N1-rowers swaar gestraf

John Fine (links bo), Clifford Matonhori (regs bo), Figos Madisha (links onder),Dennis Hove (regs onder) (Foto: Verskaf)

Die provinsiale polisiehoof in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het die vonnisse verwelkom wat aan ʼn bende rowers opgelê is vir ʼn vlaag gewapende rooftogte op die N1 tussen Limpopo en Gauteng.

Vier van die rowers het verlede week boonop uit aanhouding ontsnap. Drie van hulle, John Fine (36), Clifford Mutonhori (34) en Figos Madisha (34), is Saterdag weer aangekeer nadat hulle verlede Woensdag uit ʼn polisievoertuig op die R101 gespring en laat spaander het.

Benge Frans Baloyi (48) was steeds in aanhouding, terwyl Dennis Hove, wat saam met die ander drie ontsnap het, steeds op vrye voet is.

Die vier wat ontsnap het, moet nog teregstaan op aanklag van ontsnapping uit wettige aanhouding, die roof van ʼn vuurwapen, twee aanklagte van vragmotorkaping en poging tot moord.

Baloyi is Dinsdag 20 jaar tronkstraf in die Mokopane-streekhof opgelê vir vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede en drie aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Fine, Mutonhori en Madisha is gevonnis tot 22 jaar tronkstraf vir vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede en drie aanklagte van die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie. Mutonhori en Fine is bykomend skuldig bevind aan die oortreding van die Immigrasiewet.

Die vier het motoriste wat noodgedwonge op die N1 stilgehou het, geterroriseer en beroof. In ander gevalle het hulle lang spykers op die pad geplaas en motoriste só in ʼn lokval gelei en hulle beroof. Die misdade is sedert 2019 in die polisiëringswyke van Bela-Bela, Modimolle en Mokopane gepleeg.

ʼn Toegewyde span speurders bestaande uit polisiebeamptes van al drie stasies is aangewys om die sake saam te ondersoek. “Hulle speurwerk het vrugte afgewerp toe hulle ʼn deurbraak in die saak gemaak het,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Die soektog na Hove, ʼn Zimbabwiër, duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Hoe meer misdaad, hoe duideliker word die ANC uitgewys as mislukking….te min werk…..

Persheks Adri

Noem julle dit swaar gestraf? Paar jaar dan kry hulle seker parool… Die Zimbabwiër is weg vermoed ek.

Swerwer

O wee, hoe lank gaan hul regtig sit is die ander vraag. Hul word mos vinnig losgelaat op “goeie gedrag” omdat die tronke vol is.

Toy

Hoekom is hulle voete en hande nie oordentlik geboei nie, hulle is seker gehelp om weg te kom.

Grassie

In ‘n saak soos hierdie kan die polisieminister mos nou duidelik sien waaraan die burgers van die land blootgestel word. Nou wonder ek op watter gronde hy vuurwapenbesit vir selfverdediging wil verbied.