Die meeste verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn gewelddadige betoging Sondagaand by die Mooirivier-tolplaza op die N3, waartydens 35 vragmotors aan die brand gesteek of beskadig is, is nie aangekla nie.
Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê van die 56 verdagtes wat in hegtenis geneem is, het slegs agt verdagtes Woensdag in die hof verskyn. Volgens Mbhele is die ander verdagtes vrygelaat ná oorlegpleging met die staatsaanklaer weens ʼn tekort aan bewyse teen hulle.
Ses van die agt wat in die hof verskyn het, sal in aanhouding bly tot 7 Mei, terwyl die ander twee, wat minderjarig is, in die sorg van hul ouers vrygelaat is.
Maroela Media het vroeër berig die betoging Sondagaand by die Mooirivier-tolplaza het daartoe gelei dat die snelweg in albei rigtings vir etlike ure gesluit is terwyl die toneel opgeruim en die wrakke van die uitgebrande vragmotors verwyder is. Die betogers het voertuie met klippe bestook, vragmotors aan die brand gesteek en daarna die brandende vragmotors geplunder.
Die betoging was na bewering in protes teen plaaslike maatskappye wat buitelandse vragmotorbestuurders in diens neem. Die omvang van die skade is nog nie bekend nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Dan wonder die polisie nog hoekom gemeenskappe reg in eie hande wil neem. Dis hoekom, misdadigers word heeltyd vrygelaat.
Vryheid sonder verantwoordelikheid vir almal. Laat hulle doen wat hulle wil en dan vrygelaat word in die gees van liberalisme. So sal liberale waardes die einde van die beskawing veroorsaak.
Nou hoekom is ek nie verbaas nie? Crime pays. Dit is nou maar wors.
Is ons nie verbaas nie? Hulle mag mos vragmotors aan die brand steek en plunder!
Indien vuur met vuur beantwoord was sou daar nie twyfel gewees het of hulle skuldig was of nie.