ʼn Reeks ‘wonderwerke’ na seun (20) se ongeluk

Alwyn Griebenow

Alwyn Griebenow

Die seun van ʼn bekende Oos-Kaapse prokureur veg om sy lewe in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Port Elizabeth, nadat hy verlede week kritieke beserings in ʼn motorongeluk opgedoen het.

Alwyn Griebenow (20), die seun van die bekende prokureur, Alwyn Griebenow sr., word tans in die waakeenheid van die St. George’s-hospitaal behandel.

Alwyn jr. se oom, Bertus Griebenow, het Woensdag aan Maroela Media gesê hoewel Alwyn steeds in ʼn kritieke toestand is, het “ʼn hele paar wonderwerke” reeds sedert die ongeluk gebeur.

Volgens Griebenow was Alwyn laat Donderdagaand saam met ʼn vriend op pad terug van ʼn geleentheid wat deur ʼn wildbewaringsorganisasie aangebied is, toe die ongeluk naby Alexandria buite Port Elizabeth gebeur het. Griebenow het gesê die vermoede is dat Alwyn se vriend agter die stuurwiel aan die slaap geraak het. Alwyn is tydens die ongeluk uit die bakkie geslinger.

“Dit is hier op die ongelukstoneel waar die eerste wonderwerk eintlik al gebeur het,” het hy gesê. “Die vriend het op ʼn manier uit die wrak van die voertuig gekom en na Alwyn gekruip. My broer sê Alwyn het 26m van die bakkie af gelê en die vriend kon hom in die donker sien omdat hy strepe onder sy skoene het wat helder in die donker uitgestaan het.”

Griebenow het gesê ʼn tweede wonderwerk was die feit dat Alwyn se vriend voorheen ʼn noodhulpkursus voltooi het en geweet het hoe om Alwyn op die toneel te resussiteer om sy asemhaling aan die gang te kry. Hy het Alwyn daarna op sy sy gedraai, voordat hy na ʼn nabygeleë plaas gestrompel het om hulp te ontbied.

Alwyn is eers na ʼn hospitaal in Port Alfred gehaas, voordat hy na die St. George’s-hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas is. Dit is nie duidelik hoe ernstig Alwyn se vriend beseer is nie.

Griebenow het gesê Alwyn was in ʼn kritieke toestand en het twee skedelkrake en ʼn breinbesering opgedoen. Sy longfunksie was met sy aankoms by die hospitaal slegs 40%, maar het reeds tot so mate herstel, dat hy nou slegs suurstofondersteuning deur sy neus kry, wat nog ʼn wonderwerk is, sê Griebenow.

Alwyn is aanvanklik onder verdowing gehou en is ook vir longontsteking behandel. “Die verdowing is gister gestaak en ons wag nou dat hy wakker word. Omdat hy ʼn breinbesering opgedoen het, hou sy brein hom basies aan die slaap. Ons hou net aan hoop en glo dat hy sal wakker word. Dit is die volgende wonderwerk wat nou moet gebeur.”

Griebenow het gesê die familie besef, ten spyte van al die wonderwerke, is Alwyn se toestand steeds baie ernstig. “Ons kyk nou net boontoe en hou nie op bid nie. Die Here moet nou ʼn wonderwerk laat gebeur,” het hy gesê.

Hy sê Alwyn, wat tans Megatronika aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) studeer, is ʼn slim student wat baie gewild is onder sy vriende. “Sy vriende is elke dag by die hospitaal en almal stuur boodskappe van ondersteuning en vra hoe dit met hom gaan. My broer kry verskriklik swaar om sy seun so te sien, maar ons weet mense bid letterlik regoor die wêreld vir Alwyn en het gebedskettings gevorm. Ons hou nou vas aan daardie ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

josephine ·

Baie sterkte aan die familie.n Mens kan nie vir God voorskryf om te se wat Hy wanneer MOET doen nie.mag hul vrede by God vind en berus wat ook al gebeur.Hoekom se ek so ek het 2 kinders verloor een op 3 weke en die ander een 24jr.mag die Here hul toevou met Sy liefde en genade.

Jakalas ·

Net vir hom on die ongeluk te oorleef is ‘n wonder werk. Mens oorleef dit nie gewoonlik as hulle uit die kar gegooi word nie. Hy is waarlik ‘n baie gelukkige jong man. Net baie sterkte vir die familie van Alwyn jr.

LS ·

Sal vir hom en sy vriend bid. Sterkte vir die familie en vriende, mag God julle hande styf vashou in hierdie moeilike tyd.

willem venter ·

Ek is dieHere wat jou genees,rapha=vernuwing en genesing,fisies,geestelik en emosioneel,Vrede vir die gesin.

Helene Scott. ·

Baie sterkte. Ons bid vir jul vir baie genade. Die Scotte van Jagersfontein.

Felicity ·

Ek hou julle almal in my gebede. Sterkte en hou vas aan julle geloof. God se Goedheid en Genade is Groot. Vertou op onse Vader.

Rikku ·

Ons sal ook Bid vir volkome herstel. Sterkte aan die Familie in hierdie moeilike tyd.
Ons glo in ‘n God waar alles moontlik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.