‘’n Sagte reus’ – Pedrie Wannenburg só onthou

Argieffoto van Pedrie Wannenburg. (2002)(Foto: PATRICK HERTZOG / AFP)

“Hard soos spykers op die rugbyveld en sag soos jellie van die veld af. ’n Gentle giant.”

Só word die voormalige Springbokrugbyspeler Pedrie Wannenburg onthou nadat hy vroeër die naweek in ’n motorongeluk in die Amerikaanse deelstaat Texas dood is.

“Woorde ontbreek. Ek sukkel om te aanvaar dat Pedrie nie meer met ons is nie,” het ’n familievriend van Pretoria Saterdag op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê. Die vriend ken Wannenburg sedert hul hoërskooldae.

“Hy was ’n lekker ou wat lief was vir sy familie, sy vriende en rugby. Hy het nie verdien om so jonk en in sulke omstandighede te sterf nie.”

Wannenburg is Vrydagmiddag in die ouderdom van 41 dood toe voortvlugtende tieners in ’n motor teen 160 km per uur van agter teen Wannenburg en sy gesin se motor gebots het.

Die tieners het daarna beheer oor die motor verloor, deur die lug oor ’n middelman getrek en nóg ’n motor in die teenoorgestelde rigting getref. Die bestuurder van die motor, vermoedelik 16 jaar oud, het ten tyde van die ongeluk van die owerhede weggejaag nadat hy versuim het om by ’n stopteken stil te hou.

Pedrie en Evette Wannenburg. (Foto: Facebook)

Wannenburg en sy jong seun, Francois, is ná die ongeluk hospitaal toe gevlieg waar die oud-Springbok dood verklaar is. Klein Francois is ernstig beseer.

Wannenburg se vrou, Evette, en dogter, Isabelle, was ook in die motor, maar is nie ernstig beseer nie.

“As daar ’n silwer randjie by hierdie donker aangeleentheid is, is dit dat die res van die gesin die dood vrygespring het,” meen die familievriend.

Wannenburg het tydens sy loopbaan as losvoorspeler 99 keer vir die Blou Bulle en 20 keer vir die Springbokke tussen 2002 en 2007 uitgedraf. Hy het ook vir Ulster, Castres, Oyonnax en Denver Stampede gespeel.

Die Wannenburgs het sowat ses jaar gelede na Texas verhuis waar Wannenburg ’n plaaslike rugbyspan afgerig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.