ʼn Splinternuwe baadjie vir die lekkerste nuuswebwerf

Die bekende drie eende teen die muur

Die bekende drie eende teen die muur

As mens ou vriende of familie is, dan stap mens soms sommer so by die kombuisdeur in vir ʼn lekker kuier – dan sien mens nooit wanneer die persoon dalk nuwe gordyne in die voorhuis opgehang het of uiteindelik die drie eende teen die muur afgehaal het of ʼn splinternuwe leerbank aangeskaf het nie.

As ons na ons statistiek kyk, dan sien ons meeste van ons lesers besoek Maroela Media se webwerf sommer so deur die kombuisdeur, of deur die skuifdeur langs die swembad (dis nou as jy sommer ʼn skakel volg van sosiale media af of in ʼn nuusbrief of ʼn skakel wat iemand dalk vir jou aangestuur het) – en dis heeltemal reg so, ons is mos ou vriende.

Vandag nooi ons jou om bietjie by die voordeur in te stap, om te kom kyk hoe lyk ons voorkamer nou by maroelamedia.co.za in jou webblaaier.

maroela-webwerf-nuutOns het al die hoofnuus en jongste nuus saamgegroepeer. Sommige lesers het gekla dat ons sekere nuusgebeure nie dek nie, want hulle kom soek dit soms eers die volgende dag op ons webwerf – dan het die nuusberig, wat die vorige dag al gepubliseer is, al só ver ondertoe geskuif, dat dit nie meer op die tuisblad te sien is nie.

Met die nuwe uitleg kan jy al die nuusgebeure sommer so met die eerste oogopslag sien – want ons wil hê jy moet op hoogte bly van alles waarmee ons besig is!

So, as jy dalk toevallig in die voorkamer beland, dan sal jy verstaan waarom die uitleg nou só lyk. En ons vertrou jy sal sommer vinnig weer jou sit kry in die splinternuwe banke – dit was lankal tyd om daai oues uit te gooi.

Kom loer gerus ook in al die kamers in, blaai gerus bietjie deur die portale, daar is resepte (Koolstoof), die interessantste taalbrokkies (Toetentaal), vermaaknuus (Op die planke), nuus oor tegnologie en motors (Blikslim) en vreemde en eienaardige nuus (Gedoriewaar).

Dis lekker om jou hier by ons te hê. Skink gerus vir jou ʼn koppie boeretroos, sit agteroor en dan kuier ons lekker saam.

Terloops:
Maak dit vir jouself baie maklik om seker te maak jy mis nie iets nie:
• Besoek daagliks ons webwerf
• Teken in op ons daaglikse en weeklikse nuusbrief
• Klik “like” op ons Facebook-blad
• Volg ons op Twitter
Laai ons app af indien jy ʼn iPhone of Android-slimfoon het
• Jy kan selfs op elke werksdag ʼn laatmiddag WhatsApp-boodskap ontvang om seker te maak jy het nie die belangrikste stories van die dag gemis nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carel Du Toit ·

Dankie Maroela Media vir die puik webblad! Dit is vir ons ‘n riem onder die hart om daagliks al die nuutste SA-verwikkelinge te volg op ‘n vars en professionele manier, soos deur julle aangebied! Groete uit ‘n donker (letterlik), yskoue Kanada!

Janie Monsieur ·

Dagsê Carel,

Dankie vir die kommentaar, ons is so bly jy hou daarvan. Lekker lees!

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Griet ·

Hoekom kan ek NOG STEEDS nie Regs-klik op ‘n skakel en dit in ‘n ander vernster(Tab) oopmaak nie.?!?! Ek het vir ‘n ruk lank opgehou om Maroela te lees en eerder die engelse Webwerwe gelees vir daardie rede. Sal maar weer teruggaan na die engels toe….. :-(

Janie Monsieur ·

Dagsê Griet,

Dankie vir jou navraag. Jammer om te hoor van die probleem. Indien jy ‘n rekenaarmuis met ‘n wielietjie in die middel het, kan jy gerus net op die wielietjie klik. Dit sal dan automaties die bladsy in ‘n nuwe venster oopmaak.
Hoop dit help!

Groetnis
Janie nms Maroela Media

Piet Snot ·

Veels geluk met jul nuwe voorkoms.
Persoonlik haat ek dié styl, maar ek weet dis die jongste neiging, en julle moet voorbly, so ek aanvaar dit so.
Welgedaan!

Stem ·

Piet, ek stem saam met jou. Die ou styl was beter. Dit is nou n grooter hassle om al die nuus te lees. Maar ek verstaan ook as julle die site meer wil laat lyk soos die ander “nuus” websites. Sterkte maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.