?Of het die twee vriende met hom baklei

Michelle ·

Ek is nou jammer en jul sal seker nie saam stem nie, maar dis n groot tragedie en dis een van ons eie, harte rou en die kinders verlang na hul vriend. Ek kan nie indink wat die ouers deurgaan nie. Kan ek net vra dat die ouers nie beoordeel word nie hul gaan klaar deur hel, wees asb net menslik.

Michelle ·

Mense ek wil nou nie snaaks klink nie en baie sal nie met my saamstem nie. Hierdie tragedie is so na aan ons harte want hy was een van ons eie. Harte rou, sy maats verlang na hom nie eers te praat van sy ouers wat deur hel gaan nie. Kan ek vra dat sy ouers nie veroordeel word nie, wees asb sensitief want dit kan met enige iemand gebeur. As die hele storie nog nie uitgekom het nie sal dit want die waarheid kom altyd uit.

Lezelle Erasmus ·

So tragies! Baie sterkte vir hierdie jongman se ouers. My hart breek vir julle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.