N4: Vyf sterf nadat BMW boom tref

(Argieffoto: Departement van gesondheid: Mpumalanga)

Die dodetal ná ʼn ongeluk op die N4-tolpad naby Mbombela in Mpumalanga het tot vyf gestyg.

Moetie Mmusi, woordvoerder van die provinsie se departement van gemeenskapsveiligheid, sê die bestuurder van ʼn BMW het Vrydag omstreeks 19:30 naby Elandshoek oënskynlik beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn boom gebots.

“Vier van die slagoffers, drie mans en ʼn vrou, is op die toneel dood.”

Lewenskake moes gebruik word om die liggame uit die voertuig, wat in die rigting van Mbombela gery het, te haal.

ʼn Passasier is in ʼn bedenklike toestand na ʼn hospitaal in Mbombela gehaas, maar het daar gesterf, sê Mmusi.

“Hoewel die ongeluk nog ondersoek word, word daar vermoed dat die voertuig gery het teen ʼn snelheid wat nie gepas was vir die toestande op die pad nie.”

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het weereens ʼn beroep op mense gedoen om waaksaam op die pad te bly.

“Ons het meer verantwoordelikheid op die pad nodig omdat die neiging van dodelike ongelukke oor naweke, en veral snags, kommerwekkend is. Motoriste moet die boodskap hoor en te alle tye met groter sorg bestuur,” sê Shongwe.

Hy het ook sy medelye met die slagoffers betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elizabeth

Te laat om om te draai. Wetteloosheid op paaie is toegelaat en lisensies is gekoop en selde kan hulle n padteken lees. Daar word ook vrylik alkohol verbruik terwyl daar bestuur word. Kry vir julle.

Wielspore

Hierdie gedeelte van die pad is ‘n 80km/h sone en die bestuurder het nie by die padreels gehou en die duurste prys betaal. Die N4 verbind ons met Nelspruit en die afgelope 25 jaar wat ons hier bly verkies ons eerder die alternatiewe roete via Kaapsehoop reeds oor bestuurders wat jaag en op sperstrepe verbysteek.

Duck

Ja wat, ek werk in Atlantis en daar is ‘n pad tussen bloekom bome, die ou Darling pad, die manne “gooi” daardeur en ‘n hele paar in my 12 jaar wat ek die pad ry, het ‘n met bome baklei, onnodig om te sè, hul het tweede gekom. Die beperking is 90 km/h daar, maar ek glo hul vat nou nie juis dit komptoe nie, of te wel, het dit nie koptoe gevat nie.

Yvonne

Duur prys om te betaal vir n jaagtog

Leatitia

Baie hartseer