N1, N3 dié naweek gedeeltelik gesluit vir Eskom-werk

Foto: Twitter via @trafficSA.

Gedeeltes van die N1 net buite Pretoria en die N3 naby Hilton in KwaZulu-Natal sal dié naweek vir ʼn paar uur in albei rigtings gesluit word sodat Eskom instandhoudingswerk kan doen.

Die N1 buite Pretoria sal Saterdag van 12:00 tot 16:00 tussen Murrayhill en Hammanskraal in albei rigtings gesluit wees sodat Eskom ʼn kragkabel kan herstel.

Die Bakwena Platinum Corridor-konsessie, wat dele van die N1- en die N4-roete bestuur, het gesê verkeer op die N1 Noord in die rigting van Bela Bela (Warmbad) sal via Murrayhill na die R101 herlei word terwyl verkeer op die N1 Suid in die rigting van Pretoria via Hammanskraal na die R101 herlei sal word.

ʼn Gedeelte van die N3 sal intussen Sondag van 8:00 tot 12:00 in albei rigtings gesluit word. Anita Heyl, woordvoerder van die N3-tolroete, het gesê die sluiting sal naby Hilton tussen die Cedara- en Hilton-wisselaar plaasvind en sal na verwagting erge verkeersvertragings tot gevolg hê.

“Die volledige sluiting word dringend deur Eskom benodig om ʼn hoëspanning-oorhoofse elektriese kabel te installeer. Die sluitings sal van krag bly totdat die installasie suksesvol afgehandel is.”

Volgens Heyl sal ligte voertuie deur Hilton herlei word. Verkeer op die N3 Noord sal via die Hilton-wisselaar herlei word terwyl verkeer op die N3 Suid via die Cedara-wisselaar herlei sal word. “Swaar voertuie sal by die verkeersluitingspunte op die N3-tolroete naby die Cedara-wisselaar (vir suidwaartse verkeer) en by die Hilton-wisselaar (vir noordwaartse verkeer) vertraag word.”

Heyl het gesê hulle is deeglik bewus van die ontwrigting en vertragings wat die sluiting tot gevolg gaan hê. Motoriste is versoek om hul volle samewerking te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.