N4 deels gesluit ná kragtorings omval

Die N4 by Simon Vermooten en Solomon Mahlangu is gesluit nadat kragtorings op die snelweg geval het. (Foto: Pro Med EMS)

Groot dele van Pretoria was teen Maandagoggend nog sonder elektrisiteit nadat kragtorings, met hoogspanningskabels oor die N4-snelweg, Sondagaand op die snelweg neergestort het. Dit het ook verskeie botsings tot gevolg gehad.

Die Tshwane-metro het op Twitter gesê die voorval versper verkeer in albei rigtings tussen die Solomon Mahlangu- en Simon Vermooten-afrit. Die pad sal voorlopig gesluit wees.

ʼn Voorlopige assessering dui daarop dat minstens ses kragdraadstrukture omgeval en erg beskadig is. Dit is nog nie duidelik wat presies tot die voorval gelei het nie, maar ʼn donderstorm in die gebied Sondagaand het vermoedelik daartoe bygedra.

Die kragdrade verbind Eskom se Njala-substasie met Waltloo in Pretoria. Die Pumulani-, Pyramid-, Koedoespoort-, Waltloo-, Mamelodi 1-3-, Heartherley-, Mooikloof- en Wapadrand-hoogspanningsubstasie sal elk gevolglik af bly, wat beteken dat ʼn groot aantal inwoners sonder krag sit.

Die N4 by Simon Vermooten en Solomon Mahlangu is gesluit nadat kragtorings op die snelweg geval het. (Foto: Pro Med EMS)

Gure weer het die metro verhoed om Sondagaand verder aandag aan die voorval te skenk, en spanne sal Maandag weer bymekaarkom en planne beraam om die N4 oop te stel. Die omkeertyd vir herstelwerk is egter nog nie vasgestel nie.

Volgens die nooddiens Pro Med EMS het die voorval ook tot chaos en ongelukke op die pad gelei, waaronder twee botsings waarby vragmotors betrokke was.

Die voorval het ook tot verskeie botsings gelei. Twee mense het matige beserings opgedoen. (Foto: Pro Med EMS)

Pro Med EMS is Sondagaand na dié toneel ontbied ná berigte van ʼn motorongeluk op die N4.

Dit was by hul aankoms op die toneel dat hulle die kragdraadstrukture oor die pad aangetref het.

“Kragkabels het baie laag oor die snelweg gehang wat tot ʼn botsing tussen verskeie voertuie gelei het,” het Pro Med EMS Sondagaand op Facebook gesê.

Twee mense het matige beserings opgedoen en is Sondagaand na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer.

Die N4 by Simon Vermooten en Solomon Mahlangu is gesluit nadat kragtorings op die snelweg geval het. (Foto: Pro Med EMS)

 

Die N4 by Simon Vermooten en Solomon Mahlangu is gesluit nadat kragtorings op die snelweg geval het. (Foto: Pro Med EMS)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Vir hoe lank staan die kragpale daar en storm nog nooit dat 1 omwaai nie klink nie reg nie dink is seker sabotasie iemand sou seker die kragpaal opsaag en vir scrap verkoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.