N4 eis 7 in twee dae

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Drie mense, onder wie ’n ses maande oue baba, is Maandagoggend in ’n trompop botsing op die N4 buite Rustenburg in Noordwes dood. Dit terwyl nog vier mense sowat ’n dag gelede op dieselfde pad verongeluk het.

Meer inligting rakende vanoggend se ongeluk is nie in dié stadium bekend gemaak nie. Die N4 was Maandagoggend nog gesluit en verkeer is via alternatiewe roetes herlei.

’n Motorongeluk op dieselfde pad het Saterdagaand die lewens van vier mense geëis.

Dié ongeluk het op die N4 tussen die Rustenburg Mall en die Kroondal-afrit plaasgevind.

Sello Lehari, LUR van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur in Noordwes, het intussen gesê drie motors was in Saterdagaand se botsing betrokke. Twee van die slagoffers was in ’n motorwrak vasgekeer en het op die toneel aan hul beserings beswyk.

Die ander twee motoriste, wat in afsonderlike motors gereis het, is dood nadat hulle na die hospitaal vervoer is.

“Nuus van hierdie aard breek altyd my hart. Ek kan my nie indink hoe hul gesinne moet voel nie. Ek bid dat hulle versterk sal word in hierdie moeilike tyd,” het die LUR gesê.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag wat albei voorvalle betref.

Lehari doen intussen ’n beroep op motoriste om die padreëls te gehoorsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Die mense het ‘n saak met padreëls en daar is ‘n horde onpadwaardige en ongelisensieërde voertuie op ons paaie.

Miskruier ·

Hoeveel bestuur sonder die wettige opleiding, n kode 10 is nie voldoende vir n vinnige voertuig teen hoë spoed nie.

Racheltjie Debeer ·

Miskien moet die agbare LUR seker maak dat behoorlik opgeleide verkeerspolisie sigbaar is op die hoofweë van die land en dat hulle die wet afdwing op die wettelose bestuurders. Dit geld ook vir die stede. Verkeerspolisie skitter in hul afwesigheid en waar hul wel opgemerk word, sit hul meestal net in hul voertuie en doen so te sê niks.

Juan ·

Daai pad is die probleem. Hopeloos te veel voertuie vir die pad. maak di pad dubbel soos die res van die N4. Het al vergeet heoveel lewens daai stuk van die N4 gevat het die laaste 20 jaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.