N2 in Suid-Kaap ná onrus heropen

Mosselbaai het in 2014 ook onder betogings gebuk gegaan. Foto: @DisFen/Twitter

Die nasionale pad by Mosselbaai is heropen nadat inwoners van ʼn aanliggende township onverwags Maandagoggend vroeg die N2 en ander paaie met brandende buitebande versper het.

Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het vanoggend aan Maroela Media gesê die polisie vermoed die groot aantal inwoners van Kwanonqaba het begin betoog omdat hulle ontevrede is oor dienslewering, “alhoewel ons nog agter die kap van die byl probeer kom. Dit het vanoggend onverwags kop uitgesteek.”

Hy sê die oproer het voor sonop begin toe mense buitebande aan die brand gesteek en op die N2 buite die Suid-Kaapse dorp en elders betoog het. Nadat Kwanonqaba se polisie nie die skare kon bedwing nie, het hulle die hulp van lede van die openbare-ordepolisie ontbied.

Teen 08:00 was die situasie feitlik weer normaal en is die nasionale pad in albei rigtings heropen.

Tot dusver is geen klagtes nog teen die betogers ingedien nie, maar Pojie sê die normale verloop in so ʼn geval is dat die polisie openbare geweldpleging ondersoek. ʼn Video wat die ronde op sosiale media doen, wys hoe brandweermanne ʼn brandende vragmotor blus, vermoedelik by Mosselbaai.

Inwoners van die township het vier jaar gelede ook gewelddadig betoog nadat die munisipaliteit onwettige elektrisiteitsverbindings afgesny het. Destyds het hulle polisievoertuie met klippe bestook en ook buitebande aan die brand gesteek, het Maroela Media berig. Tot 7 000 mense het aan die dae lange betogings deelgeneem.

Pojie sê daar was intussen nog nie weer gewelddadige betogings oor dienslewering nie.

Ratings Afrika, ʼn onafhanklike graderingsagentskap, het Mosselbaai en Swartland (gebaseer op Malmesbury) in April vanjaar aangewys as Suid-Afrika se beste plaaslike owerhede wat finansiële bestendigheid betref.

“Dié hoog aangeskrewe munisipaliteite toon konsekwentheid [in die vyf jaar tot 2017] en het goed gevestigde finansiële beleide,” het die plaaslike koerant Mossel Bay Advertiser toe berig. “Hul begrotings is gegrond op gesonde finansiële strategieë vir die lang termyn.”

Mosselbaai en Swartland is geloof vir hul amptenare se vaardighede, ervaring, finansiële dissipline en die gehalte van die plaaslike owerheid se bestuur onder die kundige bestuur van die plaaslike politieke leierskap.

Ratings Afrika het Mosselbaai uitgesonder as ʼn munisipaliteit wie se finansiële bestuur so kerngesond is dat dit toereikende dienste kan lewer. Die meeste van die land se ander plaaslike owerhede se gradering was volgens die agentskap “skokkend”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

schalk ·

NOG N BEVESTIGING VAN HOOGS INTELEGENTE WESENS .Veels geluk aan die leiers wat hul intellektueke navolgers aanspoor tot sulke opbouende praktyke.Net n voorstel betaal hulle dit is baie moeilike opofferende werk. Veels geluk met werkskeppings pogings doen so voort.Deur af te brand en betoging gaan die land en sy mense verstom staan oor die geweldige inspuiting vir die ekonomie.Onthou tog om die ander skole ook soos Sutherland sin af te brand. Julle is te slim om skool te gaan.Behou dit vir opleiding sentrums vir diefstal,moord,rassime hoergraad opleiding.

Eish ·

Territoriale selfbeskikking.
Die enigste uitweg uit die helhool!

Nico ·

Hierdie spul betaal geen munisipale heffings nie maar verwag dienste wat gratis aan hulle voorsien word. Hulle ry lekker gratis op die rugge van belastingbetalers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.