N1-ongeluk: Oud-mnr. SA se pa ‘n ‘held’, vlugtende booswig glo oorsaak

Die wrak waarin die twee mans vasgekeer was. Foto: Twitter

Die wrak waarin die twee mans vasgekeer was. Foto: Twitter

Adriaan Bergh, ʼn voormalige Mnr. Suid-Afrika, se pa se optrede ná die ernstige ongeluk Donderdag op die N1-snelweg in noorde van Pretoria, het moontlik sy vriend se lewe gered.

Adriaan, wat met die voormalige Mej. Suid-Afrika Melinda Bam getroud is, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy pa, Dewet, is ʼn dokter en het ʼn onderneming op Bela-Bela (Warmbad). Dr. Bergh en sy vriend, Johnny Graham, was in Graham se Land Rover Discovery 4 van Bela-Bela op pad na Pretoria om aan ʼn gholfdag deel te neem toe hulle omstreeks 09:00 van agter teen ʼn swaarvoertuig naby die Sefako Makgathoweg (Zambezi)-afrit gebots het.

Maroela Media het van ooggetuies verneem die polisie het glo ʼn booswig te voet gejaag en dié man het van hulle probeer vlug deur oor die snelweg te hardloop. Die vragmotorbestuurder het glo van die middelste baan na die vinnige baan verwissel en spoed aansienlik verminder in ʼn poging om nie die verdagte raak te ry nie.

’n Ander voertuig het klaarblyklik vinnig voor Graham se voertuig vir die vragmotor uitgeswaai en dit skrams gemis, waarna die Land Rover die vragmotor getref het.

Die verdagte kon daarin slaag om te ontsnap.

Volgens die ooggetuies het dr. Bergh se optrede in die twintig minute wat daarna gevolg het moontlik Graham se lewe gered.

“My pa het vir ons gesê dit was ʼn verskriklike gevoel om só vasgekeer te wees. Hy was in pyn en sy vriend was in pyn. Hy het brandstof geruik en net vir die Here gebid dat die motor nie aan die brand slaan nie,” het Adriaan gesê.

“Johnny se kop het gehang en my pa het gehoor hoe hy sukkel om asem te haal en vermoedelik aan bloed verstik. Hy het met sy regter hand na Johnny gestrek en hom regop gehou sodat sy lugweg kan oopbly en hy kan asem haal. Hy het hom vir sowat 20 minute so opgehou totdat paramedici opgedaag en by hom oorgeneem het.”

Dit het die brandweer byna ’n uur en ’n half geneem om dr. Bergh met meganiese toerusting uit die wrak te sny, terwyl dit omtrent twee uur geneem het om Graham los te kry.

Graham is in ʼn kritieke toestand met ʼn helikopter van Netcare 911 na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem en was teen Vrydag steeds in ʼn koma in die hospitaal se hoësorgeenheid. Dr. Bergh is na dieselfde hospitaal geneem waar hy ook in die hoësorgeenheid behandel word.

“Hy het baie kneusplekke en het sy kop erg gestamp. Sy voorarm, hand, voet en heup is ook gebreek. Maar hy is darem stabiel en ons is baie dankbaar daarvoor.”

Adriaan het gesê die gesin glo, bid en vertrou dat Graham volkome sal herstel. Mirna von Benecke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, het aan Maroela Media bevestig die stasie ondersoek die omstandighede rondom die ongeluk.

Die 19-jarige vragmotorbestuurder is nie beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Debs ·

SWAAR VOERTUIE MOET VAN DIE HOOFWEE VERBAN WORD …. die eienaars het nie geld om die goed padvaardig te hou nie …. dan gaan staan die stuk ding in die middle van die pad en onskuldige mense verongeluk!!!! Kom Metro Polisie waar is julle !!!!!!!!

Dave ·

Debbie, soos die anonieme naamlose watookal aan jou gesê het, jy het half gelees. Doen dit oor. Lees weer. Read again. Begin reg van voor af en lewer weer kommentaar.

Dave ·

Nee Frik en Nix, julle weet nix waarvan julle praat. Debs het bloot buite beheer geraak om die draai en sal weer probeer.

Dave ·

Hoeveel ervaring het ‘n 19jarige swaarvoertuigbestuurder. Dìt is een van die kwessies wat behoort opgevolg te word met verwysing na die eienaar van die onderneming waaraan die lorrie behoort. Verkeer op snelweë is nie van die aard dat gebruik gemaak kan word van goedkoop arbeid. Ervaring behoort in ag geneem te word.

Peet Schabort ·

Daar was die afgelope tyd ‘n aantal soortgelyke ongelukke waar motors agter teen swaar vragmotors gebots het.
Daar behoort ‘n verskil te wees in die oorsake maar dan is daar ook ooreenkomste wat seker oor die algemeen hierdie soort ongelukke voorafgaan en verhoedbaar kon gewees het.
Bepaal jou VOLLE aandag op die pad en wees bewus van verkeer 360° om jou. Dan ook spoed en volgafstand. Vandag se voertuie is van só ‘n aard dat jy maklik té vinnig ry vir die padomstandighede. Ongelukkig het die mens se reaksietyd dieselfde gebly.

Alf ·

Nou van watter aard was gister se voertuie ? Se liewer reguit die voertuie se bestuurders ry te naby aan mekaar

Dave ·

Te naby aan mekaar ja, maar daar is vandag ook heelwat meer voertuie as gister.

Peet Schabort ·

Gister se voertuie Alf is net mooi die teenoorgestelde as vandag se voertuie. Volgafstand is selfverklarend vir diegene wat weet waaroor dit gaan.
Voorgaande is duidelik genoeg gestel en gaan oor hierdie soort ongelukke oor die algemeen en is nie noodwendig van toepassing op een spesifieke insident met al die genoemde redes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.