ʼn Suid-Afrika ‘anderkant ras’ – dís die land wat hy help bou

Dr. Dirk Hermann voor die parlementsgebou in Boedapest, Hongarye. (Foto: Solidariteit Beweging)

Toe Dirk Hermann verlede Vrydagaand ʼn vlug van Johannesburg na Frankfurt in Duitsland gehaal het, het hy meer as net maande lange navorsing en twee klagtes oor die regering se “rasmalheid” met hom saamgeneem.

Sy skouers is breed, sê Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, maar dit is eintlik gewone mense se skouers waarop die klagtes rus. En dit is húlle drome vir ʼn beter Suid-Afrika wat hy saamneem op reis na Europa om die internasionale gemeenskap se hulp te vra om die Suid-Afrikaanse regering se rasgedrewe beleid te help stuit.

“Ons vat stories saam. Daar is die feite, maar jy gaan vertel ook ʼn verhaal. Ons gaan vertel die storie van Suid-Afrika. Die Europeërs is geweldig goed ingelig en het baie empatie met Suid-Afrika,” sê Hermann kort voor hy en sy span op die 15 dae lange reis vertrek het.

Maar Europeërs is ook toenemend ontnugter oor die koers wat Suid-Afrika sedert die aanvang van demokrasie ingeslaan het. “Daar is in die wêreld nog ʼn mate van empatie met die ANC, maar dit word al hoe minder,” sê Hermann oor ʼn regering wie se besluite toenemend gekritiseer word.

Hermann sê vuil wasgoed wat in ʼn kas weggebêre word, word nie gewas nie. Dit help dus niemand om Suid-Afrika se probleme tuis onder die mat te probeer invee nie en om hierdie rede wend die organisasie hom ook tot internasionale instellings om die Suid-Afrikaanse regering tot verantwoording te help roep.

Die afvaardiging se besoek behels onder meer die indiening van amptelike klagtes by die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) en die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD). Die span besoek sewe lande in net twee weke en vergader met politici van oor die hele spektrum.

Die organisasie het hom al voorheen tot die internasionale gemeenskap vir hulp gewend, hoewel dit nie juis hond haaraf gemaak het in die ANC-regering se beleidsrigting nie.

Maar Hermann is nie ʼn man wat sommer moed opgee nie. En geduld het hy oënskynlik baie.

“Ek het vier dogters. Ek kan nie moeg word nie. Hierdie is ook hulle plek, hulle wil hier bly.

“Sommige van ons se opdrag is om te verseker dat ons vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan leef en ek gaan daardie opdrag nakom.”

Glo hy werklik dat daar ʼn voorspoedige toekoms vir almal, ook minderheidsgroepe, in Suid-Afrika wag? Hermann huiwer nie ʼn oomblik nie.

“Ek glo absoluut só.”

Elke generasie moet verantwoordelikheid vir sy eie tyd hier aanvaar – en in daardie tyd moet jy doen wat jy moet doen, sê Hermann. Dit is hoekom die Solidariteit Beweging Sol-Tech op die been gebring het. Hoekom hy kan spog met Akademia. Dit is hoekom Helpende Hand gemeenskapsontwikkeling doen en jaarliks duisende mense se lewens help verander. Dit is hoekom die organisasie se veiligheidstrukture in woonbuurte gesien kan word.

Oor die poging om steun by die internasionale gemeenskap te werf teen ʼn ANC-regering wat hom eens op ʼn tyd self as bevrydingsorganisasie op die res van die wêreld beroep het om ʼn einde aan apartheid te help maak, sê Hermann daar kan nie vir ewig op die ongeregtighede van die verlede teruggeval word nie.

“In Suid-Afrika kan jy later begin glo dit wat hier gebeur is reg, maar jy moet ʼn internasionale spieël optel – en dan sien jy dit is nié reg nie.”

Op ʼn vraag oor of daar nie op tuisbodem gewoeker moet word eerder as om in die vreemde na hulp te gaan soek nie, sê Hermann vasbeslote: “ʼn Mens moet die een ding doen en die ander nie nalaat nie.”

Terwyl daar dus internasionaal steun gewerf word, gaan gemeenskapsprojekte op voetsoolvlak voort. Die verhouding tussen mense op grondvlak is boonop veel beter as wat die meeste politici jou sou wou laat glo.

Anderkant ras

Daar is velerlei plekke waar gewone Suid-Afrikaners mekaar vind. Hermann steur hom dus min aan diegene wat die organisasie se werk probeer geringskat deur dit as regs uit te kryt.

“Dit is maklik om die raskaart te speel, maar veldtogte soos hierdie lê die regering se rassisme bloot.

“Ons tree in gesprek met gemeenskappe, nie met rasgemeenskappe nie,” sê Hermann.

“In Suid-Afrika is ons ʼn gemeenskap van gemeenskappe en ons moenie die krag van kulturele energie onderskat nie. Op horisontale vlak is die verhoudings tussen mense baie goed, dit is op vertikale vlak waar dit verswak.”

Baie Suid-Afrikaners het boonop veel met mekaar gemeen, ongeag van watter kleur of kultuurgroep hulle dan nou mag wees. Hermann sê dit is veral danksy konserwatief-sosiale waardes dat mense aanklank by mekaar vind. Geloof. Gesinswaardes. Respek. Dít is waar Suid-Afrikaners mekaar vind.

“Anderkant ras.”

Anders as politieke partye wat eintlik maar een keer elke vyf jaar aan hul kiesers moet verslag doen, besluit die 550 000 betalende ondersteuners van die Solidariteit Beweging se verskillende afdelings elke maand of die organisasie op die regte pad is. Sou hulle dus ontevrede wees met die besluite, stap hulle weg.

“Ons word elke maand getoets,” sê Hermann.

Uiteindelik is die breër Solidariteit Beweging se taak nie om antwoorde te gee nie – en vrae is daar baie – maar om oplossings deur die gemeenskap te fasiliteer, sê Hermann.

“Die krag lê daarin dat die gemeenskap gemobiliseer word. ʼn Mens kan dus die fout maak en sê Solidariteit gaan ʼn klagte indien, maar dit is eintlik die gemeenskap wat dit doen.”

Wanneer Hermann en die span ná 15 dae – en sewe lande later – dus na Suid-Afrika terugkeer, sal dit wees nadat hulle steun gaan werf het vir ʼn droom vir Suid-Afrika wat die res van die wêreld eens op ʼn tyd moed gegee het. ʼn Droom wat die afgelope 27 jaar plek-plek ontspoor het, maar een waaraan mense soos Hermann steeds vas glo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jeff

Solidariteit manne met yster vuise. Hulle en Afriforum is enigste wat iets beteken. VF = praat net doen niks

JM

Bravo! Doen so voort, julle is op die regte pad en word alle sukses toegewens.

Willem

One wens jou alle voorspoed toe, Dirk

Mariana

Alle sukses met hierdie poging.

Ouma

Solidariteit, dankie vir wat julle op alle vlakke, plaaslik en internasionaal vir ons doen!