N2 gesluit ná trokke bots

Een van die vragmotors wat brand. Foto: Verskaf

ʼn Gedeelte van die N2-snelweg in Mpumalanga is vir verkeer gesluit nadat twee vragmotors wat “gevaarlike goedere” vervoer het Woensdagoggend gebots en aan die brand geslaan het.

Moeti Mmusi, woordvoerder van Mpumalanga se departement vir gemeenskapsveiligheid, het gesê die botsing het op die N2-snelweg naby Sheepmoor, tussen Ermelo en Piet Retief, gebeur.

“Albei vragmotors het ná die botsing aan die brand geslaan. Dit het owerhede genoop om die pad onmiddellik vir verkeer te sluit,” het Mmusi gesê.

Volgens Mmusi kan die polisie en nooddienste nog nie naby die wrakke kom om vas te stel wat die toestand van die insittendes in die vragmotors is nie.

Brigadier Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê sover die polisie kan vasstel, is minstens een persoon dood.

Motoriste word versoek om van alternatiewe roetes gebruik te maak om tussen Ermelo en Piet Retief te reis. Mmusi het gesê die pad sal vir minstens vyf ure lank gesluit wees en sigbaarheid in die omgewing word belemmer.

Dit is nog nie bekend watter goedere of chemikalieë die vragmotors vervoer het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Oom Lokomotief ·

Kinders, lank lank gelede, was daar treine wat op spore geloop het. Hierdie treine het ALLES vervoer, passasiers, motors, goedere, jy noem dit, dit was die ‘Spoorweë’ genoem. In die beginjare was dit die ‘SAS & H’ wat beteken ‘Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens’. Ons het egter ‘modern’ begin raak en om ‘n lang storie kort te maak en ook minder werksgeleenthede is ons waar ons nou is. ‘Minder werksgeleenthede’? Tog nie, want die paaie word stukkend getrap deur hierdie vragmotors en ongelukke het ook toegeneem agv slaggate ens. wat weer werk verskaf aan ‘n kettingreaksie van instansies. Swaarder padverkeer (letterlik swaar en meer) gee ook aanleiding tot ongeduld om by hierdie monsters op ons paaie verby te kom want sien die meeste van ons paaie is nie hiervoor gebou. Daar skyn ook nie ‘n tydsperk te wees vir hierdie vragmotors om NIE op die pad te wees want behoorlike akkommodasie ontbreek langs die pad. Daar is ook nie genoegsame aftrekpunte langs ons paaie vir hierdie vragmotors om af te trek sodat die string voertuie agter kan verbykom voordat hy weer verder beweeg.
Maak dus vrede met die toestand op ons paaie want jy is in Afrika.

Hans ·

Hoe ironies, net vanoggend al die kommentaar gelees oor ongelukke en hoe onverskullig die mense op die paaie is en nou die berig. Mense moet ook net besef dat hul nalatigheid beinvloed soveel ander mense. Kyk nou na die ongeluk, N2 gesluit al die ander mense moet nou ompaaie ry om te kom waar hul wil wees. Dan praat ons nie eens oor als wat in die vorige komentaar geskryf is nie.

Oom Koos ·

Die woord trokke is ‘n anglisisme. Dit kom vanaf die woord trucks in Amerikaanse Engels. Die korrekte Afrikaanse woord is vragmotors.

lolla ·

Ai Oom Koos, dit kan ook n ander “dialek” wees. In stede daarvan om mekaar op kleinlilhede soos spelfoute, sinskonstruksie of dialek aan te vat, kan ons nie maar eerder die boodskap kry en saam staan nie? Ons almal weet wat n trok en n vragmotor is. “Same difference”. Dankie Oom Lokomotief… Het jou kommentaar baie geniet. Hulle kan gerus weer onthou hoekkom spoor vervoer so fantasties was. Baie minder geld op instandhouding van paaie spandeer. Vandag spandeer hul gelde op “pothole” waarskuwing tekens/borde (dialek) … So gepraat, kan ook nie onthou wanneer laas ek n “pothole” teken gesien het nie?! Ivm die berrig, en soos Antjie vermeen, die trokke staan aan die ander kant van hoëweg/snelweg (dialek)… Dis dalk moontlik dat n band gebars het… Onderhoud op die vrag motors glo ek ook nie is op standaard nie.

Jacques le Roux ·

Is die snelweg nie eerder die N4 nie? Die N2 is in die Kaap…

Hans ·

Die N2 Loop kuslangs tot by swaziland dan binne land toe ermelo se rigting. Die berig is reg.

Antjie ·

Dit lyk of die brandende vragmotor aan die verkeerde kant van die pad is! Dit lyk ook asof daar op die bed agter omtrent NIKS was nie! Ek wonder of mense videos van die ongeluk kon neem. Skat dit moes hoogs ontstellend gewees het, veral as die vrag so in die niet verdwyn het weens ontploffing en vuur. Onverantwoordelike bestuurder van so ʼn vrag? Die eienaars sal oor keuse van bestuurder verslag moet doen.

ice ·

@Oom Koos – rêrig? Dankie vir jou bydrae, ek is seker dit sal die probleem oplos. Miskien moet Maroela dit aanstuur vir SANRAL. Ons is nou safe (sorry veilig), want dis nie trokke nie, dis vragmotors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.