N1 by Kaapstad gesluit ná vragmotors brand

vragmotors stakings kaping vragvervoer N1 Kaapstad

(Foto: Cape Town FMS/Twitter)

Die N1 by Klipheuwel in Kaapstad was Woensdagoggend vroeg nog gesluit nadat twee vragmotors laat Dinsdagnag op die pad aan die brand gesteek is.

Kenny Africa, hoof van die Wes-Kaapse verkeerspolisie, het motoriste gevra om die R304 wat by die R101 aansluit en dan die R44 te gebruik om op die N1 in die rigting van Worcester te kom terwyl die pad skoongemaak word.

Africa het gesê ʼn Shoprite-vragmotor is Dinsdagaand deur ʼn groep gewapende aanvallers in sewe voertuie gedwing om stil te hou. Die vragmotor se sleutel is verwyder en die bestuurder is nie beseer nie.

Die R300 in die rigting van die N1 is ook gisteraand gesluit nadat ʼn groep mense die vragmotorbestuurder gedwing het om stil te hou en die voertuig aan die brand gesteek het. Die vragmotorbestuurder het gevlug en was ongedeerd. Die pad is vanoggend vir verkeer heropen.

Terwyl verskeie mense in talle stede teen die indiensneming van buitelanders in die vragbedryf betoog het, het die EFF gesê dit is misplaas om die skuld vir werkloosheid in die land op buitelanders te pak.

“Om te eis dat vragmaatskappye Afrikane afdank, bloot op grond van hul nasionaliteit, is om handel op die vasteland en die Suid-Afrikaanse vragmotorbedryf in die gedrang te bring omdat ander lande soortgelyk gaan reageer as Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders hul lande binnegaan,” het Vuyani Pambo, EFF-woordvoerder, gesê.

“Suid-Afrika kan nie oorleef met ʼn vragmotorbedryf wat net binne die land bedryf word of net op Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders staatmaak nie.

“Dit is voorts misplaas om mede-Afrikane die skuld vir werkloosheidsvlakke in Suid-Afrika te gee. Dit kan nie ʼn ander arm mens se skuld wees dat Suid-Afrikaners arm is nie. Die gebrek aan werk in Suid-Afrika is die direkte gevolg van die gebrek aan industrialisering en vaardigheidsontwikkeling deur ʼn regering wat veel eerder wil sien dat Afrikane onder mekaar baklei, as om volhoubare werksgeleenthede te skep.”

Pambo het gesê Suid-Afrikaners moet pres. Cyril Ramaphosa vra watter vrugte sy beleggingsafvaardigings en werkskeppingsberade afgewerp het, eerder as om arm mede-Afrikane die skuld vir werkloosheid te gee. Volgens hom moet die private sektor gepak word omdat hy lae salarisse aan Afrikane betaal en hul desperaatheid vir werk uitbuit.

Die EFF sê die gebrek aan ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika het gelei tot ʼn konsentrasie van ekonomiese bedrywighede in plekke soos Johannesburg, Kaapstad en Durban. “Armoede kan nooit opgelos word deur ʼn vyand te maak van diegene wat arm is nie,” het Pambo gesê.

Hy het gesê kunsmatige grense kan ook nie werksgeleenthede en ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika voorskryf nie.

Die Suid-Afrikaanse regering se nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints), wat die polisie en militêre strukture insluit, het wetstoepassers intussen opdrag gegee om hul gebeurlikheidsplanne in alle provinsies in werking te stel om te verseker planne om vragmotors tot stilstand te dwing word doeltreffend gepolisieer.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die beoogde sluiting van die bedryf is voorafgegaan deur aanvalle op vragmotors op verskeie nasionale paaie en sosialemediaboodskappe waarin gevra word dat die verkeer ontwrig word en plaaslike vragmotors wat deur buitelanders bestuur word, aangeval moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert ·

Die polisie het gister al geweet hulle gaan die trokke brand, waar was hulle?

Stofdonkie ·

Dis mos nou ‘n simpel vraag, almal weet mos waarmee die polisie nou besig is, hulle hou die winkels dop om seker te maak hulle verkoop nie dalk ‘n sigaret aan iemand nie, dis waar hulle was.

Sakkie ·

Ek stem saam met Stofdonkie. Hulle te bang vir die geweld. Slaan toe op sagte teikens.
Pateties……

JohanR ·

Everybody in Capetown knows that Kenny Africa is not the brightest match in the box!

Ansie ·

Die polisie moet net ‘n paar keer skerp ammunisie gebruik en die probleem sal verminder. Daar is egter geen gevolge vir die kwaaddoeners nie en daarom sal hulle aanhou. Die oorgrote meerderheid het waarskynlik nie een lisensies om vragmotors te bestuur nie.

Kokerboom ·

Die Metropolisie asook SAPD se gebeurlikheidsplanne bestaan nie!!!Eienaars van die duur trokke moet eise instel teen Polisie en staat. Nie dat ministers omgee..hul verbruik vryelik belastingbetalers geld!!

Prikkie ·

Nou watter regering nou – Kopdoek? Sy is flippen besig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.