N1 deels oopgestel ná petroltenkwa ontplof

Die petroltenkwa het vroeg Maandagaand aan die brand geraak. (Foto: Verskaf)

Die N1-snelweg naby die Bothalaan-afrit in Centurion is gedeeltelik oopgestel nadat ʼn petroltenkwa Maandagaand hier aan die brand geraak het.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, sê al die bane suidwaarts op die N1 is teen vanoggend weer oopgestel.

Dit terwyl slegs twee bane noordwaarts op die N1 vir verkeer oopgestel is.

“Dit is sodat die opruimingswerk kan voortgaan,” sê hy.

Mabaso het intussen ook meer besonderhede oor die voorval bekend gemaak.

Hy sê die metro se nooddiensdepartement het kort voor 19:00 ʼn oproep ontvang dat ʼn petroltenkwa op die N1 ontplof het.

“Verskeie brandweerdienste en ondersteuningspanne is na die toneel ontbied. Brandbestryders kon van kilometers ver vlamme en rook sien en hulle kon by verskeie geleenthede ontploffings hoor.”

Met die nooddienste se aankoms op die toneel het hulle die petroltenkwa op sy sy en in vlamme gehul aangetref.

Die snelweg is noodgedwonge gesluit terwyl werk daarvan gemaak is om waterafvoerstelsels toe te maak.

Tshwane se nooddiens het twee brandweerwaens, twee watertenkwaens, ʼn brandweer-leervragmotor en verskeie ondersteuningsvoertuie na die toneel gestuur om die brand te help bestry.

Die brand is eindelik met brandbestrydingskuim geblus.

“Menslike oorskot is in die puin van die vragmotor aangetref,” sê Mabaso.

“Dit is vermoedelik die bestuurder wat onherkenbaar verbrand het.”

Die petroltenkwa het sowat 40 000 liter 93-oktaan-petrol vervoer ten tyde van die ongeluk.

Tshwane se nooddiens het die toneel aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig nadat die brand finaal geblus is.

Opruimingswerk duur nog voort en Mabaso maan motoriste om versigtig op die snelweg te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Suzette ·

Wat gaan deesdae aan dat soveel petrol tenkwaens en trokke aan die brand raak? Geen instandhouding en diens van trokke of is dit onbevoegde bestuurders?

JvR ·

Die een genoem in die artikel het op sy sy gele. Hy moes teen masiewe spoed gery het

ronel ·

Onbevoegde, roekelose bestuurders, swak paaie, en geen vrees vir verkeers vervolging is beslis die resep vir n ramp.

Goldy ·

Plofbare voertuie ontplof veral in DA regeerde gebiede, lyk na n baie gevaarlike terrorisme taktiek voor verkiesing of waar DA in spervuur is.

ronel ·

Nee wat, ek dink nogal nie die Japanese Kamakazi integriteit of die ISIS mentaliteit is nou eindlik deel van samestelling van Suid Afrikaners nie. Terrorisme in ons wereld gaan beslis eerder om voordeel trek, nie lewe op offer nie.

Pietertjie ·

Een miljoen Rand se brandstof daarmee heen, meer as R1miljoen se tenkwa daarmee heen, en seker nóg R1miljoen vir ander skade en opruimingswerk. En hoe vinnig het die vragmotor beweeg, en in watter baan het hy beweeg teen die ondergaande son in? Ek wonder maar net…

JvR ·

Ek wonder glad nie. Net dankbaar die trok het nie in n woongebied ingevaar nie. Dan was onskuldiges slagoffers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.