ʼn Strategie vir Afrikaans: Opleiding, relevansie en selfvertroue is kernbelangrik

afrikaanse-taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Tydens ʼn Taalberaad wat op Taaldag, Vrydag 8 Mei deur die FAK aangebied is, het meningsvormers uit verskeie segmente van die Afrikaanse samelewing saam besin oor die toekoms van Afrikaans.

Leiers van die meeste Afrikaanse instansies en talle meningsvormers uit die Afrikaanse taalgemeenskap het die beraad bygewoon.

Die beraad is gekenmerk deur sterk menings en praktiese strategieë met voorstelle wat op ʼn dag-tot-dag-basis geïmplementeer kan word om Afrikaans se toekoms te verseker. Voorstelle het gefokus op hoe Afrikaans as deel van ʼn groter veeltalige samelewing suksesvol kan wees, sonder dat Afrikaans teenoor ander tale gestel word. Al die sprekers het groot klem gelê op die belangrikheid van Afrikaanse opleiding en opvoeding.

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Dagbreek Trust en vorige visekanselier van die NWU, is ondersteuning van Afrikaanse opleiding en opvoeding ʼn sleutelelement in so ʼn strategie. Ouers moet die keuse maak om goeie Afrikaanse skole te ondersteun, het hy gesê, maar terselfdertyd moet daar seker gemaak word dat kinders in dié Afrikaanse skole goeie Engelse onderrig ontvang, sodat hulle gemaklik as Afrikaanssprekendes in ʼn Engels-gedomineerde samelewing kan funksioneer.

Hy het ook klem gelê op die belangrikheid van ondersteuning vir Afrikaanse tersiêre instansies soos die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit, die Universiteit van Stellenbosch en Akademia. Voorts, het hy gesê, moet die Afrikaanse Taalraad ʼn posisie inneem waar dit amptelik die breë Afrikaanse gemeenskap verteenwoordig in skakeling met owerheidsinstansies en waar ʼn raad vir die Afrikaanse gemeenskap oorweeg word.

Prof. Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria wat ʼn politieke strategie vir Afrikaans voorgestel het, het ook die onderwys geïdentifiseer as ʼn area waar ʼn strategie vir Afrikaans sy grondslag moet hê. “Ons kan egter nie alles behou wat ons gehad het nie – ons moet ons energie konsentreer,” het hy gesê. “Ons moet eerder ʼn klompie skole identifiseer wat oor ʼn lang termyn Afrikaans kan bly en hulle ondersteun en versterk, as om almal te probeer behou.”

Hy het ook verwys na die belangrikheid daarvan dat sommige sektore van die Afrikaanse media ontslae raak van hul “polities lamlendige ingesteldheid”. “Afrikanerskap en Afrikaans staan nie die idee van Suid-Afrikanisme en Suid-Afrika teen nie,” het hy gesê. “Die media behoort juis aandag te gee aan burgerlike organisasies in die Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskap wat die regering op sy plek hou.”

Hy het voorgestel dat daar op die lang termyn gekyk word na ʼn Afrikaanse metropool waar Afrikaans die dominante taal is, die “masjienkamer vir Afrikaans, waar Afrikaans nie onder druk is nie en waar jy, soos prof. Jaap Steyn sê, ‘volledig tuis kan wees in eie taal’.”

Henk Schalekamp, wat ʼn ekonomiese strategie vir Afrikaans voorgelê het, het die versekeringsmaatskappy Virseker voorgehou as ʼn model van hoe Afrikaanse maatskappye in ʼn ekonomiese omgewing vir Afrikaans ʼn verskil kan maak.

Afrikaans is ʼn goeie geleentheid om ʼn nismarkstrategie te volg, het hy gesê. Dié nis is lojaal, welaf en opgewonde oor Afrikaans. Voorts is ʼn onderneming wat gekoppel is aan die Afrikaanse saak, soos Virseker gekoppel is aan ʼn trust wat fondse vir Afrikaanse opleiding genereer, ʼn wenresep.

