ʼn Splinternuwe baadjie vir Akademia

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia

Die hoëronderwysinstelling Akademia het Woensdag ʼn nuwe visuele identiteit onthul tydens ʼn glansgeleentheid in Centurion.

Hierdie nuwe visuele identiteit spruit uit die instelling se vernuwende toekomsplanne. Dié planne sluit onder andere in om meer studente toegang tot gehalte onderrig in hul moedertaal te gee, deur meer onderrigmodelle tot die huidige hoëtegnologie-onderrigleermodel te voeg.

Akademia, in sy sewende bestaansjaar, beleef steeds vinnige groei en vooruitgang. “Die onthullingsfunksie is by ons nuwe fasiliteit gehou waarheen die Centurion-sentra in die toekoms sal skuif,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling.

Deeglike navorsing is deur onafhanklike konsultante gedoen as inset tot die ontwikkeling van die nuwe visuele identiteit. Akademia het nuwe kleure aangeneem, naamlik vlootblou en brons, wat onderskeidelik spreek van statigheid en die klassieke. Verder is Akademia se embleem sorgvuldig ontwikkel om die strategiese rigting van die instelling simbolies te ondersteun. Die embleem bestaan uit ʼn A-simbool, ʼn diamant, ʼn olyfkrans en ʼn skild. Die A-simbool verwys eerstens na die A van Akademia en tweedens daarna dat die instelling, nou én in die toekoms, Afrikaanse moedertaalonderrig bied. Die diamant dui daarop dat die instelling deel van die Solidariteit Beweging vorm. Die skild verteenwoordig tradisie en standvastigheid, terwyl die olyfkrans Christenskap simboliseer en na die Griekse tydperk verwys waaruit die klassieke universiteitswese ontstaan het.

Akademia

Hierdie simbole word saamgevat in ʼn sirkel om aan te toon dat die onderskeie elemente nie in isolasie bestaan nie, maar as ʼn eenheid funksioneer. Die Latynse treflyn Ad futurum per fontes (na die toekoms vanuit die bronne) verwys daarna dat Akademia nie die oorsprong van die Westers-Christelike beskawing versaak nie, maar as deel van sy begronding omhels.

“Alhoewel Akademia op die voorpunt van ontwikkeling staan, is daar altyd aspekte wat blywend en onveranderd sal bly. Hierdie konstante aspekte sluit in dat ons as hoëronderwysinstelling daarop toegespits is om afgeronde studente – vakkundig onderrig en in interdissiplinêre samehang opgevoed – aan Afrikaanse gemeenskappe lewer,” meen Visser.

“Akademia is trots op die groei en vooruitgang wat dit bewerkstellig. In die toekoms gaan ons terugkyk na 2018 as een van die opwindendste tydperke wat getuig van hoe vooruitdenkend Akademia is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.