N12 eis 7 lewens in drie ongelukke

Die ongelukstoneel. (Foto verskaf)

Motoriste word gemaan om bedag te wees ná sewe mense Donderdagoggend verongeluk het in drie afsonderlike ongelukke op die N12 tussen Emalahleni en Delmas.

Die eerste ongeluk het om 07:30 plaasgevind toe drie persone op slag dood is in ʼn ongeluk waarby 17 voertuie betrokke was. Die oorledene sluit ʼn bestuurder in van een van die sedanmotors en twee passasiers. Een van die passasiers was ʼn tweejarige kind. Altesaam 10 sedanmotors, twee vragmotors, een minibus en vier ligte afleweringsvoertuie was in die ongeluk betrokke.

Drie persone is om 09:00 op dieselfde pad oorlede. Die drie persone is op die toneel dood verklaar. Twee van hulle was vermoedelik buitelandse toeriste. Een van die oorledenes is ʼn Suid-Afrikaanse burger. Die drie persone was van Johannesburg na die Krugerwildtuin op pad toe die ongeluk plaasgevind het. Hulle motor is van voor en agter deur twee vragmotors getref. Dit is nog nie duidelik wat tot die ongeluk aanleiding gegee het nie.

ʼn Bestuurder is in ʼn derde ongeluk dood toe ʼn motor met ʼn bakkie en ʼn sportnutsvoertuig gebots het op die N12 naby Emalahleni. Geen ander beserings is aangemeld nie.

Alhoewel mistige weerstoestande waarskynlik aanleiding gegee het tot die ongelukke, stel die polisie verder ondersoek in.

Gabisile Shabalala, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid en sekuriteit, het haar meegevoel betuig met die families van die oorledenes. Sy wens die pasiënte spoedige beterskap toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris Ws ·

Dis so onnodig.Daai N12 is berug vir mistige toestande maar die verkeersmense doen niks om motoriste te beveilig nie.Die pad moet geblokkeer word en ompaaie gebruik word as daar mis is.Liewers laat en heelhuids as nooit.

lewies ·

ONREG in die omkoopgeld om bestuurslisensies te bekom. Dis een vyande van padveiligheid. Ons moet begin aandring op inligting oor mense wat onwettig agter die stuurwiel sit en in botstsings betrokke is.

Kraai ·

Dit is so sad. Ons is nie eens veilig in ons huise nie, en nou nog op die pad ook nie. Daar is soveel onpadvaardige karre op die pad. In Petit was dit net so gevaarlik. kon nie eens die pad sien 2 meter vanuit my kar nie en die R21 moes ek spoed verlaag na 40KM p/h, en dan kry jy nog karre wat sonder hoofligte ry en geen waarskuwings ligte wat flikker nie. dan praat ek nie eens van die jaagduiwels wat net geen, maar geen geduld het as dit so mistig is nie. Dan stoot my moermeter die hoogte in.

Attie. ·

Chris Ws, in die winter is daar so gereeld mis op die Hoëveld dat jy nie paaie kan sluit waar mis voorkom nie. Die N12 is al donkiejare daar en nou kry die mid die skuld vir die ongelukke. Ek dink bestuurslisensies word te maklik uitgereik. Enige bestuurder weet mos om aanpassings te doen in jou bestuurstyl in digte mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.