“Wanneer jy die keuse maak om Afrikaans in die sake-omgewing te gebruik, is selfvertroue belangrik,” het hy gesê. “Afrikaans kan haar plek volstaan, maar dit verg selfvertroue en deursettingsvermoë.”

Schalekamp het ook klem gelê op die belangrikheid van die steun van Afrikaanse opleiding, asook steun aan Afrikaanse beroepsliggame soos die Vereniging vir Afrikaanse Regslui en die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers. “Mobiliseer jou professie deur Afrikaans daarin uit te bou,” het hy gesê. “Afrikaans moet in die sakewêreld sy spiere bult en oefen.”

Andries Vrey, voorsitter van die Aardklop-kunstefees, wat ʼn strategie vanuit ʼn kultuurperspektief voorgestel het, het gesê Afrikaanssprekendes moet besef kultuur is nie ʼn stokperdjie nie.

“Afrikaanse feeste het ʼn jaarlikse omset van sowat R200 miljoen,” het hy gesê. “Dis gewone Afrikaanse mense wat geld uithaal en dié feeste bywoon. Tussen hierdie feeste word 98% van alle Afrikaanse kulturele uitsette geproduseer. Die merkwaardigste is egter dat 70% van die kulturele uitsette wat in Suid-Afrika die lig sien en beloon word, vertalings is van Afrikaanse werk wat vir Afrikaanse feeste gedoen is.”

Kultuur moet relevant wees, deur dit byvoorbeeld vir kinders toeganklik te maak en die diversiteit binne die Afrikaanse gemeenskap te erken en te vier, het Vrey gesê. “Ons benadering moenie wees, ‘Afrikaans vir almal’ nie, maar eerder, ‘Afrikaans vir iemand’.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ʼn samevattende strategie aan die beraad voorgelê.

“Alles wat ons aanpak, moet gemeet word aan die impak wat dit sal hê, asook die implementeerbaarheid daarvan,” het hy gesê. Hy het klem gelê daarop dat Afrikaanssprekendes moet gebruik maak van bestaande staatsruimtes waarop Afrikaanssprekende belastingbetalers geregtig is, maar dat hulle ook self gemeenskapsruimtes moet skep deur selfhelporganisasies.

Volgens Buys is die bevordering van onafhanklike Afrikaanse media belangrik in ʼn strategie vir Afrikaans, omdat media enersyds vir gemeenskappe ʼn leefwêreld skep, maar andersyds ʼn “uitstekende vermenigvuldiger van taalinisiatiewe” is. “Taalinisiatiewe, of ‘taalfabrieke’, moet egter nie taalwelsyn pleeg nie,” het hy gesê. “Taalgeld moet hanteer word soos ʼn mens enige ander finansiële belegging sou hanteer.”

Susan Lombaard

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Johannes Comestor ·

Ek verpes dit as na Afrikaans verwys word asof dit vroulik is. Ek is geensins teen vroue gekant nie. Ek hou maar net van korrekte Afrikaans. Taalkundiges in die Afrikaanse Taalraad, soos Wannie Carstens en Anne-Marie Beukes, stel hierdie slegte voorbeeld in ‘n poging om polities korrek te wees en dan word dit deur ander nagevolg.

Asjas ·

Dis irriteer my ook grensloos, soos wanneer iemand se “ons is swanger”. Dit voel net nie reg nie, net soos die idee van Afrikaans as vroulik nie vir my reg voel nie. Ek het ook niks teen vrouens nie hoor.

