N3 by Van Reenenspas eindelik oopgestel

Wetstoepassingsowerhede Donderdag op die N3. (Foto: SAPD/Twitter)

Die N3 by Van Reenenspas in KwaZulu-Natal was teen Donderdag laatmiddag eindelik in albei rigtings oopgestel. Die snelweg is ook by Tweedie naby Howick oopgestel.

Die N3-tolkonsessie sê verkeersopeenhopings is ook reeds opgeklaar.

Maroela Media het vroeër vandag berig vragmotorbestuurders van die All Truck Drivers Foundation (ATDF) wat ongelukkig is oor die aanstelling van buitelandse burgers het Donderdag vroegoggend die N3-snelweg by die Van Reenenspas tot stilstand gedwing.

Die Padvragvereniging (RFA) het vroeër vandag in ’n ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa gesê die N3 is vir langer as 24 uur versper.

“Meer as 350 vragmotors in albei rigtings van die N3 word versper terwyl hierdie getal uurliks toeneem. Ons bestuurders (en ander personeel in die vragmotors) is blootgestel aan erge koue, moontlike gewelddadige plundering of ander ernstige aanranding en het nie die middele om dae lank gestrand in ’n vragmotor tussen niks en nêrens te oorleef nie.”

Die N3 was met die uitreik van dié ope brief nog in albei rigtings versper.

Volgens die RFA het ander belangrike roetes soos die N17, N11, N2, R59 en R74 soortgelyke vertragings vandag beleef.

Die vereniging wys daarop dat die ekonomiese uitwerking nie net enorm is nie, maar ook baie van die kleiner operateurs gaan lamlê weens boetes vir laat aflewering, beskadigde goedere, kontrakbreuk en selfs verlies van sakebedrywighede en sodoende werkloosheid.

“Die N3-roete verbind een van die besigste hawens in Afrika met baie lande wat op ’n funksionerende, veilige en doeltreffende deurgang staatmaak. Baie bestuurders reis en deurkruis hierdie roete met swaar vrag.

Vragmotors versper Donderdag die N3. (Foto: SAPD/Twitter)

“Meneer die president, waaroor gaan dit regtig? Anders as in die geval van die ekonomiese sabotasie en grootskaalse vernietiging van Suid-Afrika, is daar ’n duidelike voorneme om te bewys dat die beheer van die land (en sy ekonomie) nou by bendes berus.”

Die RFA doen nou ’n beroep op Ramaphosa om die ministers van polisie, vervoer en verdediging en militêre veterane opdrag te gee om orde te herstel en sy bekommernisse aan te pak.

“Beëindig die sabotasie van die land en sy ekonomie deur die ATDF en hul bondgenote. Maak oop die roetes. Neem die bestuurders wat medepligtig is aan hierdie optrede in hegtenis. Vat die organiseerders van sabotasie, misdadige aktiwiteite en georganiseerde misdaad daadwerklik vas.

“Stel die logistieke deurgange oop.

“Padvragmaatskappye word geteiken, aangeval en verhinder om hul bedrywighede voort te sit deur diegene wat beweer dat buitelandse burgers Suid-Afrikaanse burgers van werksgeleenthede ontneem.

“Dit lei tot die beskadiging en algehele vernietiging van lewens, maatskappye, werksgeleenthede, ekonomiese aktiwiteit, goedere, voertuie, fasiliteite, paaie en buitelandse belegging om goedere deur Suid-Afrika na die res van Afrika te vervoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Catherina ·

My man was vasgekeer in blokade vir URE. Hy is bejaard. Geen kos geen water. Wat van die erg siekes, babas ens? Was bitter koud. Daar gaan n vegadering met trokdrywers gehou word!!!!!! Geen verskoning v Ramaphosa en Mabula nie. My man moes gisteraand by huis gewees het….pad nog lank vir hom…wie gee om. Paai
tog net die trokdrywers..grrrr

Mallie ·

Dis jammer maar ongelukkig waar. Hulle is die mense wat werk en nie strike en toi toi nie en hulle werk vir minder geld.

miche ·

Die feit dat dit ( hierdie anargie op hoofpaaie) wel geduld word vertel vir ons dat die Owerhede eintlik bitter bang is om regtig op te tree omdat hul die volitiele situasie in hierdie land besef…

domheks ·

EN SO REGEER DIE TROKDRYWERS DIE LAND! Ons owerhede te papbroekig om in te tree.

Perdeby ·

Kry die spoorvrag weer aan die gang, dan gaan hierdie probleem baie vinnig opgelos word. Tenminste sal hulle dan nie buitelanders aanstel as treindrywers nie.

Chantel ·

Ek verstaan net nie, wat het dit met die Trokvereniging te doen. Dit is mos die eienaars van die verskillende vervoermaatskappye wat hulle aanstel.

Korrelkop ·

Raak ontslae van die welombekende aanhitser, mal-emma, uit die prentjie sodat dinge kan normaliseer..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.