N1 staan stil weens betoging oor NaTIS

Verkeer is op die N1-Suid deur betogers ontwrig (Foto: Rob Beezy, Twitter)

Lede van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) is Vrydag na die N1-hoofweg digby die Marlboro-afrit in Johannesburg ontplooi om ʼn groep betogers uitmekaar te jaag. Lede van bestuurskole in Gauteng betoog al van vroegoggend af as deel van ʼn driedaagse betoging teen die nasionale aanlyn verkeersinligtingstelsel (NaTIS), waarop afsprake vir leerling- en bestuurslisensies gemaak kan word.

Die Nasionale Bestuurskoolvereniging van Suid-Afrika het Donderdag ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om nie Vrydag, Maandag en Dinsdag die verkeersdepartemente in die provinsie te besoek nie, aangesien hulle hier gaan betoog in protes teen die NaTIS-stelsel.

Hulle meen die aanlyn stelsel skep agterstande, aangesien besprekings net een keer per week aanlyn gedoen kan word. Gevolglik sukkel hulle om afsprake vir hul leerders te kry.

Betogers by die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) in Centurion (Foto: Driving School Association of South Africa, Facebook)

Die vereniging het op 15 Februarie ʼn memorandum aan die verkeersdepartement oorhandig wat eis dat die besprekingstelsel geskrap moet word. Hulle het die departement sewe dae kans gegee om op hul eise te antwoord, maar volgens die vereniging wag hulle nog vir skriftelike terugvoer.

Wayne Minnaar, woordvoerder van JMPD, sê die groep betogers het vanoggend hul optog by die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) in Centurion afgeskop. Hulle was teen vroeg Vrydagmiddag op pad na die Gautengse verkeerskantoor in die middestad van Johannesburg.

Verkeer op die N1 is teen middagete erg ontwrig deur dié betogers.

Die vereniging beoog om Maandag en Dinsdag alle verkeerstasies landwyd te sluit. Geen bestuurskool mag ten tyde van die optogte met bestuurslesse voortgaan nie.

Van die bestuurders van bestuurskole in Gauteng het verlede week al by verskillende bestuurslisensietoetssentrums (DLTC’s) in die provinsie betoog.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

henndrik ·

Dit is eintlik ‘n goeie ding want daar is al klaar te veel ‘bestuurders’ op die pad wat nie eers ‘n kruiwa behoort te stoot nie so daar is kans dat daar minder van hulle gaan wees vir ‘n rukkie want hulle leer by hierdie mense hoe om te bestuur

Jackie ·

Ongelukkig beïnvloed die swak stelsel almal, goeie bestuurders en swakkes. Dink voor jy kommentaar lewer

Tino ·

Mooi so, hulle moet sommer die liksens agterstand en swak diens ook op die kraag slaan

'n Simpelman ·

Wie probeer hulle flous.
Lees jy sosiale media en ander berigte kla die publiek dat net hulle (bestuurskool) afsprake kan kry.
Jan publiek kry nie slots.

So wie glo ‘n mens

DieKriek ·

Hoekom kan mens dadelik n afspraak kry as jy iemand R120 betaal? As jy self aansukkel neem dit meer as 3 maande.

MAGDA ·

Ek dink dis ‘n fantastiese optog. Ek kan vereenselwig. My kind word oor ‘n maand 18 en ons sukkel al ‘n jaar lank om vir hom ‘n afspraak vir sy leerlinglisensie te boek. Boonop die het Natis nie ‘n aanlynbetaal opsie nie so dit maak dinge net nog moeiliker. Ek hoop iets kom hiervan, want soos dit nou lyk gaan hy sy leerling en bestuurslisensie op dieselfde dag moet doen. Die frustrasie is onbeskryflik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.