N3-ongelukke: Pad nog vir ure gesluit

[OPVOLG] Die pad is intussen weer in beide rigtings oopgestel vir verkeer. Lees die opvolgberig hier.

Foto: Twitter via @trafficSA.

Die N3 by die Van Reenenspas tussen Harrismith en Ladysmith in KwaZulu-Natal kan moontlik nog vir ure gesluit wees waar owerhede tans steeds op twee verskillende ongelukstonele besig is.

Robert McKenzie, provinsiale woordvoerder van KwaZulu-Natal se nooddienste, het aan Maroela Media gesê die twee ongelukstonele is sowat 2 km uitmekaar geleë.

“By die eerste toneel, waar twee vragmotors in ʼn botsing betrokke was, is een persoon dood. By die tweede toneel was daar agt voertuie betrokke en is daar twee mense dood – ʼn  vrou en ʼn ses maande oue baba,” het McKenzie gesê.

Zinhle Mngomezulu, provinsiale verkeerswoordvoerder van KwaZulu-Natal, het aan Maroela Media gesê by die agt-voertuig-botsing was daar vier vragmotors, drie minibusse en een sportnutsvoertuig betrokke.

Anita Heyl, woordvoerder van die N3-tolkonsessie, het gesê die twee ongelukstonele veroorsaak erge verkeersopeenhopings. Sy het ook gesê daar is in die stadium ʼn vier kilometer lange dieselstorting op dié pad.

McKenzie het gesê dit is onduidelik of die storting die oorsaak van die ongeluk was of slegs as gevolg daarvan.

Heyl en McKenzie het gesê daar is opruim- en skoonmaakoperasies onderweg, maar dat dit na beraming ure lank sal voortgaan.

“Die N3-tolkonsessie raai motoriste sterk aan om óf hul reise uit te stel óf gebruik te maak van die R74 (Oliviershoekpas) as alternatiewe roete,” het Heyl gesê.

Con Roux, die N3-tolkonsessie se kommersiële bestuurder, het motoriste aangeraai om versigtig te bestuur aangesien nat weerstoestande ook op die roetes ervaar word.

Foto: Twitter via @trafficSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Louwrens ·

Ons het te veel trokke op ons paaie agv ons spoorweg wat nie meer bestaan nie, meeste van die goedere kon op treine gegaan het as ons n werkende spoorweg gehad het. Dis dalk tyd dat trokke se beweging beperk word maw mag nie in vakansies sekere paaie gebruik nie en mag net tussen sekere ure beweeg. Glo egter die probleem sal nie aangespreek word nie.

Loure ·

My vakansie en jou vakansie verskil, dan gaan die trokke nooit mag ry nie. Sien BAIE motoriste wat wille kanse vat om trokke verby te steek want die mensdom het te ongeduldig geraak.

Abri ·

Wanneer gaan ‘n lewe in die land vir die staat belangrik genoeg wees om die trokke oor naweke en oor vakansie tye van die pad te verwyder en die spoorvrag stelsel in werking stel. Maar ongelukke is soos misdaad ‘n groot bron van inkomste vir die staat.

Louri ·

Dan moet elke Ford,BMW, Merc ens wat al ooit in n ongeluk was, ook verwyder word van die paaie af oor naweke en “vakansietye”, my vakansie is middel maart, gaan ek ook kan aandring dat die trokke verwyder word?

Rooiman ·

Ek wonder hoeveel van die mense wat daar staan gaan die berig lees en weet dat hulle nog vir ure gaan staan? Dalk moet MM vir hulle whatsapp-intekenare n boodskap stuur en hulle aanbeveel om ander roetes te ry? As daar 100 mense is wat daar sit en die boodskap kry en ander planne kan maak, sal dit net die situasie verlig. Maar net n gedagte?

Bielie ·

As jy Whatsapp het , het jy Google ook. Die mense wat daar rondstaan is nooddenste.

Risa ·

So jy moedig dit aan dat bestuurders hulle fone kyk terwyl hulle agter die wiel sit? Maak nie saak of jy stil staan nie, as jy agter die wiel is, bere daai ding ver. Mense wat tik en bestuur hoort in ongelukke op hul eie.

susan ·

Rooiman, ek is doodseker hulle motors het radio’s in wat hulle van die situasie sal inlig :-)

Lena ·

Stem saam, Louwrens, Abri. Oral AL HOE MEER swaarvoertuie betrokke in ernstige pad-ongelukke. Hoekom?

Gerrie ·

Die wat kla oor vragmotors op die pad – hul verrig ‘n ekonomiese funksie – teenoorgestelde van vakansie. (Ja die toestand van die voertuie en gehalte van die bestuurder … te algemene stelling … dis ‘n ander onderwerp vir ‘n ander dag)

Mens se vakansie begin tuis, die trek na die vakansie bestemming is deel van die vakansie, dus…

Wees versigtig. Wees geduldig.

NS: Vragmotor (‘ n trein het trokke)

Sê maar net... ·

As mense wat voertuie bestuur meer respek vir trokke het sal dit ook beter gaan. Ja, ek stem, soms is dit die trok se skuld of die trok drywer ry roekeloos, maar net so ander voertuie want die mense kan nie by n spoed grens van 100 of 120km n uur bly nie. N trok met n vrag het baie meer afstand nodig as n voertuig om tot stilstand te kom, so as almal taxi’s, voertuie en trokke net die padreels gehoorsaam sal dit al baie beter gaan. . . . . .

Se maar net ·

Ek stem dat die ongelukke baie meer word op ons paaie en daar is soveel redes vir dit. . . . Slegte paaie, drywers van voertuie en trokke wat ongeduldig raak en nie by die reels en spoedgrens hou nie. Als is nie net een se skuld nie… As ons almal eerlik sal ons kan se dat ons al gesien het hoe mense met kinders in die voertuie op blinde hoogtes n ander voertuig of trok verby vat omdat hul nie net kan wag nie, maar net so het ons al gesien as n trok dit doen ook….. So as ons almal net die reels begin respekteer sal dit al klaar beter gaan en as die regering ons paaie instand hou…..

Annie ·

Ons het 2 weke teruggekeer van ons vakansie by die kus en waaroor ek stom is, is die groot hoeveelheid trokke wat nie by die padreels hou nie. Duidelik word daar aangedui, veral by van Reenen, dat geen trokke mekaar daar mag verbysteek nie, maar dit het telkens voorgekom, met die gevolg dat al die vinniger verkeer vir kilometers agter hulle vasgekeer is, want hulle kan net nie verbygesteek kry nie!!

Dit was werklik ‘n frustrasie en dan praat ek nie eers van trokke wat se remligte ens. nie werk nie!!

Verkeersreels geld mos vir almal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.