ʼn Stem is nie ʼn tatoe nie, sê Maimane

By die DA se laaste verkiesingsveldtog voor die munisipale verkiesing op 3 Augustus 2016 (30 Julie 2016) Foto: DA, Facebook

By die DA se laaste verkiesingsveldtog voor die munisipale verkiesing op 3 Augustus 2016 (30 Julie 2016) Foto: DA, Facebook

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Saterdag tydens die party se laaste verkiesingsveldtog in Dobsonville, Soweto, aan ondersteuners gesê as hulle in die verlede vir die ANC gestem het, hoef hulle dit nie weer te doen nie.

Maimane het gesê in ʼn demokrasie hoef mens nie vir altyd lojaal te bly aan een party nie. “ʼn Stem is nie ʼn tatoe nie. Mandela het gewaarsku as die ANC aan jou doen wat apartheid aan jou gedoen het, moet jy aan die ANC doen wat jy aan apartheid gedoen het.”

Hy het gesê die DA kan Madiba se droom realiseer van ʼn vooruitstrewende, verenigde en nie-rassige Suid-Afrika.

“Die dag wat die ANC sy waardes en sy mense verlaat het, het in Desember 2007 aangebreek toe Jacob Zuma as die ANC-president in Polokwane aangewys is. Daardie dag was die einde van Madiba se ANC. ʼn Vreemde, nuwe organisasie, is in sy plek gebore.”

Maimane het gesê ʼn onselfsugtige struggle is vervang met selfsugtige opgaring. “Nie-rassisme is vervang met rasse-politiek. Hartspolitiek is vervang met maagpolitiek.”

Hy het gesê hierdie beweging, wat eens groots was, het geword wat oudpresident Thabo Mbeki ʼn “veragtelike, bloedsuiende en korrupte parasiet” genoem het. “Onder Zuma het die ANC alles geword waarteen dit eers baklei het. ʼn Organisasie wat sorg vir ʼn paar persone ten koste van die menigte.

“In 1994 is ons ʼn beter lewe vir almal belowe, maar al wat ons gekry het, is ʼn beter lewe vir ʼn paar. Die ANC het sy rug gekeer op alles waarvoor Nelson Mandela baklei het. En toe ek besluit het om ʼn ander politieke keuse te maak, het ek dit vir Madiba gedoen,” het Maimane bygevoeg.

“Ons noem hom Tata Madiba want hy was ʼn pa vir ons almal. Elke enkele Suid-Afrikaner – swart, wit, ryk en arm. En hy het waardes oorgedra soos empatie, vergifnis, goedhartigheid, menslikheid, ubuntu. Hy het ons geleer dat ons saam sterker is. Dat ons saam as een nasie met een toekoms voorspoedig kan wees. ʼn Toekoms waar alle Suid-Afrikaners die waardigheid het wat met werkskepping gepaard gaan.

“Hy het ons ook geleer dat vry mense vry moet wees om hul eie keuses te kan maak. Hierdie waardes was vir hom belangriker as partypolitiek. Hy het selfs gewaarsku dat die ANC een dag sy rug op die mense van die land kan keer.”

Maimane het gesê mense voel verraai deur die regering. “Hulle het vir werk en dienste gestem, maar hulle het nog meer werkloosheid en korrupsie gekry. Dit is tyd om aan die ANC te doen wat ons aan die apartheidsregering gedoen het.”

Hy het gesê dit is tyd om op te staan teen die ongeregtigheid. “Ons wil nie bloedvergieting hê nie. Ons wil nie ʼn oorlog hê nie. Ons sal nie mag oorneem deur die loop van ʼn geweer nie, want ons het die mag van ons stem. En soos iemand in ʼn stadium gesê het, “the ballot is more powerful than the bullet”. Ons het ʼn keuse hierdie verkiesing.”

Maimane het gesê Mandela het baklei sodat ons ʼn keuse kan hê. “Hy het sy lewe in die tronk spandeer sodat ons vry kan wees. Ons kan meer korrupsie, meer werkloosheid, meer armoede, meer swak dienslewering kies. Of ons kan stem vir verandering. Verandering wat werk skep, verandering wat korrupsie verhoed. Verandering wat beter dienste lewer aan alle mense van Suid-Afrika. By die DA bou ons ʼn nasie wat vir almal voorspoedig is. Waar ons regeer, verbeter die lewe vir elke burger – swart, wit, ryk en arm. Waar die DA regeer, het ons die laagste werkloosheid in Suid-Afrika.

“Waar ons regeer, is die lewe beter. Maar dit is nog nie goed genoeg nie. Ons weet ons het nog baie werk in baie gemeenskappe, en ek belowe julle – ons sal beter vaar. Ons opposisie sal vir julle baie leuens oor die DA vertel, maar die bewyse van dit waar ons regeer, spreek vanself.

“Kom ons doen dit Woensdag vir Madiba. Kom ons kies ʼn skoon regering. Kom ons kies werkskepping. Kom ons kies dienslewering vir almal. Kom ons kies die verandering wat ons weer vorentoe laat beweeg. Kom ons leef en streef vir vryheid in ons land, Suid-Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

M A ·

En toe vind ek uit dat die swart mense in my gebied moedeloos is met die ANC maar sien ook nie kans om vir die DA of EFF te stem nie. Nou stem hulle glad nie.

Rupert Ashford ·

Want hulle ondersteun eintlik maar nog die ANC en glo die storie oor die voorvadergeeste.

Jcwf ·

Is dit buite die metro’s M A? Daaroor kan ek glad geen inligtings vind nie.

Jcwf ·

Dit lyk of die metro’s van Gauteng en Baai nou DA gaan stem en dit is goeie nuus. Dit beteken dat die amper-eenparty Suid-Afrika ‘n regtige demokrasie kan gaan word. Dis mos die kompetisie tussen partye in ‘n demokrasie wat sorg dat ‘n politikus nie homself op die dag ná die verkiesing tot halfgod kan verklaar en sy kiesers glad kan vergeet nie. Hierdie politieke druk is eintlik belangriker as wat die partye presies is.

Gaan dit al die probleme in een dag oplos? Nee.

Sarie ·

Onselfsugtige struggle se voet. Hoeveel swart en wit mense is gedood in hulle onselfsugtige struggle. As die DA weer eenkeer ‘n boodskap vir my stuur oor klein partytjies wat niks beteken nie dan weet ek nie. As hulle so seker van hulle saak is waarom oor klein partytjies bekommer. Hierdie Maimane is net soos Obama net wind – weet nie hoeveel Zille hom voorsê nie. ‘n Regte poster boy.

verpleegter ·

Aan die wat dit as n heerlike vakansie dag sien. Gaan stem liewer asb. Ek werk n 7-19 op stem dag en sal ongelukkg nie kan gaan stem nie. Sou dink iemand moes na staads amptenare gekyk het op stem dag.

Anti DA ·

Die dag as die DA openlik die omgekeerde apartheid wette teen wit en bruin mense vervang met gelyke regte vir almal en nie wette steun om my taal en kulturele erfenis uit die geskiedenisboeke te haal nie as ek hulle ondersteun

Eliza-beth ·

Klakouse gaan stem tog net. Daar bestaan GEEN party wat almal al die tyd 100% tevrede sal stel nie. Breek die mag van die ANC deur jou stemuit te bring. GOED gestel Mmusi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.