Andre ·

Veels geluk, Afrikaans! Afrikaans is die milieu waarin ons elke dag opstaan en mee gaan slaap. -dis die menswees en verstand en kommunikasie medium waarin ons volk gemaklik en ontspanne met mekaar kommunikeer(alle media,- selfs Google) op elke vakgebied en intellek. Ek dink Suid-Afrika wat Afrikaanssprekendes is en betref, moet trots voel op hul taal en dit gebruik, soos Engels in die VSA, VK, Australië en Nieu Zeeland en Europa met Duitsers, Franse, Italianers, Spaanse, Portugese en Belge en Nederlanders, –wees trots om jouself gemaklik te kan uitdruk, waar ookal jy in Suid-Afrika of elders is, -selfs Howe. Leef Afrikaans en voel goed daaroor en laat jou familie en gesin en vriende dit geniet en uitleef voorskool, skoolgaande (Primêr en Sêkonder) en Naskool (Tersiêr) dis jou reg en jou paspoort en Grondwetlik is dit daar vir jou. Beskerm dit en geniet dit. Bevorder dit! Anders taaliges se mense sê altyd jy kan dit nie in hul tale uitdruk nie en dis eerder lekker om dit in Afrikaans uit te druk. Dit voel dit het net soveel meer trefkrag. Selfs kultuurgoed of selfs vloekwoorde het trefkrag (met die nodige sensitiwiteit). Die sielkunde en intelligensie bevorder dit en beweer jy het ‘n voorsprong as dit jy dit van moederskoot of selfs in die plasenta al van ouers ontvang of gebruik het. So geniet dit en voel en wees trots daarop Suid-Afrika. Moenie jammer wees daaroor nie. Verkoop en koop dit!!! Amerika het hul land aan die brand gesing, ons kan dit ook doen. O en voor ek vergeet bid in Afrikaans en Bybellees. Afrikaans dis jou en my intellek, verlede, hede en toekoms. Belê in Afrikaans.

AP van Schalkwyk ·

Daar is een manier waarop ons kan verseker dat Afrikaans gehandhaaf word en dit is om daarop aan te dring om in Afrikaans te koop. As ek by n besigheid instap en wil n item koop, moet ons daarop aandring om in oins taal bedien te word, As die persoom by die toonbank jou nie in Afrikaans wil of kan bedien nie, dring daarop aan om n bestturder te sien en as jy dan nog nie gehalp kan word nie , gaan koop die item waar jy dit in Afrikaans kan koop!!! Rand en sent in die verkooplaai is die bron van alle besighede

Casper ·

Dit is belangrik om te besef is dat taal nie die enigste aspek wat hier ter sprake is nie. Dit gaan ook oor persoonlike vryheid vir sekere groep mense wat oor ‘n aantal dinge ‘n gemeenskaplike belang het. Ons wat ons self Afrikaners noem, dink en doen dinge anders as die res van die bevolking in die land wat genoem word Suid Afrika. Ons is in ‘n stryd vir oorlewing wat nog nie vir party Afrikaner mense duidelik is nie. Ja ons moet kan kommunikeer in ander tale soos engels, maar as ons taal verloor, verloor ons wie ons is en ons vryheid. Kinders leer gedrag, sienwyses van ouers , skole , kerke en ouer mense soos hulle opgroei. Word die Afrikaanse skole verander op weg geneem , vernietig dit wie ons is en word ons verswelg in die massas in Suid Afrika wat self nie blyk of hulle weet waarheen hulle op pad is nie. Die rede waarom dit blyk dat hulle ( die ander volkere) in Suid Afrika doelloos blyk is uiteindelik hulle siening van sake wat totaal anders is as die Afrikaner. Hierdie sienswyse wat hulle het is baie moeilik om te verander, en kan baie tyd en energie neem om te probeer verander. Dit is met ander woorde ‘n groep individualistiese mense teenoor ‘n groep wat volgens ander beginsels werk.
Daar is baie planne en gedagtes wat voorgestel word, maar dit is tyd om te begin doen en te verbeter. Meer praktiese stappe sal moet en meer besonderhede van hierdie idees in ‘n gees van samewerking onder mekaar sal moet geskied.
Ons -die Afrikaners -het verskille met mekaar, maar ons moet besef dat as ons nie kan saamwerk met mekaar nie ten spite van verskille nie , gaan daar geen toekoms wees nie en geen hoop vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.