N4-snelweg weer oop ná kragtorings omval

Taakspanne van die Tshwane-metro besig met herstelwerk nadat kragtorings op die N4-snelweg in Pretoria geval het. (Foto: Twitter / Selby Bokaba)

Die N4-snelweg (oos) is teen Maandag 16:15 weer vir verkeer oopgestel nadat hoogspanningskragdrade van dié snelweg verwyder is.

Grootskaalse skade is aangerig toe verskeie kragtorings Sondagaand op die snelweg geval het. Die pad was tot Maandagmiddag by die Simon Vermooten- en Solomon Mahlangu-afrit gesluit. Die voorval het ook meer as 30 gebiede in die Tshwane-metro sonder krag gelaat, waaronder woonbuurte in Pretoria-Oos, Pretoria-Noord en Centurion. Dit is nog nie duidelik wanneer kragtoevoer herstel sal word nie.

Volgens Cilliers Brink, Tshwane se burgemeester, het 300 MW elektrisiteit weens die enorme skade aan die torings en kragkabels in die slag gebly.

In ʼn video wat Maandagmiddag op Twitter gedeel is, sê Brink dat hy reeds met die operasionele bestuurder van die Tshwane-metro en die hoof van elektrisiteit vergader het.

Herstelwerk sal glo volgens “mylpale” aangepak word, waarvan die eerste een was om die N4 weer oop te stel en die hoogspanningskabels van die pad te lig en op strukture te plaas.

Brink sê die stad gaan die bystand van Eskom vir die herstelwerk benodig – onder meer rakende toerusting en kundigheid.

Hy meen dis “van nasionale belang dat hierdie probleem so gou moontlik opgelos word”.

Brink het vroeër reeds gesê dat herhaalde plundering en vandalisme moontlik die oorsaak van die voorval kon wees, en het Maandagmiddag bevestig dat drie van die omgevalle kragtorings inderdaad beskadig was.

“Daar is dus sterk aanduidings dat misdaad ʼn groot rol in hierdie gebeurtenis gespeel het, en dis waarom die Tshwane-metropolisie nou by die operasie ingespan is om te verseker dat verdere misdadigheid nie plaasvind nie.”

ʼn Foto van ʼn Twitter-inskrywing met ʼn foto van ʼn beskadigde kragtoring wat in Oktober verlede jaar op Twitter gedeel is, word tans wyd op sosiale media gedeel. In dié inskrywing waarsku die gebruiker die Tshwane-metro dat die kragtoring langs die N4 by die Solomon Mahlangu-afrit beskadig is en gaan omval.

Brink sê hy is bewus van die plasing en dat die metro ondersoek sal instel, hoewel daar in dié stadium geen aanduiding is of die kragtoring op die foto wel een van die kragtorings is wat nou omgeval het nie.

“Wat ook nou van groot belang is, is dat die stad alle kragtorings ondersoek en dat die polisie en Tshwane, asook die res van die land daadwerklike stappe doen om te verseker dat verdere misdadigheid nie plaasvind nie.”

Die voorval het die volgende gebiede sonder krag gelaat:

  • Leeuwfontein
  • Sable Hills
  • Glenway Estate
  • Baviaanspoort-tronk
  • Kameeldrift
  • Derdepoort (Zambezi Manor)
  • Pumulani
  • Mamelodi
  • Roodeplaat
  • Waltloo
  • Silverton
  • Silver Lakes
  • Faerie Glen
  • Equestria
  • Mooikloof
  • Doornpoort
  • Waterval
  • Grootvlei-Oos
  • Grootvlei-Wes
  • Bultfontein
  • Rooiwal
  • Vastfontein
  • Lyttelton
  • Die Hoewes
  • Moregloed
  • Waverley
  • Kilderpark
  • Eersterust
  • Queenswood
  • Bergtuin
  • Koedoespoort
  • Montana Tuine
  • Gedeelte van Moreletapark
  • Garsfontein
  • Woodhill
  • Woodlands
  • Pretoriuspark
  • Montana
  • Sinoville

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eugene ·

Mnr brink, jys n’ yster. Gedurende n’ lang naweek, onderbreuk jy jou Rus om aandag te gee aan n’ situasies wat veroorsaak is deur vandelisme en die ramp-phosa regering. Jys n’ burgermeester duisend. Meer van jou kaliber is nodig.

George ·

soos dit van hom verwag word. Dis letterlik deel van sy werk. Dankie, dat jy jou werk doen.

Realis Thailand ·

My kommentaar weer verwyder
Dit kan net een lot mense se werk wees en dit is die meelopers van die anc want die lot is kriminele

JohanR ·

Hoop hierdie is net ‘n aanwyser van wat met die ANC gaan gebeur in 2024.

Jan ·

Hoekom noem mense nie hierdie vandalisme nie op sy naam nie? Dit is suiwer TERRORISME per definisie. DERTIG woongebiede sonder krag!!!! Hierdie mafia moet gesoek word sonder om ‘n steen onaangeroer te laat. Hulle moet lewnslank toegesluit word soos in die ou tyd, maar hulle het seker ook ANC konneksies soos by Eskom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.