ʼn Vrou vir die eerste keer in beheer van Kaapse kuslyn

Marian Nieuwoudt saam met Maria Le Roux (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad het vandeesweek vir die eerste keer ʼn vroulike ingenieur verwelkom wat die Kaapse kuslyn sal beskerm en bestuur.

Maria le Roux het vandag vir dié nuwe pos aangemeld wat volgens die stad belangrik is vir die ontwikkeling van innoverende intervensies en strategieë vir die kuslyn. Dié strategieë sal help om op die hoogte te bly van risiko’s soos oorstromings en stranderosie.

Volgens die stad raak hierdie nuwe strategieë al hoe belangriker, veral in die lig van omgewingsuitdagings as gevolg van klimaatsverandering.

“Ons besef die belangrikheid daarvan om die verandering aan die kuslyn doeltreffend te monitor, aan te teken en te verstaan,” het Marian Nieuwoudt, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, gesê.

Marian Nieuwoudt saam met Maria Le Roux (Foto: Verskaf)

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die uitgebreide ondervinding en kennis wat Maria na die stad se kuslynbestuurspan bring. Sy bring omvangryke kennis van ontwerp, projekbeplanning en kus‑infrastruktuur saam met haar.”

Nieuwoudt se kollega, Brenton Heron, het verlede maand begin as die Stad Kaapstad se eerste kus-gebied‑ingenieur. Die span sal saam ʼn stelsel implementeer wat tegniese kennis en innoverende ontwerp bied aan Kaapstad se 307 km lange kuslyn – een van Kaapstad se grootste ekonomiese bates en ʼn toeriste-aantreklikheid.

Saam met dié lang kuslyn kom die bestuur van verskeie seemure, kusprosesse en bootopritte wat aan uiterste see-toestande blootgestel word. Dit sal alles deur die stad se kenners gemonitor word.

“Maria het ʼn holistiese begrip van beide die tegniese en kommersiële kwessies wat Suid-Afrika raak. Sy sal na ons kuslyn omsien en hoe om dit verder vir ekonomiese en sosiale geleenthede te benut, en om dit terselfdertyd te beskerm, veral omdat ons so ʼn stormagtige see het,” het Nieuwoudt gesê.

Le Roux was die eerste vroulike student wat haar meestersgraad in hawe‑ en kusingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch ontvang het en was sedertdien al vir meer as 14 jaar by talle hawe- en kusprojekte betrokke. Oor die afgelope agt jaar het sy ontwerpspanne gelei in talle nasionale én internasionale projekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna Botha ·

Moet asb nie ons in die skande steek soos die lot by bissasa …wat n skande en verleentheid . Sterkte dit gaan n uitdaging wees

Johann cb ·

Hoekom die lelike woord “intervensies” en nie “ingryping” nie?

Abe ·

Johann c b,
Hoekom is een woord noodwendig “lelik”. Beteken dit dat n taal bestaan uit mooi en lelike woorde. Nog nooit daarvan gehoor nie. Intervensie is in elk geval die korrekte woord.

Henk Stander ·

Dagsê Johann. Ek stem met jou saam. Die woord klink erg Engels en is swaar op die oor. ń Taal kan net groeie as dit suiwer geksryf en gepraat word.

Abe ·

Wat n pragtige mens om op trots te wees! n Mens kan haar maar net die grootste sukses en werkstevredenheid in haar nuwe posisie toewens. Uiters belangrike pos vir SA en haar mense en baie goeie nuus vir ons almal.

John ·

Mans gryp in wanneer hulle moet optree en vroue wend hulle tot intervensies wanneer dringende aksies vereis word. Die uiteinde? Raadpleeg ‘n goeie woordeboek.

Lerato ·

Johan cb
Aai tog Johan. Die Boere oorlog is al 118 jaar gelede. Vat ons ‘n woord uit enige taal behalwe Engels is dit okei.
Maar o weë, vat ‘n woord uit Engels, dan is jy ‘n volksvreemde verraaier.

Abe ·

Lerato,
Ek stem saam met jou. Ons het n lewendige, groeiende taal wat homself verryk deur te myn uit die taalrykdom van die wereld. Hoekom nie ook uit die magtige Engels nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.